Cele waarsku betogers oor #NationalShutdown

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: Rasaad Adams)

Ministers in die polisie se veiligheidsgroepering (JCPS) het Donderdag hul stem dik gemaak oor die nasionale betoging wat vir Maandag beplan word en die versekering gegee dat die land en alle bedrywighede op dié dag normaalweg sal voortgaan.

“Ons wil almal in die land verseker dat 20 Maart ʼn normale werksdag sal wees,” het Bheki Cele, minister van polisie, gesê.

“Ons wil ook die internasionale gemeenskap verseker dat alle hawens van toegang – land, see en lug – soos normaal bedryf sal word, in teenstelling met die uitsprake deur diegene wat die betogings beplan.”

Cele sê daar is reeds maatreëls getref om te verseker dat almal wat wil werk, reis en sake doen dit Maandag in ʼn veilige omgewing kan doen. Wetstoepassingsowerhede sal onder meer regoor die land ontplooi word om lede van die publiek te beskerm en die wet af te dwing.

“Enigiemand wat iemand intimideer, keer om werk toe te gaan, die paaie en snelweë versper en enige vorm van geweld gebruik om ons mense te probeer keer om met hul lewens aan te gaan, sal die volle mag van die gereg ervaar.”

Cele het ook sosialemediagebruikers gemaan dat enigeen wat geweld aanlyn aanhits of vrees by mense inboesem en hulle probeer intimideer, krimineel aangekla kan word.

Verskeie sosialemediaplasings beweer dat honderde duisende mense, onder meer vakbonde, gemobiliseer is om Maandag die strate in te vaar.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco), die Padvragvereniging (RFA) en Solidariteit het egter reeds aangekondig dat hulle lede van voorneme is om Maandag soos normaal werk toe te gaan.

Verskeie regeringsdepartemente en dienste sal ook soos normaal bedryf word.

Wetstoepassingsowerhede sal nietemin die situasie fyn dophou om te verseker dat geen bedrywighede ontwrig word nie.

“Ons doen ʼn beroep op gemeenskappe om enige vorm van kriminaliteit en intimidasie op die dag by die polisie aan te meld,” sê Cele.

“Dié wat aan die beplande betogings gaan deelneem, word gewaarsku dat geen kriminaliteit geduld sal word nie.”

Die EFF het ten doel om met die betoging te eis dat ʼn einde aan beurtkrag gemaak word en dat pres. Cyril Ramaphosa bedank.

  • Lees hier meer oor die beplande betogings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

JP ·

By wie kan ek Maandag kom Nuus kyk op n GROOT tv? Ek sal bier en snacks bring.

DEON ·

Die plekke waar die korrupte polisie net gaan staan en toekyk hoe geplunder word en skade aangerig word oordat hulle useless is om wet en orde te handhaaf, kan hopenlik van die polisie diens verhaal word. Dit is wat gaan gebeur.

Nettie ·

Die groot Indoena het gepraat. Ons kan dus nou maar ontspan.

TruthDealer ·

Nee wat, ek het geen vertroue in die polisie om alles orals te kan beheer nie. En as hulle wel opdaag, monitor hulle net. Ek voorsien n groot klomp skade en geweld op daardie dag.

Wonder ·

Ek vertrou Cele soos ek die EFF vertrou!!! Ek gaan nie n kans waag nie…

Theunis ·

Net soos ek nou my tyd gemors het om op die berig te reageer is presies dieselfde wat mulema en cele hulle totale lewe doen. Leë simbale en niks werd vir die samelewing nie.

George ·

Jou polisie staan net en kyk, inteendeel, kyk weer PMB se onruste hoeveel van hulle het deelgeneem aan die plundering! Cyril, die land is mos veilig, los jou lyfwagte, dan ry jy vir my van die unie gebou na die lutelie huis in jhb.

sopbeen ·

Ek hoop die ouens met die kookolie staan reg en dat hulle dit sal record.

Piet ·

Nee, Bekkie. Nie “kan” vervolg word nie! SAL vervolg word.

Sean ·

Maak die spul bymekaar wat die betoging probeer reel en aanhits Roei die kwaad by die wortel uit en stop dit vir eens en vir altyd Die betogers oefen mos al lank al om paaie af te sper

kragaap ·

“die volle mag van die gereg”……ha ha dink hy dit beteken iets …..

Eugene ·

Ek lag nou. Hoedman se, wetstoepassers sal maandag die situasie fyn dophou, hulle kyk net altyd elk geval.

Doompie Daan ·

Ek probeer baie hard om positief te wees, maar sukkel daarmee! Maandag 20 Maart 2023 sal ‘n goeie toets vir min Bekkie en die SAPPE wees of hulle woord by stuk kan hou en ons as vredeliewende burgers en ons besittings kan en sal beskerm – soos wat hulle in elk geval veronderstel is om te doen!

gpsa ·

Geen wonder ons is op die wereld grys lys nie. Ons laat terrorisme toe. Watter land sal wil besigheid doen met ‘n land soos SA? Probleem ANC is nie sterk genoeg om hierteen op te staan nie.

Hoopvol ·

Dit help nie daar word dreigemente in die lug gemaak nie. Julius Malema het reeds gedoen waarteen Cele ander waarsku. Min Cele, vervolg HOM dan, of leef daarmee saam as ons nie meer ag slaan op jou leë uitlatings nie…

Eugene ·

Ons land se plaasboere moet maandag gereed wees vir enige aanvalle. Die EFF is in staat tot enige iets.

Eugene ·

Hoedman, maandag sit jy in een van jou baie huise, en kyk rustig hoe jou, ondersteunende party alles brand en vernietig terwyl jou sogenaamde polisie beamptes die situasie fyn dophou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.