Prins Harry maak geskiedenis met Britse hofgetuienis

Prins Harry, die hertog van Sussex, se hofstryd teen die Britse poniepers duur voort. (Foto: Justin Tallis/AFP)

Prins Harry, die hertog van Sussex, sal die eerste senior Britse koninklike in meer as ʼn eeu word om in die hof te getuig wanneer hy vandeesweek teen ʼn poniekoerant-uitgewer sy saak stel.

Die hertog (38) sal na verwagting die getuiebank by die Londense hooggeregshof inneem in ʼn verhoor wat onregmatige inligting-insamelingseise teen die Mirror Group Newspapers (MGN) oorweeg.

Koning Charles III se jongste seun en ander hoëprofielfigure beweer dat die uitgewer by onwettige aktiwiteite, insluitend foonmeeluistering, betrokke was, en eis skadevergoeding daarvoor. Die ander eisers is twee sepie-akteurs en die eksvrou van ʼn komediant.

Dié saak is een van verskeie wat prins Harry teen Britse koerantgroepe aanhangig gemaak het sedert hy en sy vrou, Meghan Markle, die hertogin van Sussex, vroeg in 2020 uit hul koninklike pligte getree het en na die VSA verhuis het.

Prins Harry in Maartmaand buite die hooggeregshof in Londen. (Foto: Twitter)

Die MGN-verhoor, wat na verwagting tot sewe weke kan duur, het verlede maand afgeskop, dae ná koning Charles III se kroning op 6 Mei.

Die Kalifornië-gebaseerde prins het ook in Maart in die hooggeregshof verskyn vir ʼn privaatheidseis wat hy en ander teen Associated Newspapers (ANL), uitgewer van die Daily Mail, ingestel het.

Prins Harry het in hofstukke gesê die Britse koninklike familie het die howe ywerig vermy oor sake wat ʼn verleentheid vir hul kon wees. Indien hy Dinsdag soos verwag in sy regsgeding teen die uitgewer van die Daily Mirror getuig, sal hy die eerste lid van die koninklike familie wees wat dit sedert die laat 19de eeu doen, toe koningin Victoria se oudste seun, prins Albert Edward, twee keer in die hof getuig het.

Hy het in die egskeidingsverrigtinge van ʼn vrou met wie hy daarvan beskuldig is dat hy ʼn buite-egtelike verhouding gehad het (hy het dit ontken) verskyn en ook in ʼn lastersaak waarby ʼn man betrokke was wat met kaarte verneuk het.

Prins Harry, wat die vyfde opvolger vir die Britse troon is, het sedert sy kinderjare ʼn onstuimige verhouding met die media en het in sy opspraakwekkende memoir, Spare, verklap dat hy die pers verantwoordelik hou vir die dood van sy ma, prinses Diana, wat in ʼn Paryse motorongeluk in 1997 gesterf het toe sy van paparazzi gevlug het.

Harry en sy vrou het hoofsaaklik die ongewenste media-aandag vir hul skuif na die VSA blameer en die prins het belowe om die hervorming van die Britse media sy lewensdoelwit te maak.

Hier is ʼn uiteensetting van sy voortgesette hofsake:

Mirror Groupkoerante

Harry is een van ʼn aantal bekendes wat skadevergoeding van MGN eis weens die onwettige insameling van inligting. Syne is een van vier verteenwoordigende sake wat gekies is vir ʼn verhoor wat ook die hof sal help om op die vlak van skadevergoeding te besluit as hul eis suksesvol is.

MGN, wat The Mirror, The Sunday Mirror en The Sunday People publiseer, het aan die begin van die verhoor “ʼn paar bewyse” van onwettige insameling erken, insluitend vir ʼn storie oor prins Harry, maar het verder alle beskuldigings van meeluistering ontken en aangevoer dat sommige van die eise té laat na vore gebring is.

Associated Newspapers (ANL)

Verskeie eisers, insluitend prins Harry en die popster Elton John, neem regstappe teen die uitgewer van die Daily Mail en The Mail on Sunday oor beweerde skendings van privaatheid.

Hulle beweer dat die uitgewer private ondersoekers aanstel, telefoonoproepe afluister en mediese inligting op ʼn onwettige wyses verkry het met die doel om daaroor te berig.

ANL het die bewerings ontken en aangevoer dat die saak nie verhoor moet word nie. ʼn Uitspraak word op ʼn latere datum verwag.

