Down se sindroom met vet pret, prestasies gevier

Club21 het besluit om Down se sindroom op ʼn prettige wyse met ʼn waterpretdag vir leerders by hul skool te vier. (Foto: Verskaf)

Net omdat iemand ’n ekstra kopie van die 21ste chromosoom het, beteken dit nie dat hulle nie kan presteer en floreer nie.

Dít was die kernboodskap van die Club21-leersentrum se vieringe van die Down se sindroom-bewusmakingsmaand, wat wêreldwyd in Oktober en plaaslik spesifiek op 20 Oktober gevier word.

Maroela Media het vroeër berig dat dié uiters unieke skool, wat kampusse in Pretoria, Polokwane en Helderberg in die Wes-Kaap het, sedert 2012 in die opvoeding en ontwikkeling van mense met Down se sindroom spesialiseer, en jongmense met Down se sindroom selfstandig wil maak om die wêreld daarbuite te betree.

Vanjaar het die skool besluit om Down se sindroom op ʼn prettige wyse met ʼn waterpretdag vir leerders by hul skool te vier.

“Volgens statistieke word ongeveer een in elke 500 babas per jaar met Down se sindroom gebore. Dit beteken dat daar jaarliks sowat 6 000 babas met Down se sindroom in Suid-Afrika gebore word en ’n wye verskeidenheid simptome en kenmerke kan hê, insluitend, gesondheidsprobleme soos hartafwykings en gehoorverlies,” verduidelik Amanda Fourie, hoof van die Club 21-leersentrum.

“Dit is belangrik om ’n ondersteunende omgewing te skep vir individue met Down se sindroom, sodat hulle die geleentheid het om volwaardige lewens te lei.

Verskeie leerders het hul skool en provinsie se name by nasionale kompetisies hoog gehou. (Foto: Verskaf)

Volgens Amanda was die fokus vandeesmaand egter nie net op dié leerders se pret nie, maar ook op hul prestasies – met verskeie leerders wat by nasionale kompetisies veral die Gautengse provinsie verteenwoordig het.

Pieter Starke, Kallen Prinsloo en Duncan Craige het hul skool en provinsie se naam hoog gehou by ʼn nasionale sportgeleentheid in Kaapstad, waar hulle aan tafeltennis deelgeneem het. Angie Bezuidenhout, Duncan Craigie, Chelize Henry, Minette Swart, Kallen Prinsloo en Cindy Engelbrecht het Gauteng ook by die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Verstandelik Gestremdes in Polokwane verteenwoordig.

Volgens Amanda is dit dié sportsterre se droom  om aan die vierjaarlikse Trisomie Spele in Turkye in 2024 te gaan deelneem en Suid-Afrika in atletiek, tafeltennis en swem te verteenwoordig.

Francois Hartzenberg is verder gekies om Gauteng-Noord in ysskaats by die Gautengse provinsiale kampioenskappe by Forest Hill te verteenwoordig.

Die skool se kultuurdiere het ook rede om te vier, met Seth Cusack wat weggestap het met die beoordelaarsprys by ʼn internasionale fotografiekompetisie vir die foto wat hy van sy vriendin Dominique vasgevang het. Tromspeler Jason Brook het ook sy skool se naam by ʼn plaaslike Pretoriase konsert hoog gehou.

“Ons is so trots op die mooi prestasies van die leerders. Hulle het bewys dat hulle enige uitdaging kan oorkom en hulle harde werk, toewyding en passie is ‘n voorbeeld vir ons almal. Ons ondersteun hulle ten volle en glo dat hulle nog baie suksesvolle oomblikke in die toekoms sal beleef.”

Maroela Media en Club21 vat hande vir ‘Boekebos’

Sedert drie mammas van die Club21-leersentrum in Februarie vanjaar die saadjie geplant het om ʼn biblioteek vir dié skool op te rig, het skole, sakeondernemings, uitgewers en vrywilligers ingespring om hul droom te help bewaarheid.

Izelle Els, stigter van die Club 21-leersentrum, en haar seun, Jan-Herman, het die sooi vir dié skool se droombiblioteek gespit. (Foto: Maroela Media)

Twee vragskiphouers word tans stuk-stuk opgerig en mooigemaak, terwyl duisende geskenkte boeke uitgesorteer word om binnekort as die blinknuwe “Boekebos-leessentrum” vir dié skool ingerig te word.

Die eerste sooi is in April by die skool se perseel in Centurion gespit, en met goedkeuring van die stadsraad sal die vragskiphouers binnekort op die skoolgrond geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.