Foto’s: Koningin groet Buckingham-paleis vir laaste keer

Daar word beweer dat meer 700 000 mense op Londen toegesak het om koningin Elizabeth II te groet. (Foto: Marco Bertorello/AFP)

Koningin Elizabeth II het met die geluid van die beroemde Big Ben-klok en militêre orkesmusiek Buckingham-paleis, haar tuiste en “kantoor” vir die afgelope 70 jaar, vir die laaste keer tydens ʼn seremoniële prosessie gegroet.

Die ontslape koningin se oudste seun, koning Charles III, het Woensdagmiddag dié 40-minute lange prosessie van dié paleis na Westminster Hall in ʼn sonnige Londen gelei.

Hier sal Brittanje se langsregerende monarg, wat verlede Donderdag in die ouderdom van 96 vreedsaam by haar Balmoral-landgoed in Skotland gesterf het, vier dae in staatsie lê tot haar begrafnis eerskomende Maandag.

Haar lyk is Dinsdagaand van die Skotse hoofstad Edinburgh na Londen gevlieg.

Koningin Elizabeth II se kinders, koning Charles III, prinses Anne, prins Andrew en prins Edward. (Foto: Isabel Infantes/AFP)

Die nuwe koning, sy opvolger prins William, prins van Wallis, en jonger seun, prins Harry, die hertog van Sussex, het in stilte agter die monarg se kis aangeloop terwyl dit deur die hoofstad se strate na die 12de-eeuse saal in die Westminster-paleis beweeg het.

Haar kis is op ʼn kanonwa vervoer wat deur die koninklike berede artillerie, ʼn seremoniële eenheid van die Britse leër, verskaf is.

Die koningin se kinders, prinses Anne en prinse Andrew en Edward, was ook deel van dié prosessie, terwyl Camilla, die koningin-gemalin, Kate Middleton, die nuwe prinses van Wallis, Meghan Markle, die hertogin van Sussex, en Sophie, die hertogin van Wessex, per motor na Westminster geneem is.

Camilla, die koningin-gemalin, en Kate Middleton, die prinses van Wallis. (Foto: Daniel Leal/POOL/AFP)

Daar is veral op sosiale media opgemerk dat die koningin se prosessie baie aan dié tydens prinses Diana se begrafnis in 1997 herinner het, toe prinse William en Harry, toe nog tieners, met geboë hoofde agter hul ma se kis aangestap het.

Prins Harry en prins Andrew het nie militêre uniforms in vandag se prosessie gedra nie.

Volgens koninklike protokol dra slegs werkende koninklikes militêre uniforms tydens formele geleenthede. Prins Harry het met sy uittrede as werkende koninklike in 2020 dus sy militêre ere-aanstellings prysgegee, terwyl prins Andrew van sy militêre ererolle en koninklike beskermheerskap onthef is weens ʼn regsgeding in die opspraakwekkende hofsaak teen die Amerikaanse finansier Jeffrey Epstein.

Sophie, die hertogin van Wessex en Meghan Markle, die hertogin van Sussex. (Foto: Daniel Leal/POOL/AFP)

Daar word berig dat meer as 700 000 roubeklaers reeds sedert Maandag op Londen toegesak het om die monarg finaal te groet en Woensdag in 10 km-lange toue gestaan het om die prosessie te sien.

The Daily Telegraph berig dat byna al die seremoniële uitkykpunte langs die prosessieroete egter teen Woensdagoggend reeds vol was, met talle roubeklaers wat weggewys en aangemoedig is om die geleentheid eerder op TV- groot skerms in Hyde Park te volg.

Bronne: AFP, BBC, The Dailey Telegraph.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nici ·

Wanneer gaan die joernaliste bietjie respek wys en ophou om the Prinses van Wallis by haar nooiensvan te identifiseer? Tyd om julself te educate en ophou om oorsese poniekoerante na te volg.

Lourens CFG ·

Ek ook nie, ons het beurtkrag net mooi oor nuustyd 3 dae agtermekaar.

Vonny ·

Mag Koningin Elizabeth in vrede rus.
Dankie Heer dat U haar 96 goeie jare gespaar het.

annie ·

Ons lees Charles 111 is glo reeds vreeslik uitgeput en gedaan. Ons hoop nie hierdie grootse adellike aktiwiteit moet binne etlike jare gou vinnig weer herhaal word nie. ‘n Lid van die erewag het gisteraand reeds omgedop. Dink net daaraan as die king of queen so op die rooitapyt moet neersyg.

RS ·

Ek het soveel dankbaarheid dat ons hierdie kan aanskou op tv en internet. Dis die mees respekvol en presiesie beheerde gebeurtenis ooit in ons moderne tyd. Ons as Suid-Afrikaners het in die verlede in SA dit kon sien, maar nooit ooit in ons toekoms sal ons ooit weer so iets sien of beleef nie. Ek waardeer dit.

Owlie ·

Daar is baie ongevraagde negatiewe kommentare wat rondgaan Die wêreld en veral SA se leiers hoort uit die Koningin se lewe te leer wat is ware leierskap

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.