Cope-raadslid nuwe Jhb-speaker

Colleen Makhubele, die nuwe speaker van die Johannesburgse metroraad. (Foto: City of Joburg/Facebook)

Die Cope-raadslid Colleen Makhubele is tot speaker van die Johannesburgse metroraad verkies.

Dit kom nadat die raad vroeër vandeesmaand in wanorde verval het toe die DA-lid en destydse speaker, Vasco da Gama, in ʼn mosie van wantroue uit sy pos verwyder is.

Makhubele het in die jongste stemming altesaam 141 van die 270 stemme gekry, terwyl die DA se Alex Christians 129 daarvan gekry het.

Die DA-geleide koalisieregering in die Johannesburgse metroraad het toe Da Gama uitgestem is, sy misnoeë uitgespreek dat Makhubele, toe die voorsitter van voorsitters, as die waarnemende speaker opgetree het sonder ʼn amptelike stemming.

Sy het kort hierna glo ʼn skorsingsbrief van Cope se tussentydse provinsiale komitee ontvang, maar ná ʼn geheen en weer is Makhubele toe nie geskors nie.

Die koalisieregering het intussen gesê dat hy die “demokratiese uitkoms van die verkiesing van die nuwe speaker” aanvaar.

“Speaker Makhubele het nou ʼn reusetaak voor haar,” het die kantoor van die Johannesburgse burgemeester, Mpho Phalatse, gesê.

“As speaker moet sy verseker dat die inwoners vertroue in die raad se werk het deur onder meer die bestuur daarvan te verbeter, besluitnemingsbevoegdhede en aanspreeklikheid te versterk en om vinnige en doeltreffende besluitneming te verseker.

“In daardie setel moet die speaker bo politieke komplotte verhewe wees en die belange van inwoners bevorder.”

Phalatse het onderneem dat die koalisieregering saam met die nuutverkose speaker sal werk om inwoners se diensleweringsbehoeftes te vervul en “haar aanspreeklik sal hou indien sy nie in die belange van die metro optree nie”.

“Ons fokus is nie politiek nie. Ons fokus is op die mense van Johannesburg,” sê sy.

“Ons beoog om hierdie verkiesingstermyn in die betrokke amp te voltooi sodat ons aan die stad en die land kan bewys dat die koalisiebestuursmodel positiewe opbrengste lewer.”

Phalatse het Da Gama vir ʼn laaste keer bedank vir sy tyd as die speaker van die metro.

“Ek sien uit om steeds saam met hom te werk want hy is altyd gereed en gewillig om gemeenskappe te dien, ongeag sy rang of status.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andries ·

Wanneer gaan die mense begin werk doen? Dis die hele tyd net ‘n bakleiery oor wie sit in watter posisie. Alles verval om hulle maar die stoel waarop jy sit is belangriker. Oor twee maande dan begin alles weer van voor af….

Nie Verbaas ·

Verhewe bo politieke komplot? Haar werk is uitgeknip vir haar met ANC lede daar.

Kobus ·

Vir die klomp narre gaan dit nie oor WAT reg is nie maar WIE is reg. Dis vir hulle ‘n loopbaan. Sy het nou die bus gevang , kom ons kyk wat doen sy daarmee , ek kry solank Oros en popcorn reg

Hennie ·

Net nog n geveg om langs die vreetkrip te gaan sit. Dienslewering gaan definitief nie verbeter nie.

JohanR ·

En wat gaan sy nou eintlik doen, behalwe ‘n vet salaris elke maand kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.