ACDP skop vas oor verpligte inenting

Eerw. Kenneth Meshoe, leier van die ACDP. (Foto: Facebook)

Die ACDP sê hy steun studente by hoër onderwysinstellings wat die afgelope ruk hul stem dik gemaak het teen verpligte Covid-19-inentings.

Die party hou voet by stuk dat verpligte inenting nie in Suid-Afrika toegelaat mag word nie. “God gee aan mense ʼn keuse. As God aan mense ʼn keuse gee, is dit verkeerd vir enige regering om mense te dwing om iets te doen wat hulle nie wil nie,” het dr. Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, Maandag gesê.

Verskeie universiteite het die afgelope ruk aangekondig dat diegene wat nie ingeënt is nie, nie voortaan op kampusse toegelaat sal word nie. Dit sluit in die Universiteit van die Vrystaat, waar studente, besoekers en personeel van volgende maand ʼn Covid-19-inentingsertifikaat of ʼn negatiewe Covid-19-toets moet toon voor hulle toegang tot een van die UV se drie kampusse mag kry.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het ook aangekondig dat studente en personeel voortaan ʼn bewys van inenting sal moet lewer as ʼn voorwaarde vir registrasie en om die indiensneming van personeellede te bestuur.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het vroeër aangekondig hy beplan soortgelyke reëls, terwyl die Universiteit van Kaapstad (UK) ook onlangs die groen lig gekry het om inentings verpligtend te maak.

Meshoe het gister opnuut die party se teenkanting teen verpligte inenting te kenne gegee en gesê mense moet ʼn keuse daaroor gegun word.

“Ek wil net sê ‘viva’ aan die studente. Ons sal saam met julle staan.”

Meshoe sê hierdie instellings kan nie teen die Grondwet – wat toegang tot onderrig waarborg – en die wense van studente gaan nie. “Alle studente moet toegang tot onderrig hê.

“As jy vrede in Suid-Afrika wil hê, moenie mense dwing nie.”

‘Nee’ vir verpligte inenting  

Die ACDP is sterk gekant teen verpligte inenting en is ook besig met ʼn regstryd in die hooggeregshof om die inenting van kinders te stuit. Die saak word binnekort aangehoor.

“Van wanneer af word mense gedwing om aan eksperimente deel te neem? As jy wil deelneem, is dit jou keuse,” sê Meshoe.

Die ACDP-leier sê mense word stilgepraat en dat dwang altyd verkeerd is – ook in die geval van entstowwe. Meshoe sê daar is ʼn afname, verdwyning en verwoesting van demokratiese waardes in sommige lande waar mense nie meer toegelaat word om vir hulself oor kwessies soos inenting te besluit nie.

Hy sê mense word onder andere met dreigemente oor hul vryheid gedwing om ingeënt te word. Maatreëls soos Covid-paspoorte en ʼn verbod op toegang tot sekere venues is volgens Meshoe ook niks anders as “hedendaagse apartheid” nie.

Gʼn hulp vir dié met newe-effekte

Meshoe sê mense wat in sommige gevalle subtiel gedwing word om ingeënt te word, het nou boonop nêrens om hul heen te wend wanneer iets skeefloop nie. Volgens die ACDP voer die party ʼn opdraande stryd om enige inligting oor die regering se vergoedingsfonds vir diegene wat skade ly omdat hulle die Covid-19-entstof ontvang het, te bekom.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake het verlede jaar aangekondig dat dié vergoedingsfonds as deel van die ramptoestand op die been gebring word. Dit is veronderstel om diegene wat ernstige newe-effekte weens die toediening van die Covid-19-entstof ondervind by te staan.

Meshoe sê om te hoor dat die fonds steeds nie ten volle in werking gestel is nie, is ʼn bron van groot kommer.

“Dit is onregverdig vir mense om beserings op te doen wanneer hulle opdragte uitvoer, of gedwing word om iets te neem wat hulle nie wil nie. En wanneer hulle dan mediese uitgawes het of pyn ondervind, is daar niemand om hulle te help nie.

“Hulle het hulp nodig; hul lewens is omgekeer. Ons glo daar moet hulp wees. Die president het ʼn belofte gemaak. Daar is ʼn vergoedingsfonds en die publiek moet daarvan weet en weet hoe om toegang daartoe te kry.”

Twee mense wat aanvoer dat hulle ernstige newe-effekte ondervind het sedert hulle die Covid-19-entstof ontvang het, het Maandag hul ondervindings op die ACDP se mediakonferensie gedeel.

Zakhele Goqo is ʼn voormalige paramedikus wat aanvoer dat die toediening van die entstof sy lewe in ʼn nagmerrie verander het, terwyl Soreka Oosthuizen by mense gepleit het om hulle nie te laat ompraat indien hulle gekant is teen die entstof nie.

Meshoe sê sommige van die slagoffers word boonop beskuldig dat hulle jok wanneer hulle praat oor ernstige newe-effekte. “Kom ons ontken dit nie wanneer hulle sê hulle ondervind pyn nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Claudette

Ek stem ons kan nie gedwing word om die jab te vat nie. Dis teen ons regte

Johan

Mense wat lekker sterk natuurlike immuunstelsel het…laat hulle vry, hoekom hul hoegenaamd bloodstel aan doe neweefekte van die spuit! Dis darem maar vreeslik hoe boos mense wat mag het is. Die is nie die wêreld wat God vir ons bedoel het nie.

Casper

Wat ‘n grap.Julle wil nie inent nie en lê dan die blaam voor die deur van regeringslui as julle die virus opdoen.Tersieëre instellings is juis waar die virus kan toeslaan.As daardie mense wel die spuit vat kan kudde inenting vinniger bereik word en kan die pandemie gestuit word.Jy mag natuurlik weier maar die reël van “reg van toegang voorbehou”geld ook.Twee mense met ernstige newe effekte uit hoeveel miljoen wat ingeënt is.Is dit werklik van die spuit of is dit veroorsaak deur ander mediese toestande.Hierdie aangeleentheid sal met omsigtigheid benader moet word.Is die virus afkomstig van God af pastoor en die… Lees meer »

Trotse Boervrou

Ek dink met die volgende verkiesing stem ek ACDP. Hul gee om vir mense en het nie hul eie verskuilde agendas nie. Dankie eerw. Meshoe, baie respek.

Jacob

Die afdwing van mRNA entstowwe op mense kan in sekere ouderdomsgroepe as poging tot moord beskou word as die voorkoms van miokarditis en perikarditis in ag geneem word. En daar is heelwat ander toestande wat kan voorkom. Verder is die mRNA entstowwe steeds in ‘n eksperimentele toetsfase en dus is ‘n mRNA Covid 19 entstof mandaat volgens die Nuremborg Kode, ‘n misstap teen die mensdom. Mandate herinner inderdaad aan Nazi Duitsland. Enige ingeligte persoon weet dat die entstowwe grootliks nutteloos is, veral teen Omicron en dat die sogenaamde beskerming ‘n paar maande na ‘n tweede dosis, basies verdwyn. In die… Lees meer »