19 dood ná Tanzanië-vliegongeluk

Die vliegtuig se een vlerk steek by die water uit (Foto:
NTV Kenya, Twitter)

Altesaam 19 mense is dood nadat ’n vliegtuig Sondag in die Victoriameer in Tanzanië neergestort het.

Die ongeluk het plaasgevind toe dit in stormweer by die Bukoba-lughawe probeer land het.

Maroela Media het vroeër berig die passasiersvlug van Precision Air-lugredery het 39 passasiers (38 volwassenes en een baba) aan boord gehad. Die vliegtuig het van die kommersiële hoofstad Dar es Salaam na Bukoba in Tanzanië gevlieg.

Streeksowerhede en die lugredery het vroeër gesê dat 26 passasiers gered en na ’n hospitaal in die meerstad in die Kagera-streek geneem is.

Daar was ook nog 13 passasiers, asook twee vlieëniers en twee bemanningslede soek.

Precision Air het ook reddingswerkers na die ongelukstoneel gestuur.

“’n Ondersoekspan wat bestaan uit Precision Air- tegniese personeel en beamptes van die Tanzanië-burgerlugvaartowerheid het ook by die reddingspan op die grond aangesluit,” het die lugredery in ’n verklaring gesê.

Videomateriaal wat op plaaslike media uitgesaai is, wys hoe die vliegtuig grootliks onder water was terwyl redders, onder wie vissermanne, die water invaar om mense na veiligheid te bring.

Nooddienswerkers het probeer om die vliegtuig met toue en met behulp van ’n hyskraan uit die water te lig.

Medelye en gebede

Die voorsitter van die Afrika-unie-kommissie, Moussa Faki Mahamat, en die sekretaris-generaal van die plaaslike Oos-Afrikaanse Gemeenskapsblok, Peter Mathuki, het hul medelye met die slagoffers se afsterwe betuig.

Precision Air, wat gedeeltelik deur Kenya Airways besit word, is in 1993 gestig en bedryf binnelandse en streeksvlugte, asook private huurvlugte na gewilde toeristebestemmings soos die Serengeti Nasionale Park en die Zanzibar-argipel.

Die ongeluk kom vyf jaar nadat 11 mense gesterf het toe ’n vliegtuig van die safarimaatskappy Coastal Aviation in die noorde van Tanzanië neergestort het.

In Maart 2019 het ’n Ethiopian Airlines-vlug van Addis Abeba na Nairobi ses minute ná opstyging in ’n veld suidoos van die Ethiopiese hoofstad geduik en al 157 mense aan boord is dood.

In 2007 het ’n Kenya Airways-vlug van die Ivoorkus-stad Abidjan na Kenia se hoofstad, Nairobi, in ’n vlei neergestort nadat dit opgestyg het en al 114 passasiers is dood.

In 2000 het nog ’n Kenya Airways-vlug van Abidjan na Nairobi minute ná opstyging in die Atlantiese Oseaan neergestort; 169 mense het gesterf terwyl 10 oorleef het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie Biebouw ·

Foto byskrif: “Die vliegtuig se een vlerk steek by die water uit”…Nee , nie “een vlerk” nie, dis die vertikale stabiliseerder of kortweg sommer net , “stert vin”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.