Zuma se dagvaarding ongeldig – regspan

President Cyril Ramaphosa lewer die ANC se politieke verslag tydens die party se 55ste verkiesingskonferensie by Nasrec. (Foto: LUCA SOLA / AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa se regspan het Saterdag ʼn brief aan oudpres. Jacob Zuma beteken, waarin hulle eis dat hy die dagvaarding teen Ramaphosa terugtrek.

Luidens die brief is die dagvaarding ongeldig en ʼn “misbruik van proses”, aangesien dit nie gepaardgaan met ʼn nolle prosequi-sertifikaat nie, wat aandui dat die Nasionale Vervolgingsgesag onderneem om nie te vervolg nie. “Die sertifikaat wat by die dagvaarding ingesluit is, bevat nie die president se naam nie, net dié van William John Downer en het dus niks met die president te doen nie,” lui die brief.

“Die dagvaarding is ʼn gruwelike misbruik van proses en oortree verskeie elemente van die Strafproseswet en moet daarom geïgnoreer word.”

Luidens die brief moes die dagvaarding ook eerder aan die president se kantoor, en nie aan hom as individu, beteken word nie. “Die manier waarop die dagvaarding uitgereik is, dui op ʼn alternatiewe motief as om bloot toe te sien dat reg en geregtigheid geskied. Die dagvaarding is op die vooraand van die ANC se presidensiële verkiesing uitgereik. Dit wil dus voorkom of die dagvaarding uitgereik is in ʼn poging om Ramaphosa te keer om weer as president van die ANC te staan.”

Die Jacob Zuma-stigting het Donderdagaand, op die vooraand van die ANC se presidensiële verkiesing, aangekondig dat hy Ramaphosa privaat gaan vervolg, glo vir sy aandeel in die “misdade wat deur adv. Billy Downer gepleeg is”. Volgens die stigting sal die saak op 19 Januarie in die Johannesburgse hooggeregshof voorkom.

Ramaphosa se regsverteenwoordigers eis egter nou dat Zuma die dagvaarding teen die president onttrek. Volgens Ramaphosa se regsverteenwoordigers mag hy ook op geen manier benadeel of sy regte ingeperk word weens die “ongeldige” dagvaarding nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.