Resolusie aanvaar: ‘Hou Israel aanspreeklik vir moontlike oorlogsmisdade’

(Argieffoto)

Die Verenigde Nasies (VN) se menseregteraad het Vrydag ʼn resolusie aanvaar waarin gevra word dat Israel aanspreeklik gehou word vir moontlike oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in die Gazastrook.

Die raad eis nou dat alle wapenverkope aan Israel opgeskort word.

Altesaam 28 van die raad se 47 lidlande, ook Suid-Afrika, het ten gunste van die resolusie gestem.

Ses lande, die Verenigde State, Duitsland, Argentinië, Bulgarye, Malawi en Paraguay, het daarteen gestem, terwyl 13 buite stemming gebly het.

Dit is die eerste keer dat dié raad standpunt inneem rakende die oorlog tussen Israel en Hamas.

Die resolusie, wat deur Pakistan namens alle lidlande van die Organisasie vir Islamitiese Samewerking (OIC) behalwe Albanië voorgelê is, beklemtoon “die behoefte om aanspreeklikheid te verseker vir alle skendings van internasionale humanitêre reg en internasionale menseregtewetgewing ten einde straffeloosheid te beëindig”.

“Ons het nodig dat julle almal wakker word en hierdie volksmoord stopsit, ʼn volksmoord wat oor die hele wêreld uitgesaai word,” het die Palestynse ambassadeur, Ibrahim Mohammad Khraishi, voor die stemming aan die raad gesê.

Meirav Eilon Shahar, Israel se ambassadeur by die VN, het egter gesê ʼn “ja-stem” is ʼn “stem vir Hamas”.

Die Amerikaanse ambassadeur Michele Taylor het saamgestem dat “veels te veel burgerlikes in hierdie konflik gedood is en dat elke burgerlike dood ʼn tragedie is”.

Sy het ook erken dat “Israel nie genoeg gedoen het om burgerlike skade te versag nie”.

Taylor het egter gesê Washington kan nie die resolusie ondersteun nie, aangesien dit “baie problematiese elemente” bevat, insluitend die versuim om Hamas en sy aanvalle op 7 Oktober spesifiek te veroordeel.

‘Geen verdere verskonings’

Die Duitse minister van buitelandse sake, Annalena Baerbock, het intussen gesê Israel het “geen verdere verskonings” om hulp in Gaza te vertraag nie nadat die Israeliese regering aangekondig het dat hy meer hulproetes na die Palestynse gebied sal oopmaak.

“Die mense in Gaza het elke hulppakket nou nodig … Ons verwag dat die Israeliese regering sy aankondigings vinnig in werking sal stel,” het Baerbock op X gesê.

“Geen verdere verskonings nie.”

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het Donderdag in ʼn gespanne telefoonoproep aan premier Benjamin Netanyahu gesê dat die Amerikaanse beleid oor Israel afhanklik is van die beskerming van burgerlikes en hulpwerkers in Gaza.

Ure later het Israel aangekondig dat hy nog hulproetes gaan open.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Keelvol ·

Wat van Rusland? Hoekom word Rusland, noord Korea en anima nie aanspreek lik gehou nie? Die vn is ruggraatloos

Christine ·

Laat die lande wat die resolusie aanvaar het sorg dat hamas die terreur groep gaan uit haal in gaza

popsa ·

En WAT van 7 Oktober 2023? En WAT van die ontvoerde gyselaars? Is dít nie oorlogsmisdaad en misdaad teen die mensdom nie?

Amelia ·

Ag suid afrika word 75 mense per dag vermoor is dit ook nie volksmoord nie maar sa wil
a nder voorse en ja wat van rusland

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.