Hier is SA se gewildste banke

(Foto: Maroela Media)

Banke was die afgelope jaar een van sektore waaroor Suid-Afrikaners die positiefste op sosiale media gereageer het. Dié bedryf het ook aansienlike groei getoon ten opsigte van positiewe kommentaar (die netto sentiment) wat gebruikers op sosiale media gelewer het. Volgens hierdie kommentare blyk FNB die gunsteling by gebruikers te wees, terwyl Capitec effens in die hek geduik het.

Volgens die SA Banking Sentiment Index vir 2022, wat deur die marknavorser DataEQ saamgestel is, het banke ander sektore soos versekeraars, telekommunikasie en kleinhandelaars geklop, wat die positiewe aard van gesprekke oor dié sektore aanlyn betref.

Die indeks het gebruikers se gevoel – soos op sosiale media uitgespreek – oor verskeie sektore getoets, en meer as vier miljoen sosialemediaplasings oor die land se grootste banke tussen September 2021 en Augustus 2022 ontleed.

Die banke waarna gekyk is, is FNB, Absa, Capitec, Standard Bank, Discovery Bank, Nedbank, TymeBank en African Bank.

Kate Jones, DataEQ se hoof van vennootskappe in Afrika, het aan Maroela Media gesê dit is die eerste keer in sewe jaar sedert die maatskappy dié studie begin het, wat die Suid-Afrikaanse bankwese ʼn netto-positief getoon het. Dit beteken daar was baie meer positiewe as negatiewe kommentaar oor banke. Die netto sentiment het van -7,5% verlede jaar tot +9,4% in die afgelope jaar gegroei.

Luidens dié indeks is FNB – wat verlede jaar in die laaste plek op die indeks was – vanjaar verreweg die gewildste bank op sosiale media met ʼn netto sentimenttelling van 37,5%, gevolg deur Absa (25,8%) en African Bank (14,1%). Discovery Bank en TymeBank het ook positiewe netto sentimenttellings van onderskeidelik 7,9% en 5,3% behaal. Die eens gewilde Capitec het egter ʼn bloedneus op sosiale media gekry, met ʼn netto sentimenttelling van -15,4%.

Terwyl die meeste banke oor die afgelope twee jaar ʼn opwaartste neiging getoon het, het Capitec se sentimenttelling sedert 2019 gedaal. Nedbank en Standard Bank het vanjaar ook negatiewe netto sentimenttellings van onderskeidelik -3,4% en -8,2% behaal.

Jones sê FNB se sprong na eerste plek kan hoofsaaklik aan sy #LoveFNB-veldtog toegeskryf word, wat kliënte aangemoedig het om positiewe kommentaar oor die bank en sy dienste te lewer.

“Daar was ook verbeterings in hul kliëntedienservaring. Daar was verskeie komplimente vir takpersoneel regdeur die jaar, asook komplimente oor die bank se virtuele kaarte, eWallet-diens en funksie om geld te stuur.

“Vir die eerste keer het gebruikers se digitale ervaring kliëntediens as grootste bron van klagtes regoor die bedryf verbygesteek. Die meeste klagtes hou verband met tye wanneer stelsels af was, maar ook bekommernisse oor digitale sekuriteit wanneer dié stelsels af is, onreëlmatighede met rekeninge en onverklaarbare fooie.”

Capitec het in Augustus vanjaar ernstige stelselprobleme ondervind, wat aanlyn- en selfoonbankdienste dae lank onderbreek het. Die bank het ook voorvalle by twee van sy takke gehad wat kommer oor veiligheid laat ontstaan het – insluitend ʼn voorval in November verlede jaar toe ʼn kaal vrou rekenaars en toerusting gebreek het. ʼn Video van die voorval is wyd op sosiale media gedeel.

Standard Bank, wat die tweede swakste netto sentimenttelling behaal het, het ook in die afgelope jaar verskeie stelselprobleme ondervind wat aanlyn betalings bemoeilik het.

