Dís wat sakesektor in begroting wil sien  

Enoch Godongwana, die minister van finansies. (Foto: GCIS)

Met Suid-Afrika se skuldvlak wat nou al ʼn skrikwekkende R6 triljoen nader, sal die sakesektor sy ore gespits hou vir enige werkbare planne om staatskuld te delg wanneer Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag sy begrotingsrede lewer.

Business Leadership South Africa (BLSA) wil veral planne sien oor hoe die regering sy vennootskappe met die private sektor gaan bevorder om dit vir dié sektor makliker te maak om aktief tot die openbare sektor by te dra.

Die land se skuldvlak was in 2022 net meer as 70% van die bruto binnelandse produk (BBP) en sal na verwagting vanjaar tot 70% styg. Dit eindig egter nie daar nie. Die nasionale tesourie voorspel dat Suid-Afrika se skuld-tot-BBP‑verhouding oor die volgende twee jaar aanhoudend sal styg en moontlik die 80%-kerf gaan verbysteek.

Dít word onder meer toegeskryf aan die regering se swak fiskale bestuur.

Die sakesektor wil nou weet wanneer die staat se finansies gaan stabiliseer en of die regering wel sy sogenaamde primêre surplus sal bereik, die punt waar staatsinkomste meer as staatsuitgawes – voor betalings met rente – beloop.

Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van BLSA, sê Godongwana moet uiteraard die saak stel dat die nasionale tesourie in dié doelwit sal slaag, veral met die nasionale verkiesing om die draai.

“Daar was ook baie geraas oor die gebruik van die land se buitelandse reserwes om druk op staatsfinansies te help verlig.

“As dit gaan gebeur, moet dit aan streng en geloofwaardige voorwaardes voldoen, wat duidelik maak dat die funksie van buitelandse reserwes is om die land teen internasionale krisisse te beskerm en sy geloofwaardigheid in die internasionale finansiële stelsel te behou. Dit is nie ’n gratis geldpot om die staat uit sy penarie te red nie,” sê Mavuso.

Mavuso sal ook die regering se pogings om investering in infrastruktuur te dryf, fyn dophou.

“Ons hoor al jare daarvan, maar dit gebeur steeds nie. Openbare besteding [aan infrastruktuur] het oor die jare voortdurend gedaal, terwyl die private sektor die agterstand moet inhaal.

“Dit is grootliks die gevolg van die finansiële ineenstorting van Eskom en Transnet, maar kerninvestering in die openbare sektor was ook swak.”

Mavuso sê hoewel besteding beperk moet word, is dit belangrik dat die land in sy ekonomiese kapasiteit belê en verseker dat die staat noodsaaklike dienste kan lewer – veral as Suid-Afrika die trajek van algehele BBP-groei wil verander.

Voeg daad by woord

In dié opsig wil Mavuso sien hoe die regering die privaatsektor beter sal bemagtig om meer aktief in openbare infrastruktuur te belê deur private en openbare vennootskappe.

Sy sê die tesourie werk al geruime tyd aan die hervorming van die regulasies vir sodanige vennootskappe om dié proses te vergemaklik, en dat veranderings in dié verband duidelik aangekondig en in die begroting weerspieël moet word.

“Dit sal die privaatsektor in staat stel om baie meer aktief te raak om in openbare infrastruktuur te belê, sonder om staatsfinansies onder druk te plaas.”

Mavuso sê sinvolle ingrypings by Eskom en Transnet is ook uiters belangrik, veral omdat baie openbare geld op dié instansies bestee word, sonder dat dit vrugte afwerp.

Wat nou nodig is, is hervorming van regulasies voordat enige nuwe finansiering aan Eskom of Transnet gegee word.

“Ons kan nie bekostig dat meer openbare geld in Eskom en Transnet ingaan sonder geloofwaardige hervormings nie. Ons het ʼn plan nodig oor hoe om die land se logistieke krisis te hanteer.”

Sy het ook verwys na pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat ʼn “Transnet-padkaart” ontwikkel sal word om beleidsverpligtinge, waaronder die herstrukturering van Transnet Spooragentskap, in ʼn  werklikheid te omskep.

“Dit is ’n goeie plan, maar Transnet moet ten volle verbind wees tot die implementering daarvan, wat ook beteken dat die dringende aanstelling van sy uitvoerende span bevestig moet word. Dit behoort ʼn voorwaarde vir enige Transnet-finansiering te wees.”

Mavuso sê die sakesektor bring reeds sy kant om die land se logistieke krisis op te los.

“Ons het R120 miljoen ingesamel om ingrypings deur die nasionale logistieke krisiskomitee te help finansier.

“Ons is gereed om saam met die regering en Transnet te werk om te doen wat nodig is om hervorming met vaardighede en hulpbronne te ondersteun.”

Belastingkoerse in verkiesingsjaar

Die sakesektor sal veral ook veranderinge aan belastingkoerse dophou, aldus Mavuso.

“Hoe meer belasting die regering invorder, hoe minder is daar vir besteding en belegging deur die private sektor.

“Verhoging van belasting mag dalk een manier wees om staatsfinansies te herstel, maar dit is bewese dat gedragsveranderings in reaksie op hoër belastingkoerse invorderings ondermyn. Die enigste belasting wat betroubaar verhoog kan word om bykomende inkomste in te samel, is belasting op toegevoegde waarde (BTW). Dít is ʼn regressiewe belasting wat die armes die meeste raak en ek kan nie sien dat dit in ʼn verkiesingsjaar sal gebeur nie.”

Mavuso benadruk egter dat verwagtinge oor wat die begroting alles kan doen, bestuur moet word.

“Dit is breër ekonomiese beleid wat die uiteindelike uitweg vir ekonomie groei is, al is gesonde fiskale bestuur ook kernbelangrik.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

…verkiesing en stemwerwing is al wat in die korttermyn tel.
Die A en C is net geworry om in beheer van die beursie te bly.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die R6 triljoen (18 nulle) skuld is seker R6 biljoen (12 nulle).

Johan ·

n Biljoen = n miljard, m a w een duisend miljoen rand. Dus 9 nulle. Help my reg as ek verkeerd is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.