Video: Temalied ʼn boodskap oor vrouebemagtiging

Sharoney en Carma sing die temalied vir VIA se ‘Sterstatus’.

“Vrouwees elemente” is ʼn splinternuwe, opgewekte snit uit twee opkomende Afrikaanse sangeresse, Carma en Sharoney, se kraal.

Dié lied, wat vrouwees vier, is nie net gepas om Vrouemaand te vier nie, maar is ook die temalied van die jongste seisoen van die werklikheidsreeks Sterstatus, wat op VIA op DStv uitgesaai word.

Dié program bied ʼn platform vir jong meisies wat daarvan droom om in die kollig te wees, hetsy as aktrise, aanbieder, model, sosialemediaster, sakevrou of glanspersoonlikheid.

Carma, wat verlede jaar as naaswenner van die kompetisie aangewys is, is ook ʼn sangeres en liedjieskrywer van Potchefstroom in Noordwes. Sy het onder meer liedjies soos “Oase” en “Skadu’s van grys” saam met Waldo Greeff uitgereik.

Sterstatus is ʼn bemagtigingsplatform vir jong vroue waarin hulle elemente van vroulikheid uitgebeeld word. Die temalied som op wat dit beteken om ʼn vrou te wees,” sê Carma, wat die liedjie self geskryf het.

Carma en Sharoney. (Foto: Facebook)

Sy het daarna vir Sharoney, ook ʼn titelhouer van die Sterstatus-kompetisie, genader om die liedjie saam met haar in Robin Kielly se ateljee op te neem. Sharoney is ʼn sangeres in eie reg en het liedjies soos “Ons teen die wêreld” en “Vir ewig 21” uitgereik.

Carma het die konsep vir die video behartig en ‘n hele rits voormalige Sterstatus-deelnemers verskyn in die video.

“Ons is albei onafhanklike kunstenaars en vroue wat streef na vroulike bemagtiging. Die liedjie is nie nét Sterstatus se temalied nie, maar is ook ʼn lied waarby alle vroue kan aanklank vind. Dit is belangrik dat vroue hulle waarde moet besef en uitleef.”

Sharoney en Carma. (Foto: Facebook)

Sterstatus is elke Donderdagaand om 18:00 op VIA, DStv-kanaal 147, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.