Adam Barnard hou moed ondanks talle terugslae

Adam Barnard toe hy nog deel was van Romanz. (Foto: Facebook via Adam Barnard)

Ses jaar lank wag Adam Barnard, bekend as minnesanger wat deel was van die gewilde mansgroep Romanz, op ʼn nieroorplanting – en dit lyk nie of die einde van die gewag in sig is nie.

Adam (37) ontvang dialise en ander mediese behandelings om hom aan die lewe te hou nadat hy nierskade opgedoen het.

Louis Barnard, Adam se pa, het aan Maroela Media gesê hoewel talle skenkers jaar na jaar getoets word en hulle deur lang, uitmergelende voorbereidingstoetse gaan om ʼn geskikte skenker te kry, het nog nie een van dié skenkings gerealiseer het nie.

“Intussen het die Covid-19-pandemie ook die laaste twee jaar nieroorplantings gekniehalter en is daar ongelooflike rompslomp deur mediese owerhede, wat bydra tot die frustrerende, uitgerekte proses om ʼn geskikte skenker te kry,” sê ʼn moedelose Louis.

Adam het die afgelope twee weke weer ʼn terugslag beleef toe die inlaat waardeur die dialise gedoen word en wat in sy bors ingeplant is, ontsteking gekry het en hewige koors en uiters hoë infeksietellings veroorsaak het.

Dié inlaat moet verwyder word en aan die ander kant van sy bors ingeplant word om die infeksietelling af te bring en te sorg dat sy dialisebehandeling kan voortgaan.

“Hy en ons hele familie het ook ʼn ruk gelede Covid-19 opgedoen, wat bygedra het tot sy gesondheidsprobleme. Dit het onder meer ʼn bloedmassa in sy een heup veroorsaak, wat chirurgies verwyder moes word,” sê Louis.

“Jare se gewag op ʼn nieroorplanting en die een na die ander gesondheidsterugslag vreet die tyd op. Hy ontvang steeds die aftakelende dialisebehandeling in ʼn poging om sy liggaam te help om gifstowwe te filtreer, maar dit beheer nie sy bloeddruk nie en daarvoor moet hy medikasie neem. Hy volg ook ʼn baie streng dieet. Sommige ouens kom vir jare reg met die dialise, maar dit lyk net nie asof dit met Adam se liggaam werk nie.”

Daar is ʼn magdom faktore wat in ag geneem moet word wanneer daar na ʼn geskikte skenker gesoek word, soos ooreenstemmende bloedgroepe, die skenker se gewig en gesondheid, ouderdom, chroniese siektes, en talle voorbereidingstoetse moet uitgevoer word.

‘n Onlangse foto van Adam en Almitra Barnard. (Foto: Verskaf)

“Dit is elke keer so ʼn groot drama om ʼn skenker te laat toets en om ná tien maande  tot ʼn jaar eers te hoor dat dié skenker nie geskik is nie, is ʼn groot teleurstelling. Dit maak ʼn ou moedeloos om elke keer van voor af te begin, en Adam het dit nou al soveel keer ervaar. Hy en ons as sy familie hou egter deurentyd vas aan ons geloof. Ons is kinders van die Here en ons glo net soos Prediker dat solank as wat daar lewe is, is daar hoop,” sê Louis.

Louis benadruk dat die rompslomp deur mediese owerhede bydra tot die langdurige proses om ʼn geskikte skenker te kry en dat mense intussen hulle lewens verloor weens dié “gebrek aan dringendheid”.

“Daar is ʼn netwerk van die dialisesentrum wat saam met die nefroloog (nierspesialis) toesig hou oor ʼn pasiënt. Dié koördineer dan weer met die oorplantingspan en uiteindelik moet alle data klop met dié van die nasionale mediese raad voordat so ʼn operasie kan plaasvind. Dit alles mors ongelooflik baie tyd langs die pad. In lande soos die VSA en Kanada kan nieroorplantings binne sowat drie maande geskied, maar ongelukkig het ons nie die geld om eers in daardie rigting te kyk nie. Ons kan boeke skryf oor tyd wat in Suid-Afrika gemors word.”

Vanweë sy gesondheidstryd werk Adam al geruime tyd nie meer nie en hou sy vrou, Almitra, die pot aan die kook met haar onderwyssalaris. Die egpaar en hul vyfjarige dogtertjie, Carmie, woon op ʼn plaas in die Sasolburg-distrik saam met Adam se pa en sy vrou, Zulet.

Louis is met Zulet getroud nadat Christie Barnard, Adam se ma, in Junie 2017 in ʼn trompop botsing dood is. Die ongeluk het tussen Sasolburg en Parys, nie ver van die plaas af nie, gebeur.

