Luister: Alzheimers veel meer as net geheueverlies

‘Oom Lourens’ en sy seun, ds. Lourens Venter, in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Die moeilike en verreikende uitkringeffek van Alzheimer se siekte is ongelukkig iets waarvan baie mense eers deeglik bewus word wanneer dit hulle gesinne of geliefdes direk beïnvloed.

Maroela Media het ter viering van Alzheimer-bewusmakingsmaand in September met verskeie spesialiste, kenners en familielede wat deur dié lewensveranderende siektetoestand geraak is, gesels.

In die vierde en laaste episode vertel ds. Lourens Venter, en sy pa, Lou, van sy ma, Anne-Marie Venter, se Alzheimer-diagnose en die impak wat dit op hulle as eggenoot en gesin se verhoudings gehad het.

“Dit is meer as net vergeet. Iemand sterf voor jou oë, sonder dat hulle dood is,” vertel Lourens van sy ma, ʼn voormalige kunstenaar en opgeleide somatoloog.

“Grappies oor geheueverlies gaan ook vinnig opdroog as hierdie ding jou geliefdes tref.”

Die Venter-gesin. (Foto: Verskaf)

Pa en seun gesels oor die gesin se reaksie oor Anne-Marie se diagnose, asook die versorgingspad wat hulle gekies het om te loop.

As eggenoot deel Lou ook die kopskuif wat hy moes maak om sy vrou gemaklik en veilig te laat voel, ondanks die gevoelens van verwerping, buie en agterdogtigheid waarmee Alzheimer-pasiënte daagliks worstel.

Beide Lou en Lourens vertel waarom die humor in moeilike sake ook met tye raakgesien moet word en die belangrike rol wat geloof speel om hulle as gesin deur dié reis te dra.

“ʼn Maatskaplike werker het vir ons vertel om nie altyd alles te ernstig op te neem nie. As my vrou dan nou twee verskillende skoene of drie bloese bo-oor mekaar wil aantrek, laat ons haar toe. Die humor maak die moeilike tye meer draaglik.”

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.
  • Luister na episode een waar dr. Susan Coetzer, een van slegs 20 geriatriese spesialiste in die land, advies aan diegene gee wat saam met ʼn geliefde die raaiselagtige reis van Alzheimer se siekte en dimensie moet aanpak.
  • Luister na episode twee waar Welma Geldenhuys, senior maatskaplike werker by Adasa se Gauteng-tak, gesels oor die belangrikheid van hulp en ondersteuningsnetwerke wanneer dit by die stryd teen dié tipe siektes kom.
  • Luister na episode drie waar Monica Koekemoer, programkoördineerder by die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut, oor versorgingsmoontlikhede vir Alzheimer- pasiënte gesels.

Lees Anne-Marie se dogter, Karin Hand, se hartroerende rubriek oor haar ma se siekte hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.