Gerda op drumpel van Comrades-glorie

Gerda Steyn tydens haar vorige Comrades-rekordlopie in 2019. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Daar is waarskynlik nie veel ander Suid-Afrikaners wat vir Gerda Steyn so goed, altans drafgewys, soos Irvette van Zyl ken nie.

Die twee langasems was saam in aksie by die Olimpiese Spele in Tokio, terwyl daar nog lank oor hul tekkie-teen-teer-klap-vernuf by verlede jaar se Twee Oseane-marathon gepraat sal word.

Maar nou staan daar 87,701 km tussen Steyn en ʼn moontlike “af-wedlooprekord” wanneer sy Sondag by die Comrades-wegspringpunt in Pietermaritzburg aantree.

En volgens Van Zyl kan jy maar solank ʼn nuwe sakdoek koop om die vreugdetrane af te vee wanneer die 33-jarige marathonheldin by die eindpunt in Durban opdaag.

Die rekord wink nie net vir haar nie; dit staan gereed om haar met ope arms te verwelkom.

“Die Comrades gaan altyd Gerda se spesiale wedloop wees; dit is immers waar haar liefde vir hardloop begin het,” het Van Zyl aan Maroela Media gesê.

Steyn spog reeds met ʼn Comrades-rekord nadat sy in 2019 gewys het dat die roete van Durban na Pietermaritzburg gʼn opdraande stryd is nie – met haar spogtyd van 5:58:53 het sy die eerste vrou geword om die wedloop in minder as ses uur te voltooi.

Noukeurige beplanning is ongetwyfeld een van haar sterkste punte.

“Oudergewoonte sal Gerda ʼn plan A tot D vir die wedloop gereed hê. Sy dink aan alles en kan vir jou toe oë verduidelik hoe die roete loop.”

Ingesteldheid is natuurlik ook baie belangrik en Steyn is ʼn atleet wat oorgehaal is om soveel as moontlik goue medaljes in te samel.

Sy is ʼn wenner wat boonop nie sommer sal ophou nie. Selfs nie eens ná 70 of 80 km van ʼn moordende ultramarathon nie.

Steyn het die Twee Oseane-marathon ook al vier keer op ’n streep gewen. (Foto: Twitter.)

“Sy het ʼn verskriklike sterk kop. Hoe swaarder Gerda kry, hoe dieper kan sy delf om net aan te hou. Ek glo sy sit net haar gedagtes in neutraal en hardloop net.”

Hoewel Steyn al vantevore erken het dat die op-wedloop haar gunsteling is, weet sy dat die pad van Pietermaritzburg na Durban vir vinnige tye kan sorg.

Maar wat dink Van Zyl, gaan nóg ʼn Comrades-rekord Sondag spat?

“Ja beslis. Ongetwyfeld,” is haar onmiddellike antwoord.

“Ek sal baie bly wees as sy die rekord verbeter. Sy verdien dit dubbel en dwars. Daar is min atlete wat so doelgerig, hardwerkend en vasberade soos sy is.”

Van Zyl is self weer binnekort in aksie

ʼn Besering het die talentvolle Van Zyl vir ʼn geruime tyd langs die pad gehou, maar sy sal weer gereed vir die Spar-wedloop in Durban wees.

Intussen erken sy dat die vriendelike wedywering met Steyn haar tot groter hoogtes aanspoor.

“Sy haal beslis die beste uit ʼn mens. Ek sê altyd dat sy soos ʼn geluksarmband is wat jy saam met jou kan dra.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Ek wens Gerda Steyn net die beste toe en mag sy’n nuwe rekord opstel.

JohanR ·

Ek verstaan sy het nie eers haar eie afrigter, soe al die geld wat sy wen gaan in haar sak.

Miena ·

So ek gaan Sondag weer heeldag besig wees met ondersteuning en self bietjie hardloop in my sitkamer al om die bank… en dan byvoorbaat wil ek sommer dankie se aan my borge coca cola vir die lekker koue koeldrank, Nescafe vir die warm koffie tussendeur, Simba en PnP vir die lekker skyfies en piesangs as versnaperinge.
Op n ernstiger noot nou – Sterkte vrou. Hou duime vas en ek sal kyk vir jou en ondersteun vanuit die gemak van my tuiste. Mag jy n nuwe rekord laat spat!!! My werk het self n span atlete wat gaan deelgeem – kyk gerus uit vir thungela atlete asb en dankie.
Groete

Casper ·

Sy is ongelooflik geballanseerd gebou en het ‘n baie gemakliker hardloop styl.As ek so na die video kyk het sy ‘n vinnige en bestendiger pas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.