“Soos jy kan dink was sy ma se afsterwe vir hom ʼn geweldige terugslag. Sy sou vir hom ʼn nier geskenk het en dit het die mat onder ons klein gesinnetjie se voete geruk. Ons was vir ʼn lang tyd in ʼn baie diep gat, maar toe ontmoet ek vir Zulet, en sy het ʼn ouma vir klein Carmie geword en ʼn moederfiguur vir Adam en Almitra, asook Adam se suster, Jenske. Die ondersteuning wat Zulet aan ons gesin bied, is van onskatbare waarde.”

Ten spyte van sy eie gesondheidstryd wil Adam nou deur middel van ʼn nuwe Facebook-blad, SA Nierpasiënte- en skenkers, ander niersiektelyers moed inpraat en ander mense in nood in staat stel om gedagtes en inligting uit te ruil.

“Daar is soveel mense wat praat oor dieselfde ding – hoe die tyd op eie bodem gemors word vir pasiënte wat dit nie kan bekostig nie. Die jonger ouens, soos Adam, kan nog uithou op ʼn dialisemasjien, maar die ouer mense sterf doodeenvoudig. Adam het al soveel van sy ouer vriende aan die dood afgestaan, want hulle kan nie vir jare op ʼn dialisemasjien sit nie en die uitvoering van die operasies sloer geweldig. Ons weet nie wat die rede daarvoor is nie,” sê Louis.

Hy gee toe dat Adam soms sukkel om staande te bly en dat hy moedeloos raak. Sy dogtertjie raak ook nou meer bewus daarvan wanneer haar pappa hospitaal toe moet gaan.

Adam Barnard destyds op die verhoog. (Foto: Verskaf)

“Vir Almitra is dit ook baie swaar elke keer wanneer haar man vir weke aaneen hospitaal toe moet gaan. ʼn Ou se keel trek maar toe wanneer sy bel en sê: ‘Pa, hier is fout’, maar gelukkig is ons in die bevoorregte posisie dat hulle huisie naby aan ons s’n is op die plaas en ons kan dadelik optree.”

Daar is ook ʼn gebedsgroep op Facebook waarop honderde mense wêreldwyd vir Adam bid en hom ondersteun, maar Louis sê dit is die nabye vriendskappe wat mettertyd opdroog wat vir Adam die swaarste is om mee saam te leef.

In Julie 2017 het meer as 4 500 mense ʼn konsert ten bate van Adam se mediese onkoste deur die voormalige Romanz-lede bygewoon. Juanita du Plessis en Willie Joubert, wat albei voorheen duette saam met dié groep gesing het, was ook daar. Adam het self in ʼn rolstoel die verhoog betree en vir twee en ʼn half ure lank saam met sy voormalige groeplede gesing.

Van dié ondersteuningsnetwerk is daar egter nou weinig oor, sê Louis.

“Die grootste seer in ʼn ou se lewe is egter wanneer jy op ʼn siekbed lê en mense wat eens jou vriende was, hou op om kontak te maak. Dit is ongelukkig maar soos die mensdom is. Ek as pa staan een kant en ek sien hoe ʼn ou soos Adam, wat eens op ʼn tyd bekend was in ʼn groep soos Romanz en soveel vriende gehad het, nou diegene wat hom bystaan op een hand kan tel.

“Adam wil nie meer mense se geld hê nie, hoewel daar verskeie platforms is waar mense hom geldelik kan ondersteun. Vir hom is dit ʼn groot droom dat mense net ʼn koppie koffie sal kom drink op die plaas, ʼn snytjie koek saam sal eet en net ʼn bietjie by hom kuier. Sou dit hulle dan op die hart druk om R10 te skenk, sal dit help om gate toe te stop, want eerlikwaar is elke ekstra sent wat ons gehad het opgevreet deur mediese onkoste.”

Hy voeg by dat hulle as gesin elke dag steeds in ʼn geestelike leerproses is, sê Louis. “Ons leer dat ons kan bid en dat ons kan pleit, maar soms sterf mense en wonderwerke gebeur nie altyd nie. Partykeer wonder jy hoe lank jy nog die ellende en pyn moet verduur. Adam is in konstante pyn, die graad daarvan verskil net daagliks.”

  • Om Adam geldelik by te staan, besoek die BackABuddy-blad of kontak Maroela Media by [email protected], wat kontak met Adam se familie sal maak vir ʼn bankrekeningnommer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mallie ·

Daar is mos nou n deurbraak gemaak om batk niere op mense oor te plant.

AW ·

So het elke mens sy of haar eie Lewens Storie .

Bid en wens jou alle voorspoed !!

Kalla ·

Adam baie sterkte aan jou en jou dierbare familie wat jou met liefde en deernis bestaan. Bid vir julle.

Susan ·

Ai, dis baie hartseer! Hoop daar kom gou uitkoms in die vorm van die regte skenker van ‘n nier. Gebede vir Adam en sy familie vir voorspoed en goeie gesondheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.