Drukgroep wil Afrikaanse studente bystaan

Die nuwe drukgroep Stellenbosch Staan Op (STOP) wil Afrikaanse studente aan die Universiteit Stellenbosch ondersteun. (Foto: Verskaf)

ʼn Nuwe drukgroep in die Wes-Kaap wil diskriminasie teen Afrikaanse studente by die Universiteit Stellenbosch (US) pak en ondersteuning bied aan dié studente wat slagoffers van diskriminerende praktyke is.

“Daar is ʼn geweldige aanslag teen die Afrikaanse kultuur by die US, en daar is nie regtig ʼn organisasie, groep of stem wat onreg en diskriminasie in dié verband blootlê nie,” het een van Stellenbosch Staan Op (STOP) se stigterslede Woensdag aan Maroela Media gesê.

Dié oud-Matie meen Afrikaners en die Afrikaanse gemeenskap, onder wie studente, is dikwels apaties teenoor dié kwessies en sal eerder laag lê as om betrokke te raak by sake waardeur hulle nie noodwendig direk geraak word nie.

“Daar is egter baie omgekeerde diskriminasie teenoor Afrikaanse studente en niemand wat dit regtig aanspreek en sê ‘maar dis onregverdig nie’. Mense is nie bereid om vir hul medemens en die volgende generasie op te staan nie,” het die stigterslid, wat nie sy naam genoem wil hê nie, gesê.

Hy sê daar is veral ʼn onverdraagsaamheid teenoor wit Afrikaanse, Christenstudente.

Die drukgroep beplan om by ʼn reeks sake betrokke te raak en het reeds briewe aan die universiteit in dié verband gestuur. STOP het onder meer ʼn regskrywe aan die universiteit gerig waarin antwoorde en opklaring versoek word rakende ’n voorgestelde koshuisplasingsbeleid wat dié drukgroep as “radikaal” beskou. Die groep het reeds die universiteit se reaksie ontvang en is tans besig om deur die inhoud daarvan te werk.

Die voorgestelde beleid stel onder meer dat die US hom verbind “tot ’n transformerende studente-ervaring deur die skepping van ’n inklusiewe gemeenskap waar diversiteit as ʼn bate beskou word”.

“In praktyk weet ons dat die ideologie van transformasie tot die grootskaalse mislukking van instellings gelei het, terwyl inklusiwiteit niks anders is nie as diskriminasie teen en uitsluiting van Afrikaanse studente met ’n Christelike agtergrond,” het die stigterslid gesê.

STOP meen dié beleid sal dit veral moeilik maak vir Afrikaanssprekende studente om plek in koshuise te kry, en is boonop onsamehangend en uiters ingewikkeld saamgestel.

“Die beleid gebruik onder meer ras en sosio‑ekonomiese status en daar word jaarlikse teikens vir eerstejaarplasings ingevolge die demografiese profiel van aansoekers en die voorneme van die universiteit gestel. Dié voorgenome teikens word deur die rektoraat goedgekeur.”

Die drukgroep wil onder meer ʼn uiteensetting hê van presies hoe die kriteria vir koshuisplasings lyk en in praktyk toegepas sal word.

STOP, wat uit onder andere regsgeleerdes bestaan, wil verder ʼn bydrae lewer tot die onafhanklike kommissie van ondersoek na bewerings van rassisme onder leiding van oudregter Sisi Khampepe.

Die drukgroep het ook tot die saak van Theuns du Toit toegetree, die student wat permanent uit die US geskors is nadat hy op ʼn medestudent se besittings geürineer het. Die drukgroep het met Du Toit se ouers in verbinding getree om ondersteuning op verskeie gebiede te bied, en het ten doel om “finansiële steun te mobiliseer om Afrikaanse studente by te staan met sake wat teen die universiteit beveg word”.

STOP wil help om Du Toit se weergawe van die gebeure te versprei om te verseker dat daar nie ʼn eensydige argument gevoer word nie.

“In dié geval is Theuns geskors en uit die Huis Marais-koshuis geskop nog voordat hy ʼn kans gehad het om sy saak te stel.

“Dít terwyl ʼn student wat van verkragting beskuldig word, steeds mag klasloop. Dis net weer ʼn voorbeeld van dubbele standaarde.”

Die drukgroep wil verder ’n lys van voorvalle saamstel waar diskriminering teen Afrikaanse studente plaasvind, en help om verklarings van dié studente te bekom wat eindelik by die onafhanklike kommissie ingedien kan word tydens ondersoeke.

STOP sal ook poog om meer Afrikaanse studente te benoem wat op die studenteraad kan dien.

Die drukgroep doen ʼn beroep op enigeen wat betrokke wil raak om hulle op hul Facebook-blad te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Te laat STOP, veels te laat. Afrikaners het klaar gebaklei. Nou raas ons net op die kantlyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.