De Ruyter boor ANC-senuwee raak

André de Ruyter, voormalige hoof van Eskom. (Skermgreep: eNCA)

Die ANC se siedende aanval op voormalige Eskom-hoof André de Ruyter ná sy opspraakwekkende onthullings in ʼn TV-onderhoud oor sistemiese korrupsie in Eskom, is ʼn aanduiding dat die regerende party besef hy is diep in die moeilikheid.

“Pleks daarvan dat die Eskom-raad ʼn forensiese oudit gebied in die lig van dít wat ʼn gerespekteerde uitvoerende hoof van ʼn onderneming sê, spring hulle op en af en beëindig sy kontrak. Dit laat jou vra ‘hoekom?’” sê Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings.

Hy sê De Ruyter het die afgelope paar jaar met “een hand agter sy rug, indien nie albei hande nie”, sy bes gedoen om Eskom reg te ruk – en dat die onvermoë om die kragvoorsiener om te keer onlosmaaklik gekoppel is aan korrupsie en sabotasie. De Ruyter het as fluitjieblaser na vore getree, terwyl ander soos hy al vermoor is.

“Hy is van verraad beskuldig; dat hy ʼn polisieman is … toe hy vergiftig is, het niemand in die regering by hom gestaan nie. Toe hy bedank het, wou niemand hierdie gifbeker oorneem nie.

“Die ANC is onkant betrap en die raad kom nou tot die ANC se redding deur die uitvoerende hoof aan te val. Indien jy ernstig is daaroor om Eskom te herstel, sal jy hierdie aantygings ook ernstig opneem.

“Maar De Ruyter word ʼn verraaier genoem. Wat wil jy hê moet die man doen?” sê Cachalia.

Wayne Duvenage, hoof van die drukgroep Outa, sê ook die ANC se reaksie op De Ruyter se bewerings is tekenend. “Hulle is op die verdediging; hulle weet hulle gaan onder verdenking geplaas word.”

Hy meen ook ʼn forensiese ondersoek – deeglik en onafhanklik – gaan bewyse van hoëvlakpolitici se aandadigheid by korrupsie blootlê en dat dit die ANC gaan “laat sleg lyk”. De Ruyter het die probleme en misdadigheid boonop deurlopend aangemeld en ingrypings ingestel om korrupsie en sabotasie te pak.

“Indien goeie bestuur dan is dat jy ʼn ‘polisieman’ moet wees, dan is dit nou maar só,” sê Duvenage. “Want hy het beslis nie die steun van die regering hiervoor gehad nie.”

Daar was reeds een vorige aanslag op De Ruyter se lewe – in Desember verlede jaar toe hy vermoedelik met ʼn sianied-konkoksie vergiftig is – en twee speursersante is gestuur om ʼn verklaring hieroor by hom af te neem. Niemand is tot dusver in verband met die voorval aangekeer nie, en Bheki Cele, minister van polisie, sê daar word nog gewag vir die uitslag van forensiese toetse.

“Daar was geen medelye of ʼn vergadering met die president of die minister van openbare ondernemings nie; geen samestelling van ʼn top- forensiese span om vas te stel wie De Ruyter probeer vermoor het nie,” sê Duvenage.

“Indien mense op hoë vlak dus nie soos ander gewone mense op hierdie goed reageer nie, moet jy jouself afvra: Hoekom nie?”

De Ruyter het vroeër gesê hy gaan met vakansie, wil tyd saam met sy gesin deurbring en gaan ʼn ruk in die buiteland tyd deurbring omdat dit waarskynlik goed vir sy gesondheid sal wees. Cachalia sê as De Ruyter “in die land bly, sal iemand hom waarskynlik vermoor”.

ʼn Tussentydse hoof, Calib Cassim, is intussen by Eskom aangewys. Cachalia bestempel hom as ʼn “goeie man”, maar sê hy is net as oppasser daar geplaas.

“Die ANC gaan die een of ander marionet vir die pos vind wat doen wat hulle vereis. En wat hulle wil hê, is korrupsie,” sê Cachalia.

Senuwee raakgeboor

De Ruyter tydens die onderhoud met verslaggewer Annika Larsen. (Skermgreep: eNCA)

De Ruyter is die langsdienende Eskom-hoof nog, en het ʼn instelling probeer red wat met “kleefband en rubberbandjies aanmekaargehou word”, sê Duvenage. “Die krisis waarin die land hom bevind, lê voor die deur van die president en die regerende party. Hulle het hierdie krisis geskep. Nou probeer hulle die blaam verplaas.

“Wanneer jy die man en nie die bal begin speel nie en persoonlike aanvalle begin doen, moet jy weet iemand is desperaat,” sê hy.

Cachalia sê die president het ʼn ramptoestand afgekondig om Eskom te red en ʼn einde aan beurtkrag te maak, maar wanneer die Eskom-hoof praat oor korrupsie wat nie gepak word nie en bydra tot die probleem, word sy termyn summier beëindig.

“Die werkswyse van die ANC is vrot. Die oplossing, dat mense toegelaat moet word om ‘te eet’, is die ‘oplossing’ wat ons in die eerste plek in hierdie gemors gekry het.

“Jy laat dus diefstal toe, solank as wat die keiser sy gedeelte kry. Dit maak die hele situasie vrot. Ons almal weet wat die oplossing is: forensiese oudits en privatisering, maar die ANC sal dit nie in werking stel nie.

“Die enigste ander alternatief is om in die blêddie donkerte te sit tot ons in 2024 van die duisternis ontslae kan raak. En wie het ons in die duisternis gedompel? Die satan – en die ANC is daardie satan.”

