Foto’s: 70 jaar op die troon vir koningin Elizabeth

Koningin Elizabeth II sit op 14 Oktober 2019 op die Sowerein se troon in die House of Lords terwyl sy die koninginstoespraak lewer tydens die staatsopening van die parlement in Londen. (Foto: Paul Edwards/POOL/AFP)

Koningin Elizabeth II word op Sondag 6 Februarie die eerste Britse monarg in die geskiedenis wat 70 jaar lank heers.

Dié mylpaaldatum sal egter met min fanfare gepaard gaan aangesien die 95-jarige monarg tradisioneel die herdenking van die afsterwe van haar pa, koning George VI, privaat deurbring.

Die koningin (95) se rekordbewind as staatshoof het begin toe sy 25 jaar oud was. Sy was in 1952 in ʼn afgeleë deel van Kenia saam met haar man, prins Philip, toe haar pa gesterf het.

Sy is sedertdien die een konstante faktor in ʼn era van vinnige veranderinge op die maatskaplike en politieke landskappe, ʼn skynhoof vir hedendaagse Brittanje en ʼn lewende skakel na dié land se post-oorlog- en imperialistiese verlede.

Die koningin is op 23 Januarie vanjaar per helikopter na die Sandringham-landgoed in die ooste van Engeland vervoer. Sy sou einde verlede jaar die Kerstydperk saam met nabye familielede by Sandringham deurbring, maar sy het dié jaarlikse besoek uitgestel weens die stygende gevalle van die Omikron-variant van die koronavirus.

Prinses Elizabeth (middel) vier haar 18de verjaardag saam met haar pa, koning George VI, en haar ma, Elizabeth Bowes-Lyon, by die Windsor-kasteel op 21 April 1944. (Foto: Planet News/AFP)

Net soos vorige jare word geen openbare afsprake vir Sondag verwag nie. Vier dae van feestelikhede word egter vir vroeg in Junie vanjaar beplan, waaronder ʼn militêre parade en ʼn musiekkonsert, straatpartytjies, ʼn massapiekniek en ʼn “platinum-poeding-kompetisie”. Gedenkmunte is ook gemunt om dié ongeëwenaarde mylpaal te gedenk.

Slegs drie ander monarge in die geskiedenis was langer as 70 jaar aan bewind.

Frankryk se koning Louis XIV was 72 jaar en 110 dae aan bewind van 1643 tot 1715. Thailand se koning Bhumibol Adulyadej was 70 jaar en 126 dae op die troon van 1946 tot 2016.

Johann II, prins van Liechtenstein, was 70 jaar en 91 dae aan bewind van 1858 tot 1929.

Toevlugsoord

Koningin Elizabeth II en haar man, prins Philip, die hertog van Edinburgh, op 2 Junie 1953, die dag wat sy ingehuldig is as koningin. (Foto: Intercontinentale/AFP)

Die koningin gaan op Sandringham tuis by Wood Farm, ʼn vyfslaapkamer-kothuis wat haar ontslape man se tuiste was nadat hy in 2017 uit die openbare oog getree het.

Volgens die Britse media het prins Philip sy tyd daar deurgebring deur te lees, skryf en stap, in ʼn meer beskeie omgewing weg van diensknegte en koninklike praal.

Die koningin het in Januarie per helikopter na Sandringham gereis en is agter in ʼn Range Rover afgeneem. Sy het ʼn satynkopdoek met ʼn voëlmotief gedra.

Die landgoed van 8 100 ha naby die noordkus van Norfolk lê die koningin na aan die hart. Nie net was dit ʼn toevlugsoord vir prins Philip totdat hy in 2020 weens die koronaviruspandemie by haar aangesluit het by die Windsor-kasteel nie, maar dit was ook ʼn toevlugsoord vir koning George VI, wat in die ouderdom van 56 aan longkanker gesterf het.

Dit was ook ʼn gunsteling-woning vir die koningin se oupa, koning George V, wat ook daar gesterf het, en haar oumagrootjie, koningin Alexandra.

Ná prins Philip se afsterwe in April verlede jaar het die koningin verskeie amptelike en openbare verpligtinge nagekom, soos om gasvrou te wees in Cornwall, suidwes-Engeland, vir wêreldleiers tydens die G7-beraad oor klimaat- en bewaringsdoelwitte.

Prinses Elizabeth en prins Philip in 1947 op ‘n perdekar in Londen. (Foto: AFP)

Sy is egter intussen deur dokters aangeraai om haar verpligtinge af te skaal nadat sy in Oktober ʼn aand in ʼn hospitaal deurgebring het. Dit het dadelik openbare kommer oor haar gesondheid gewek.

Die koningin het sedertdien grotendeels by Windsor gebly en selde openbare verskynings gemaak. Haar laaste openbare verskyning was tydens haar jaarlikse Kersboodskap, wat opgeneem is en waarin sy ʼn rare persoonlike huldeblyk aan haar eggenoot van 73 jaar en sy “ondeunde, vraende vonkel” gelewer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anel ·

MM, ek dink nie koning van Thailand kon so lank regeer het nie, 1746 tot 2016.

Megan Swart ·

Dagsê Anel
Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die flater. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Cherokee ·

Mev Windsor het tot vandag toe nie haar spyt uitgespreek oor ‘n gepoogde volksmoord tydens die Boere oorlog. Nooit verskoning gevra vir konsentrasiekampe en afgebrande plase. En vir Suid Afrikaners wat geen geskiedenis ken, is sy spesiaal.

Erik ·

Dan moet ons agterkleinkinders ook seker verskoning vra vir apartheid? Sy was nog nie eers gebore tydens die Boere oorlog nie?

Lillian ·

Wel as ek so gerieflike luukse lewe gehad het, het ek ook seker so oud geword.

Reynier ·

Tyd om monargieë hoort in die donker eeue. Die familie is vol pedofiele, diewe en intelery. Hulle almal is nefies en niggies wat getroud is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.