Liggaam pas beskrywing van vermiste VSA-vrou

Gabrielle Petito (Foto: Twitter)

Die Amerikaanse owerhede het ’n liggaam gevind wat by die beskrywing van die vermiste Gabrielle Petito pas.

Die 22-jarige Petito is enkele weke gelede as vermis aangemeld nadat sy en haar verloofde, Brian Laundrie, op toer deur die VSA gegaan en Laundrie alleen teruggekeer het.

Die owerhede het Sondag tydens ’n grootskaalse soektog na Petito op menslike oorskot in die Amerikaanse deelstaat Wyoming afgekom.

Daar heers ’n sterk vermoede dat die oorskot dié van Petito is.

“Volledige forensiese identifikasie is nog nie voltooi om 100% te bevestig dat ons Gabby gevind het nie, maar haar familie is in kennis gestel van hierdie ontdekking,” het Charles Jones van die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) Sondag gedurende ’n mediakonferensie gesê.

“Ek wil ons opregte en innige meegevoel met Gabby se familie betuig. Ons vra dat hul privaatheid respekteer word terwyl hulle treur oor die verlies van hul dogter.”

Die polisie het in Augustus op ʼn voorval van gesinsgeweld gereageer waarby Petito en Laundrie betrokke was. (Foto: Moab City Police Department/AFP)

Jones het gesê die oorsaak van dood kon ook nog nie bepaal word nie.

Die FBI en ander wetstoepassers het na Petito in ’n nasionale woud in die westelike deelstaat Wyoming gesoek waarvandaan Petito in Augustus laas met haar ouers gepraat het.

Maroela Media het vroeër berig Petito en Laundrie (23) het in Julie vanjaar met ʼn reis deur Amerika begin. Hulle het deurgaans foto’s en video’s van idilliese landskappe op sosiale media gedeel.

Brian Laundrie, Petito se verloofde. (Foto: Moab City Police Department/AFP)

Petito se familie het egter meer as twee weke gelede onraad begin vermoed toe Laundrie alleen met die paartjie se kampeerwa terug is huis toe.

Laundrie het met sy tuiskoms in North Port, Florida, geweier om inligting aan die polisie te verskaf oor die twee se doen en late en het intussen ook soos ’n groot speld verdwyn.

Die polisie het vroeër gesê hoewel Laundrie ʼn persoon van belang is in Petito se verdwyning, word hy nie gesoek vir ʼn misdaad nie.

“Ons fokus was van die begin af om [Petito] huis toe te bring. Ons sal voortgaan om saam met die FBI te werk in die soeke na meer antwoorde,” het die polisie in North Port ná die ontdekking van die oorskot getwiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frank John ·

Klink maar traag om die raaisel op te los en dan nie die man belet om weg te gaan totdat saak opgelos is nie. Nou het hy klaar verdwyn.

Pieter ·

Tot hulle haar oorskot gevind het was daar geen wet gebreek nie en kon hulle niks doen nie. Hy het op 1 Sept teruggekeer huis toe en onmiddelik ‘n prokureur aangestel wat gekeer het dat hy met polisie praat. Sedertdien het hy verdwyn en word gesoek. Noudat sy gevind is verander dit en kan hulle hom in hegtenis neem sodra hulle hom opspoor.
Maar hy is tans een van die mees bekende gesigte in Amerika en hy gaan nie ver kom nie.

piet ·

Swak polisiewerk om nie sy bewegings te monitor nie siende dat hy duidelik oor inligting beskik het wat hy nie wou meedeel nie. Polisie moes toe reeds ‘n rot geruik het en hom fyn dopgehou het as deel van die ondersoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.