Antwoorde geëis oor Zuma se spesiale kwytskelding

Oudpres. Jacob Zuma  (Foto: AP Photo)

AfriForum het Donderdag ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die kantoor van pres. Cyril Ramaphosa ingedien om meer inligting te bekom omtrent oudpres. Jacob Zuma se onlangse spesiale kwytskelding.

Zuma het verlede Vrydag net sowat ʼn uur agter tralies deurgebring voor die tronkdeure weer vir hom oopgeswaai het as deel van Ramaphosa se splinternuwe spesiale program om kwytskelding aan nie-gewelddadige oortreders te gee.

AfriForum versoek nou onder meer ʼn omvattende lys van diegene wat voordeel getrek het uit die spesiale kwytskelding sowel as hul oorspronklike vonnisse, aanklagte en die datum van hul vrylating. Die organisasie eis ook gedetailleerde riglyne of kriteria wat gebruik word om te bepaal aan watter gevangenes die spesiale kwytskelding toegestaan is.

Maroela Media het vroeër vandag berig meer as 24 000 gevangenes sal na verwagting vrygelaat word, onder wie 3 000 buitelandse burgers wat gedeporteer sal moet word, as deel van die president se spesiale program.

AfriForum versoek nou ook in sy aansoek enige assesserings, verslae of navorsing wat gedoen is om die potensiële sosiale en sekuriteitsimpakte van die vrylating van so ʼn aansienlike aantal gevangenes gelyktydig te evalueer én die rekords van enige konsultasies of vergaderings wat gelei het tot Ramaphosa se goedkeuring van die kwytskelding.

Die organisasie versoek ook inligting oor enige vorige veroordelings of parooloortredings van die gevangenes wat as deel van die kwytskelding vrygelaat is.

AfriFroum vereis ook die besonderhede van enige rehabilitasie- of herintegrasieprogramme wat die vrygelate gevangenes tydens hul aanhouding ondergaan het en die meganismes wat van toepassing is om die gedrag en aktiwiteite van vrygelate gevangenes te monitor of na te spoor.

Die organisasie wil ingevolge sy aansoek ook enige interne kommunikasie, memo’s of verslae wat die rasionaal of regverdiging vir hierdie spesifieke spesiale kwytskelding uiteensit bekom sowel as gedetailleerde statistieke of verslae wat die verwagte teenoor werklike impak van die spesiale kwytskelding toon.

Ernst van Zyl sê Zuma is óf een van die gelukkigste mense in Suid-Afrika óf die ANC gebruik hierdie spesiale kwytskelding as ʼn rookskerm om een van hul kamerade te help om geregtigheid te ontduik.

“Pres. Ramaphosa en sy administrasie gaan voort om te bewys dat hulle nie ernstig is om korrupsie te takel nie. As ʼn ANC-kader betrokke is, het hulle dit duidelik gemaak dat hulle elke moontlike toutjie sal trek om te verseker dat hy nie die binnekant van ʼn tronksel sien nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Stofdonkie ·

As die werkloosheidsyfers in ag geneem word kan dit met redelike sekerheid gesê word dat die 24,000 kriminele nie gaan werk kry as hulle vrygelaat word nie en dus hulself maar net weer wend tot misdaad om te kan oorleef

Mnr De Beer ·

My geliefde Afriforum waarvoor ek elke verkiessing stem kan informasie of enige iets versoek van die regering tot hulle blou is. Niks samewerkings of leuens is al wat hulle gaan ontvang. En as die waarheid ontvang gaan word gaan die Regering dit af lag

Piet ·

Die dag wanneer Afriforum as politiekeparty registreer gaan ek ook vir hulle stem.

Cherokee ·

So, jy stem elke verkiesing vir hulle. Hulle kry dus een stem, want slegs jy weet waar daardie verkiesingslokale is.

Marius ·

Drive thru tronk , spesiaal vir zuma. zuma in , zuma uit . So beskerm hulle mekaar die kader gemors en wie moet betaal vir die gemors ????

Koos 100 ·

Julle mors tyd en energie. CR en sy hele kabinet het geen begrip wat dit is om die waarheid te praat nie. Heng, tot Mugabe het geweet hoe om die waarheid te praat. Stort julle energie in mobilisering van mense van alle rasse om teen die regering op te staan, en die grootste leunaars en bedrieërs wat ons nog in die regering gesien het, uit te stem!

Jacobus ·

Dit gebeur elke jaar voor n verkiesing. Dit het sopas weer in Zimbabwe gebeur voor hulle verkiesing.

domheks ·

Ons het nou deur-ry tronke! 1ste in die wereld! En dit was CR se uitvinding. Heheheheeeee!!!

SjN ·

Carel Nieuhaus het mos gese op Rian se show hoe korrup die anc se werkswyse is.

JohanR ·

Sy hotel kamer was nie goed genoeg vir hom vir die volgende 13 maande. Jacob Zuma moet rerig die grootse stuk gemors wees in Suid Afrika……maar pres. Ramaphosa werk daar aan!

HPJ ·

Hierdie val nou so reg in die DA se beskrywing Die DA is die party van DRAMA en AKTEURS

Lillian ·

Julle gaan wag tot doemstyd toe om antwoorde te kry. Dié lot in die parlement is almal kop in een mus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.