Orion-kapsule keer terug aarde toe

Die Orion-ruimtekapsule land veilig in die Stille Oseaan. (Foto: POOL / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Nasa se Artemis 1-sending is die naweek suksesvol voltooi toe die Orion-ruimtekapsule ná ʼn byna maand lange reis om die maan veilig in die Stille Oseaan geland het.

Dié onbemande kapsule het Sondag met behulp van drie groot valskerms in die see beland nadat dit teen ʼn spoed van 40 000 km/h deur die aarde se atmosfeer gebreek het.

Die kapsule moes in die proses ʼn temperatuur van 2 800 °C weerstaan – ongeveer die helfte van die temperatuur van die oppervlak van die son.

Tog het Orion géén skade tydens die missie opgedoen nie.

“Ek dink nie een van ons het gedink die missie sou so suksesvol verloop nie,” sê Mike Sarafin, sendingbestuurder van Artemis. “Ons het nou ʼn fundamentele diepruimtevervoerstelsel.”

Helikopters het ná die landing oor die drywende ruimtetuig gevlieg voordat ʼn Amerikaanse vlootskip – wat aan die kus van Mexiko se Benede-Kalifornië vir Orion gewag het – later ingespan is om die ruimtekapsule te herwin.

Nasa het jare lank aan dié herwinning geoefen.

Die Orion-ruimtekapsule word ná die landing op ʼn Amerikaanse vlootskip gelaai. (Foto: Mario Tama / POOL / AFP)

Die vlootskip is nou op pad na San Diego in Kalifornië waar die ruimtetuig in die komende dae aan Nasa terugbesorg sal word.

Orion het nou 2,2 miljoen kilometer afgelê sedert dit met behulp van Nasa se kragtigste vuurpyl nóg op 16 November in Florida in die VSA lanseer is.

Die hoofdoel van dié sending was om Orion se hitteskild te toets vir die dag wanneer dit werklik ruimtevaarders na die maan vervoer.

“Duisende individue het jare lank hulself aan hierdie missie gewy, wat die wêreld inspireer om saam te werk om ongerepte kosmiese kuslyne te bereik,” sê Bill Nelson, Nasa-administrateur. “Vandag is ʼn groot oorwinning vir Nasa, die VSA, ons internasionale vennote en die hele mensdom.”

ʼn Eerste toets van die kapsule is in 2014 reeds uitgevoer. Die kapsule het egter destyds net in die aarde se wentelbaan gebly en teen ʼn stadiger spoed van ongeveer 32 000 km/h deur die atmosfeer gebreek.

Die Orion-ruimtekapsule van naby. (Foto: Mario Tama / POOL / AFP)

Belangrike data

Nasa het Orion Sondag eers vir ʼn paar uur lank laat dryf – baie langer as wat nodig sou wees sou daar ruimtevaarders binne wees – om data oor temperature in die bemanningsmodule in te samel.

Die herwinning van die ruimtetuig sal Nasa nou in staat stel om data in te samel wat noodsaaklik is vir toekomstige missies.

Dit sluit inligting in oor die toestand van die vaartuig ná sy vlug, data van monitors wat versnelling en vibrasie meet, en die werkverrigting van ʼn spesiale baadjie wat op ʼn mannekyn in die kapsule geplaas is om te toets hoe om mense teen bestraling te beskerm wanneer hulle deur die ruimte vlieg.

Sommige van die kapsule se komponente sal ook na verwagting hergebruik kan word vir die Artemis 2-missie wat reeds in ʼn gevorderde stadium van beplanning is.

Bemanning sal gedurende dié sending, wat vir 2024 beplan word, na die maan gestuur word maar steeds nie daarop land nie.

Artemis 3, wat vir 2025 geskeduleer is, sal behels dat ʼn ruimtetuig vir die eerste keer op die suidpool van die maan land. Nasa hoop dan om water in die vorm van ys te vind en beoog daarna om een sending per jaar te loods.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

Verstaan ek reg? Die operasie was om mense na die maan te stuur. Daar was dan reeds in 1969 mense op die maan.

SomeOne ·

dit bly steeds ‘n raaisel, fotos wat geneem is, stem nie ooreen met wat regtig sou wees nie, lig refleksie, agtergrond, weerkaatsings in helmet lense, skaduwees, gemerkte klip, ens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.