Sosialemediagebruikers se sentiment ten opsigte van banke se bedrywighede, reputasie, pryse of fooie en digitale ervaring word ook deur die indeks aangedui.

FNB het die hoogste operasionele netto sentimenttelling behaal (32%) en Standard Bank die laagste (-55,2%).

Wat reputasie betref het Absa (27,7%) die beste gevaar, met FNB (25,6%) en TymeBank (24,6%) kort op sy hakke. Capitec het hier weer die swakste gevaar, met ʼn telling van 0,9%

Dit blyk dat TymeBank (72,6%) die mees positiewe kommentaar ten opsigte van sy pryse en fooie behaal het, gevolg deur African Bank (65,2%) en Absa (56,1%).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Danie ·

Dit se baie sal beslis n verandering oorweeg na vele probleme.Is daar nog enige instelling wat n mens kan vertrou.?

Tipper ·

Hmm party banke het goeie syfers, maar wat se rente kry jy op jou belegging die einde van die jaar, amper niks, en jy wag 356 dae vir dit.

Ronel ·

Ek kan dit skaars glo. Capitec is awesome. Enigste bank waar jy nog persoonlike diens kry. Die mense is altyd so vriendelik en jy word behandel asof jy hulle enigste kliënt het. Ek het al gedeel met Absa, FNB en Nedbank. FNB was so 20 jaar terug nog darem toegangbaar maar is sedertdien af na dieselfde vlak as Absa. Nedbank was nie te “bad” nie maar steeds nie Capitec se klas nie.

Anna84 ·

@Ronel, die enigste rede waarom Capitec so negatief voorkom, is agv 1 dag se van lyn af episode. Want ek stem saam met jou, hulle bly maar net die beste. In die 6jaar wat ek al by hulle is, was dit nog net die 1 dag in hierdie jaar wat dit ‘n ontwrigting was.

Jacobus ·

Sal graag wil weet watter persentasie van bevolking bank by watter bank? As Capitec 100 kliente het en 10 kla is dit 10% wat ongelukkig is. As FNB 20 kliente het en 10 kla is dit 50% wat ongelukkig is. Ek dink nie Capitec steur hulle veel aan die data nie.

Grens ·

Ek kry uitstekende diens by FNB. Hulle banking apps is ook van die beste. Ek is nie verbaas hulle is tops op die lys nie.

Sandra ·

Ek is van Trust Bank se dae af by ABSA en kon nog nie ‘n dag oor hulle kla nie. ABSA was nog altyd daar vir my toe ek hulp nodig gehad het en nou vertrou ek hulle met my bates. ABSA BO!

Diepoppie ·

My man was by absa en toe hy hoor hoeveel my bankomkostes is by African bank toe skyf hy vinnig. Absa over charge hulle kliente te veel..

Johan ·

Die “navorsing” by sowat 4 miljoen respondente gemeet teen die land se bevolking is beslis nie verteenwoordigend nie. Hierdie tipe media dekking is misleidend. Capitec skop stop in al die ander banke se oë.

Tienie ·

Jamer om te sê maar ek verskil baie met hierdie uitslag.

Capitec is by verre die mees Gebruiks Vriendelike Bank en Bank “App”.

Ek kan verder net getuig van Absa en FNB.

Hulle is nie so gebruiks vriendelik nie en ook nie hul “App” nie.

Daar is alewig elle lange toue by FNB en Absa, van mense voor jou, en een persoon kan jou nie altyd help nie, daar moet altyd n tweede nader geroep word.

My ondervinding by Capitec is soos volg. Net een persoon help jou met alles by een toonbank en as jy langer as dertig minute in die Bank deurbring moet dit die einde van die maand wees.

Ek het al by FNB en by Absa tot drie ure in n ry gestaan en toe was dit nognie Covid tyd nie en ook nie die einde van die maand nie.

Herman L ·

Capitec was vir lank die enigste bank waar ‘n mens nie net ‘n nommer is nie. My onlangse ervaring is egter dat Capitec nou is waar baie ander banke 20 jaar gelede was. Ek hoop hulle skrik gou wakker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.