Rook van Kanada-veldbrande selfs sigbaar in Noorweë

Rook hang in die lug in Montreal (Foto: Andrej Ivanov/AFP)

Die rook van die Kanadese veldbrande is selfs duisende kilometers verder in Noorweë sigbaar.

Só het dié Skandinawiese land se klimaat- en omgewingsnavorsingsinstituut (NILU) gesê.

“Baie swak konsentrasies rookdeeltjies is sedert Maandag in die lug ontdek, veral by die Birkenes-sterrewag in die suide van Noorweë,” het navorser Nikolaos Evangeliou gesê.

Metings het gewissel na gelang van die verwoestende brande se intensiteit, windrigting en neerslag.

“Ons sien nie ernstige pieke of groot stygings in die konsentrasie van rookdeeltjies nie … so ons voorsien ook geen omgewingskwessies [in Noorweë] of ernstige gesondheidsgevare nie.”

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het gesê dat Amerika ekstra hulpbronne na Kanada sal stuur, waaronder “bykomende brandbestryders en brandbestrydingstoerusting”. Die land het reeds in Mei 600 Amerikaanse brandbestryders oorgestuur om noodbystand te verleen.

Groter en kragtiger veldbrande as ooit tevore het die afgelope paar weke sowat 3,8 miljoen hektaar in Kanada verskroei, met 800 000 hektaar wat slegs in die Quebec-provinsie, nou die episentrum van die ramp, geraak is.

Twee keer soveel brande is vanjaar in dié Kanadese provinsie aangeteken vergeleke met die gemiddeld oor die afgelope tien jaar. Die brandseisoen het nou eers begin.

Sowat 2 300 brande is tot dusver vanjaar in die land aangemeld.

Kanada het teen Donderdagmiddag steeds 150 aktiewe brande gehad, waaronder byna 90 buite beheer was.

Meer as 12 000 mense het binne die bestek van ʼn paar dae hul huise in Quebec ontruim.

(Foto: TIMOTHY A. CLARY / AFP)

New York en Washington was onder meer in ʼn onheilspellende, gelerige rookwaas gehul, met talle vlugte wat weens die rook vertraag en sportbyeenkomste wat uitgestel is. Talle inwoners in dié stede moes ter wille van gesondheidskwessies gesigmaskers dra.

Die Nasionale Dieretuin in Washington het ook aangekondig dat sy hekke gesluit word “vir die veiligheid van die diere, personeel en besoekers”. Skole in die hoofstad het ook alle buitelug- en sportbyeenkomste gekanselleer.

Hoewel die rook teen Vrydag al in die lug begin opklaar het, word daar verwag dat die toestand eers teen die naweek na normaal sal terugkeer.

ʼn Woordvoerder van New York se gesondheidsdepartement het bevestig dat daar “meer asmaverwante besoeke as gewoonlik aan die noodafdeling is”.

Amptenare het gesigmaskers by treinstasies, bushaltes en parke uitgedeel en verklaar dat openbare skole Vrydag na afstandsonderrig sal oorskakel.

Van die inwoners sê die rook in die lug laat hulle terugdink aan die 9/11-ramp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.