Navalny se liggaam aan sy ma oorhandig

Alexei Navalny, sy vrou Yulia en hul seun Zahar by ʼn onbekende ligging in Duitsland (6 Oktober 2020) (Foto: Alexei Navalny/Instagram via AP)

Die liggaam van die Russiese opposisieleier Alexei Navalny is aan sy ma oorhandig, meer as ʼn week ná hy in ʼn Arktiese tronkkolonie gesterf het, het sy span Saterdag gesê.

Navalny, pres. Wladimir Poetin se mees prominente kritikus, is op 16 Februarie oorlede in een van Rusland se ergste tronke in noordelike Siberië.

Hy het 19 jaar tronkstraf uitgedien op aanklagte wat deur Poetin se kritici afgemaak is as “politieke vergelding vir sy opposisie-aktiwiteit”.

“Alexei se liggaam is aan sy ma oorhandig,” het ʼn woordvoerder vir Navalny se span, Kira Yarmysh, op X (Twitter) gesê. “Baie dankie aan almal wat dit saam met ons geëis het.”

Russiese beamptes het vir ʼn week lank geweier om die liggaam aan Lyudmila Navalnaya te oorhandig. Sy het van Salekhard in die Yamalo-Nenets-streek, die naaste nedersetting aan die tronkkolonie waar Navalny gesterf het, gereis om sy liggaam in ontvangs te neem.

Navalny se span het Vrydag gesê dat hulle ʼn hofsaak aanhangig gemaak het om sy liggaam te ontvang. Hulle het plaaslike beamptes daarvan beskuldig dat hulle gedreig het om hom op die tronk se gronde te begrawe as sy ma nie instem tot ʼn “geheime begrafnis” nie.

Planne vir die begrafnis was Saterdag nog nie duidelik nie, het Yarmysh bygevoeg.

“Lyudmila is nog steeds in Salekhard. Die begrafnis is nog hangende,” het sy gesê. “Ons weet nie of die owerhede gaan inmeng as ons dit uitvoer soos wat die familie wil hê en soos wat Alexei verdien nie.”

Sy span het reeds aangevoer dat die Kremlin ʼn openbare begrafnis probeer verhoed. [ʼn Openbare begrafnis] kan ʼn teken wees van ondersteuning vir Navalny se beweging en sy teenkanting teen Poetin.

Die Russiese leier, wat nooit Navalny se naam in die openbaar genoem het nie, het nog nie kommentaar gelewer oor sy afsterwe nie. Sy woordvoerder, Dmitry Peskov, het uitlatings deur Navalny se vrou en Westerse leiers as “vulgêr” veroordeel waar Poetin vir sy dood blameer word.

Alexei Navalny. (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Russiese owerhede het gesê Navalny is weens “natuurlike oorsake” dood ná hy sy bewussyn verloor het ná hy in die tronkkolonie, ook bekend as “Poolwolf”, gaan stap het.

Sy span het beamptes se aanvanklike weiering om die liggaam vry te stel veroordeel. Hulle het dae lank selfs geweier dat sy ma sy liggaam sien. Navalny se span het gesê beamptes probeer “hul spore verbloem”.

G7-leiers het Saterdag in ʼn verklaring Navalny “geloof vir sy stryd teen die Kremlin se korrupsie” en het ook die waarheid versoek.

“Ons doen ʼn beroep op die Russiese regering om die omstandighede rondom sy afsterwe bekend te maak,” lui die verklaring van die G7-lande: die VSA, Japan, Duitsland, Frankryk, Brittanje, Italië en Kanada.

Tienduisende Russe het ʼn petisie onderteken met ʼn versoek dat Navalny se liggaam vrygestel moet word. Dosyne hoëprofiel Russiese kulturele figure het videoboodskappe met dieselfde versoek gepubliseer.

Yulia Navalnaya, Navalny se weduwee, het Saterdag haar aanval op Poetin voortgesit vir sy rol in haar man se afsterwe en die aanvanklike weiering om sy liggaam vry te stel.

“Jy het hom gemartel toe hy geleef het, en nou martel jy hom ná hy gesterf het,” het Yulia in ʼn video gesê wat Saterdag gedeel is. “Wat Poetin nou doen, is haatlik. Nee, nie eers haatlik nie, dis ʼn tipe satanisme.”

Sy het onderneem om haar man se werk voort te sit.

Navalny se afsterwe kom drie jaar ná hy in Russiese tronke aangehou is. Dit het ʼn oproer veroorsaak onder die land se opposisie en Westerse leiers met impromptu betogings in stede in Europa.

Die polisie in Rusland het honderde roubeklaers by tydelike gedenktekens in hegtenis geneem. Meer as 150 mense is kort vonnisse opgelê.

Navalny het bekendheid verwerf deur sy teenkorrupsie-veldtog. Hy het Poetin se “onverdiende gewin” onthul in YouTube-video’s wat deur miljoene gekyk is.

Hy is in Januarie 2021 in hegtenis geneem toe hy na Rusland teruggekeer het ná hy in Duitsland behandel is vir vergiftiging. Hy is vergiftig toe hy maande tevore in Siberië ʼn veldtog teen Poetin gevoer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

annie ·

Ag, en ons glo alles. Nooi mevrou Navalnaya oor vir ‘n paar toesprake want sy beoog om Rusland se president te word en dan is ons eerste in die koor en in die ry vir gratis Russiese olie en gas. Ja, sommer so.

Cassie Carstens ·

Ek hoop net ons ASNC vriende wie so graag die Russe aanhang, se oë gaan betyds oop. Maar dis twyfelagtig.

Republikein in die Wes Kaap ·

Rusland se volgende revolusie en langdurige burgeroorlog is op pad.

Marthinus W ·

Op 22 Februarie 2024, sit Julia Nawalnaja en haar dogter in San Francisco, en gesels met Joe Biden. Hoekom? Waarom het sy nie aangedring om eerder met Poetin te praat nie?

Carolina ·

Mari ek sien daar is darem een persoon wat weet wat regtig aangaan! mense kyk heeltemal te veel na die puppets van die weste en sal verbaas wees wie agter sy dood sit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.