Begroting steun groei, ontwikkelingsdoelwitte – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Baba Jiyane /
GCIS)Begrot

Ondanks skerp kritiek wat die teendeel aanvoer, hou pres. Cyril Ramaphosa vol dat die regering se begroting vir die nuwe jaar ekonomiese groei bevorder en die regering se ontwikkelingsdoelwitte ondersteun.

“Oor die afgelope vyf jaar het ons verskeie stappe gedoen om ons ekonomie weer op dreef te kry,” het Ramaphosa Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê.

“Ons het verreikende hervormings in die energie-, logistiek-, water- en telekommunikasiesektor ingestel om bindende groeibeperkings te takel. Ons het ’n stabiele makro-ekonomiese omgewing geskep om belegging aan te moedig en maatskaplike hulp uitgebrei om werk te skep en ’n inkomste aan werkloses te voorsien.”

Enoch Godongwana, minister van finansies, het die 2024-begroting verlede week ter tafel gelê.

Dit het kritiek van verskeie ekonome, politieke partye en ander rolspelers ontketen, wat onder meer aanvoer dat die ANC-regering “nooit sal verander nie” en Suid-Afrikaners self sal moet woeker om verandering teweeg te bring.

Ander kritici meen weer die begroting is ’n blote reddingsboei vir die ANC, terwyl sommiges dit as ’n “verkiesingsbegroting” beskryf het met die belastingbetaler wat steeds aan die kortste ent trek. Landbou-organisasies is ook ontevrede oor die karige steun wat dié uiters belangrike sektor in die begroting kry.

Volgens Ramaphosa sal die 2024-begroting ekonomiese groei egter op minstens drie maniere ondersteun.

Die eerste is die vermindering van staatskuld.

“Oor die afgelope vyftien jaar het ons skuldlas tot ’n punt gegroei waar ons meer aan rentebetalings bestee as aan onderwys of gesondheidsorgdienste.

“Deur skuld te verminder, sal ons meer ruimte skep vir besteding aan dié dinge wat saak maak: die bou van ons infrastruktuur, die verbetering van skole en hospitale, en die beveiliging ​​van ons gemeenskappe.”

Die president sê verder hoe minder die staat leen, hoe meer kan in die ekonomie belê word.

Tweedens beskerm die begroting noodsaaklike dienste en maatskaplike besteding, wat verseker dat die regering sy kernverantwoordelikhede teenoor Suid-Afrikaners kan nakom, aldus Ramaphosa.

“Ons het bykomende geld vir dienslewering bewillig, wat sal help om die salarisse van polisiebeamptes, onderwysers, verpleegsters en dokters te betaal.

“Hierdie jaar alleen gaan ons meer as R480 miljard aan onderwys bestee, R272 miljard aan gesondheid en R265 miljard aan ander dienste soos water, behuising en openbare vervoer.

“’n Verdere R7,4 miljard sal gaan vir die presidensiële indiensneming-stimulusprogram, wat reeds meer as 1,7 miljoen geleenthede vir werk en ’n inkomste vir mense oor die afgelope drie jaar geskep het, en wat verseker dat sleutelprogramme soos [die aanstelling van] skoolassistente voortgaan.”

Ramaphosa sê maatskaplike toelae word ook verhoog om die armste huishoudings te help om die stygende lewenskoste te trotseer.

Volgens die president sluit die derde belangrike aspek van die begroting nuwe maatreëls in om ekonomiese groei te bevorder en werksgeleenthede te skep, terwyl infrastruktuur herbou word.

“’n Nuwe toelaag van R2 miljard is toegeken om die bekendstelling van slimmeters in munisipaliteite te finansier. Dit sal help om ons kragstelsel te moderniseer en beurtkrag te verminder. ’n Ruim aansporing sal ingestel word om die vervaardiging van elektriese voertuie vanaf 2026 te ondersteun, as deel van ons verbintenis om Suid-Afrika as ’n leidende rolspeler in die oorgang na ’n groen ekonomie te vestig.”

Ramaphosa sê innoverende nuwe finansieringsinstrumente vir infrastruktuurprojekte is ook ingestel, en dat die nasionale tesourie hersiene regulasies gepubliseer het om vennootskappe tussen die openbare en private sektor makliker te maak.

“Hierdie maatreëls sal baie groter investering in infrastruktuur moontlik maak.

“Ons ekonomie het die afgelope dekade onder lae groei en stygende skuld gesteier, wat tydens die staatskaping-era vererger is. Laasgenoemde het ook vertroue heeltemal verbreek.

“Hierdie administrasie het hard gewerk om dit te verander en ’n grondslag te vestig vir beter groei en meer werksgeleenthede. Die 2024-begroting wys dat ons in die regte rigting beweeg. Ons is vasbeslote om op hierdie pad voort te gaan, ekonomiese hervormings deur te voer, ons staatsfinansies reg te ruk en basiese dienste vir die armes te verseker. Deur saam te werk sal ons beter jare vorentoe verseker.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anel ·

Seef, ek stem saam. Wha, ha, ha! Vir 40 jaar het niks gebeur nie, net agteruit geboer. Wat gaan dit nou anders maak????

Elizabeth ·

Wys jou net. Cyril Ramaphosa het geen benul van finansies. Hy kan net geld tel.

Nicky ·

Ek dink in sy agterkop se hy AS EK HULLE KAN OORTUIG GEE DIT VIR MY MEER GELD, Daar is net sekeris wat hy kan oortuig

Boatsie ·

Snuif die ou gom of praat hy van ‘n ander land.
Groei, vooruitgang, positiewe stappe, weet die perd wat dit beteken?????????
Hy sê die goed terwyl riool orals in strate loop, mense het nie werk of kos of water nie, paaie val uitmekaar en werkloosheid verhoog elke kwartaal.
Iemand moet hom wakker skud of klap asb.

koos10 ·

Kyk, van ekonomie weet ek nie baie nie, maar as jou toelaes, skielik inkomste genoem word, dan is daar fout. As jou belastingbetalers minder word en jou welsyn toelaes meer word, dan is daar fout. As jou uitgawes meer is as jou inkomstes, dan is daar fout. As jou BBP dienste meer geld kry as jou Forensiese dienste, dan is daar fout. As jy geld wil vat uit jou neseier, om te oorleef, dan is daar fout.
Lyk my ek weet darem meer as die president.

Papsak ·

In 40 jaar het hier niks gebeur nie hoekom sal daar nou iets gebeur Ramaposa lieg alweer lee beloftes hy en kaders het niks vir die land tot nou gedoen nie ek se hulle moet gaan hy sien verkiesing is om die draai daarom !!!!!!

Johan ·

Liewe aarde! Kan n mens soveel snert kwytraak en homself glo! Selfs die persoon of (seker) persone/konsultante wat sy weeklikse brief skryf se integriteit moet bevraagteken word…. maar teen n vet salaris moet hulle maar diegene wie hulle betaal, laat goed lyk en klink. In hierdie nuusbrief word bitter min gesê wat n mens ernstig kan opneem.

annie ·

Ou denkedraaier… So het hy ryk geword, maar byt nou die hande want hom vet gevoer het. Cyril wil sy planne inbed of inbank in SA se mense vir nog vyf jaar van lekker soustreinry… Hy sal net eers treinspore moet kry vir sy ysterperd… Wat van die privaatsektor? Kommuniste lief dit mos.

Chris ·

Daar is geensins enige iets positief in die begroting nie. Net die ANC sal dit dalk glo!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.