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarkte by Intellidex, het die afgelope week aan Financial Times gesê die Eskom-raad se reaksie op die uitlatings was “vreemd”.

“Dit lyk nogal vreemd dat ʼn raad ʼn uitvoerende hoof sal uitdwing ná ʼn onderhoud oor die wydbekende kwessies van gewinstrewende gedrag (rentseeking) tussen die regering en Eskom.

“ʼn Senuwee is duidelik raakgeboor en die raad het geswig voor politieke druk om hom te verwyder,” sê Attard Montalto.

Fluitjieblaser

Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het vandeesweek klappe na De Ruyter uitgedeel en hom met regstappe gedreig oor bewerings dat senior politici by korrupsie betrokke is en dat hy dit onder die aandag van minstens een minister gebring het.

Hy het De Ruyter as “regs” bestempel en gesê die ANC verwerp sy “ongelukkige, roekelose en ongegronde bewerings van politieke inmenging en korrupsie by die beleërde” instelling. Mbalula sê ook De Ruyter moet met bewyse vorendag kom.

Die strafregkenner Llewellyn Curlewis sê egter die ANC se kans op sukses met enige regstappe teen De Ruyter is skraal.

“Waarheid in die openbare belang is ʼn verweer in die reg. Die stawing [vir ANC-betrokkenheid by korrupsie] is in die Zondo-kommissie se verslag,” sê Curlewis.

De Ruyter het wél ʼn verpligting om enige inligting oor misdaad aan te meld – wat hy blykbaar tot dusver herhaaldelik en onsuksesvol probeer doen het.

“Ek dink hy het die regte ding gedoen. Hy behoort beskerming te geniet, eerder as om onder die bus gegooi te word,” sê Curlewis.

Hy meen ook De Ruyter word nou ʼn sondebok gemaak vir alles wat tot dusver skeefgeloop het by Eskom, maar dat hy as fluitjieblaser en verantwoordelike uitvoerende hoof waarskynlik sy wetlike verpligtings behoorlik nagekom het.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, stem saam dat De Ruyter op ʼn baie hoë vlak ʼn fluitjieblaser-slagoffer is wat nou op verskeie fronte aangeval word.

“Hy het gewerk in ʼn toksiese omgewing wat sistemies korrup is. Sistemiese korrupsie se probleem is dat dit deur die hele sisteem strek; van senior vlak, regdeur. Verskeie besluitnemers is betrokke en hy het dit in die onderhoud uitgelig.

“Nou raak dit ʼn dilemma. Jy moet sekere goed openbaar, maar jy is in die toksiese sisteem. ʼn Gewone fluitjieblaser sal dit dalk anoniem aan die media bekend maak, maar hy het dit onder sy eie naam gedoen, wat ʼn baie groot risiko vir ʼn fluitjieblaser is.

“Dit is iets waarvoor ʼn mens hom moet loof. Hy het homself baie blootgestel ter wille van die waarheid,” sê Hermann.

Talle sake

Die Tutuka-kragsentrale in Mpumalanga. (Foto: Eskom)

In die opspraakwekkende onderhoud verwys De Ruyter onder meer na ʼn aankoper wat namens Eskom kniebeskermers aangekoop het. By die plaaslike hardewarewinkel kos dit sowat R320, maar in Eskom se geval is R80 000 per item betaal. Die persoon is aangekeer net om die volgende dag weer vrygelaat te word ­­­– met geen aanklag teen hom ingedien nie – en glo in opdrag van ʼn senior polisiebeampte.

“Ek dink dit is billik om te sê dat die polisie se reaksie tot dusver teleurstellend was,” sê De Ruyter in die onderhoud.

Hy verwys ook na die betrokkenheid van minstens vier georganiseerde misdaadsindikate in Mpumalanga wat in mafia-styl met hul bedrywighede by Eskom voortgaan en sê daar is ʼn welbekende verband tussen diefstal, sabotasie, verkrygingsongerymdhede en politiek. Hy voer ook aan daar is gereeld moorde in Mpumalanga wat met dié misdadigheid verband hou.

By die Tutuka-kragsentrale dra die stasiebestuurder ʼn koeëlvaste baadjie en vergesel gewapende wagte hom, sê De Ruyter. En op Standerton is daar ʼn kabaal wat geld maak uit teëspoed by Tutuka: ʼn probleem word doelbewus veroorsaak en moet dan reggestel word – terwyl ʼn kontrakteur skep danksy instandhoudingswerk wat opsetlik veroorsaak is.

Cele sê in hierdie stadium het die polisie al 86 mense in verband met misdadigheid aangekeer, terwyl die Valke 31 ander in hegtenis geneem het.

Die polisieminister het in ʼn onderhoud met Newzroom Afrika ook gesê die polisie het vantevore gevra vir die name van hooggeplaastes wat glo by misdaad betrokke is, maar dit nog nie gekry nie.

“Ons glo die naam van die politikus sal ook tussen daardie name wees; bring dit asseblief vir ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Die ANC SKELMS sit ALMAL in die Parlement. Boetie sorg vir boetie! Die waarheid sal wel uitkom, dis verseker. Hulle is almal nou soos ‘n kat op ‘n warm plaat. Kyk maar net wat het met Staatskaping gebeur. Ook gedink hulle kan dit verewig onder die mat invee

Phillip ·

Ja maar niemand is al verhoor of vervolg nie niemand is in die tronk gegooi nie . Baie geld is spandeer op die Zondo kommissie. Ek hoor en lees van niks oor Hofsake of tronke sake nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.