Werkgroep moet waterprobleem in Tshwane oplos

(Foto: Andres Siimon / Unsplash)

Die Stad Tshwane word nou deur die hof verplig om spoedig ʼn begroting goed te keur om die gebrek aan watertoevoer in dele van Hammanskraal en Vastfontein te beëindig, ʼn probleem wat vererger is deur raadslede se onvermoë om ʼn nuwe burgemeester aan te wys.

Inwoners het vroeg in Maart ʼn dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om die stad te verplig om drinkwater aan inwoners te verskaf, nadat die metro skielik opgehou het om watertenks na die gebied te stuur. Die probleem het ontstaan kort nadat Randall Williams, voormalige Tshwane-burgemeester, uit sy pos bedank het.

Inwoners is afhanklik van watertenks aangesien die Rooiwal-rioolaanleg al jare lank nie in stand gehou word nie. Die tekort aan water het ʼn wesenlike invloed op veral boere in die omgewing, wat afhanklik is van die watertenks om hul diere water te gee.

ʼn Tussentydse bevel is op 3 Maart toegestaan, waarvolgens die metro gedwing is om watertenks aan inwoners te verskaf. Dié water is egter steeds nie genoeg om aan al die inwoners se behoeftes te voldoen nie, sê adv. Hendrik van Staden, wat die inwoners verteenwoordig.

Die kontrak met die verskaffers van watertenks het einde Februarie verval en omdat ʼn nuwe burgemeester nou nog nie aangestel is nie, kon die begroting en aanstelling van ʼn nuwe kontrakteur nog nie goedgekeur word nie.

“Dít is ʼn voorbeeld van hoe politieke speletjies ʼn werklike invloed op inwoners se lewe het,” het Van Staden gesê. “Dit is ongelukkig nie meer soos in die ou dae toe gewone mense in die raad gedien en saamgewerk het in die beste belang van die inwoners nie.”

Die hof het die partye gevolglik Vrydag beveel om ʼn watervoorsieningswerkgroep op die been te bring, wat nie later as 28 Maart oor die kwessie moet byeenkom nie. Volgens Van Staden moet lede van die werkgroep voor daardie datum vasstel hoeveel mense en diere in die gebied water benodig en hoeveel water voldoende sal wees om aan hul behoeftes te voldoen. Dit was volgens Van Staden tot dusver moeilik om te bepaal.

Die werkgroep moet onder meer bestaan uit lede van die departemente water en sanitasie, behuising en menslike nedersetting, die tesourie en die departement van groepregs- en sekretariaatdienste. Die respondente, onder wie Theuns Vogel, ʼn boer in die omgewing, moet ook deel vorm van die werkgroep.

Die munisipaliteit het dan tot 28 Junie om ʼn begroting goed te keur om voldoende watervoorsiening aan die geraakte gebiede te verseker.

Die verkiesing van ʼn nuwe burgemeester is Woensdag vir ʼn tweede keer uitgestel en die verkiesing sal nou hopelik Dinsdag tydens ʼn spesiale raadsitting plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.