Ses Franse, twee gidse dood in aanval by park

(Foto: Wikipedia)

Onbekende gewapende aanvallers het ses Franse noodlenigingswerkers en twee gidse wat ʼn wildtuin oos van Niamey, Niger se hoofstad, besoek het, vroeg Sondagoggend doodgeskiet.

Die Franse president, Emmanuel Macron, het sy medelye met die slagoffers se families betuig en steun aan hulle beloof.

Macron het Sondagaand telefonies met Niger se president, Mahamadou Issoufou, gepraat en albei staatshoofde het benadruk dat alles in die stryd gewerp sal word om die omstandighede rondom die dodelike aanval te bepaal, het owerhede gesê.

Macron en Issoufou is volgens ʼn verklaring deur die twee lande vasbeslote om “die stryd teen terreurgroepe” in Afrika se Sahel-streek voort te sit.

Die aanval het plaasgevind in Koure, by Niger se kameelperdreservaat, het Oumarou Moussa, raadgewer vir Niger se minister van binnelandse sake, gesê. Die gebied is ʼn beskermde nasionale park sowat 70 km suidoos van die hoofstad. Honderde mense besoek die park jaarliks om na die beroemde kameelperde te gaan kyk.

Die park is in die Tallaberi-streek, waar Moslem-ekstremiste met bande met die Islamitiese Staat (IS) in 2017 vier Amerikaanse soldate en vyf Niger-burgers vermoor het.

Die Franse regering het sy burgers vantevore al gewaarsku om nie buite die hoofstad te reis nie, omdat militante met bande met Boko Haram, IS en Al-Kaïda steeds aanvalle in die uitgestrekte Wes-Afrika-land uitvoer. Niger grens aan verskeie lande, onder meer Mali, Burkina Faso, Tsjad, Nigerië en Libië.

Geweld in die Sahel-streek deur groepe met bande met IS en Al-Kaïda neem toe. Frankryk het 5 100 soldate ontplooi om die groeiende opstande daar te help onderdruk en ʼn plaaslike Sahel-mag, bestaande uit soldate van Mali, Niger, Burkina Faso, Tsjad en Mauritanië veg ook teen die ekstremiste.

Macron sal Dinsdag met sy verdedigingsraad vergader om die situasie in Niger te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Dankie tog dis nie in ons land nie. Ons is al so gewoond dat alles wat sleg is net in ons land gebeur.

JohanR ·

En die selfde wag op Suid Afrika en sy burgers, as ISIS ooit ‘n vastrapplek hier kry!

Piet Pompies ·

hulle is nie ver nie – al klaar in Mosambiek besig

Skyspy007 ·

Hulle is KLAAR op ons voorstoep, Mozambique is ons buurland en hulle is daar, nee hier…op ons voorstoep

Adam Adriaan ·

En niemand kla oor die 58 moorde per dag in ons eie land nie. Baie eger hier as wat daar daagliks gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.