ANL lastereis

In ʼn ander regsgeding teen die Daily Mail-uitgewer bring prins Harry ʼn lastereis oor ʼn artikel oor sy aparte regstryd met die Britse regering oor sy veiligheidsreëlings wanneer hy na die Verenigde Koningryk (VK) reis.

Dié artikel, wat in Februarie 2022 deur die koerant The Mail on Sunday gepubliseer is, het voorgestel dat die prins probeer het om sy regsuitdaging geheim te hou.

ANL voer aan die artikel het nie “ernstige” reputasieskade veroorsaak nie en het ʼn “eerlike mening” uitgespreek.

Harry se regspan het die hof gevra om ANL se verdediging van die hand te wys of ʼn uitspraak in sy guns te lewer sonder ʼn verhoor. ʼn Uitspraak word op ʼn latere datum verwag.

Maroela Media het vroeër berig dat die bogenoemde regstryd oor sy veiligheidsreëls, waarin hy die Britse regering uitdaag oor privaat betalings vir polisiebeskerming wanneer hy in die VK is, het op 23 Mei in die Londense hoë hof misluk.

Newsgroup Newspapers (NGN)

Prins Harry dagvaar die News Group Newspapers (NGN), deel van Rupert Murdoch se wêreldwye mediagroep, vir onwettige inligtinginsameling.

Die uitgewer van poniekoerante The Sun en die nou ontbinde News of the World vra die hof om die eise sonder ʼn verhoor uit te gooi, met die argument dat hulle te laat gebring is.

Die prins voer egter in hofdokumente aan dat die vertraging in die indiening van ʼn regsgeding teen NGN uit ʼn “geheime ooreenkoms” tussen die koninklike familie as ʼn instelling en die uitgewer spruit.

NGN ontken die bestaan ​​van so ʼn ooreenkoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

domheks ·

Hy en sy vrou soek net aandag. Sy probeer hom te alle tye manupileer. Hoop die skei saak word vinnig af gehandel.

Samuel ·

Ek het ook oor die naweek so iets gesien. Hy bly kamtig in huwelik ter wille van die kinders.

kommentaar ·

Domheks, dis dalk ‘n versugting van ons meer nugter denkendes, maar sal dit nie gaaf wees as hy kan uitkom daar nie!!

Samuel ·

My 2c is dat Prins Harry en sy vrou eenvoudig net aandag vrate is. Wie se geld gebruik hy so kwistig vir hofonkostes ?

JohanR ·

Is hy nog ‘n Prins? Ek dog hy is nou maar net ‘n lid van die publiek?

Minnie ·

As enige een van julle wat so negatief is Harry se boek gelees het, sal jul verstaan dat hy en Meghan geen aandag soek nie.
Al Harry se familie het groot probleme met die pers, maar hy is sy Ma se kind. Diana is vermoor….en albei haar seuns het die bewyse.
Harry is die enigste een met n rugraat wat bereid is om te veg vir privaatheid.

JohanR ·

Minnie, Suid Afrika het ook eens op ‘n tyd gedink Cyril Ramaphosa het ‘n rugraat, maar toe vindd ons uit hy is net ‘n papsak!

Elize ·

JohanR – ek hoop iemand het vir jou ‘n stywe handdruk gegee. Dit is skerp en waar hoor :)

KatjieDeKat ·

Vir privaatheid? Tog maak hy en sy vrou seker hulle is gedurig in die nuus?

Nettie ·

Iemand wat “groot probleme met die pers het”, voer nie heeltyd omstrede onderhoude, skryf boeke of maak dokumentere oor hulsef nie!

Mens met groot probleme doen een van 2 dinge. Kruip letterlik weg (iets wat hy sou kon doen!) of hulle pak die pers aan. Hy doen nie een van die 2 nie. Hy gaan heeltyd NA die pers toe en maak “deals”.

kommentaar ·

Kom nou Minnie, jy glo seker nie wat in daai boek staan nie??? Dis n eensydige -kom -ek -vertel- jou-wat- ek- dink- die waarheid-is-soos-aan-my-voorgesê-deur-my-vrou storie

kommentaar ·

Hierdie kind raak nou knaend lastig. Hy en sy kopseer moet werklik nou besluit of hulle in die openbare oog wil lewe of nie, want soos hulle nou aangaan maak hulle almal deurmekaar. Besluit nou man!!!!

Niklaas ·

Ai, hierdie prins en sy lewensmaat is een ewigdurende pyn. Dit sal gaaf wees as hy net lank kan verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.