Malema moet hof toe oor ‘haatspraak’ ná Brackenfell-sage

Julius Malema het destyds die uitlatings in die Wes-Kaap gemaak. (Foto: EFF/Twitter)

ʼn Hofsaak teen Julius Malema oor sy omstrede uitlatings by ʼn EFF-saamtrek in die Wes-Kaap verlede jaar gaan later vanjaar begin nadat bemiddelingsgesprekke daaroor misluk het.

Die Menseregtekommissie (MRK), asook Danté van Wyk wat beweer dat die EFF-leier se uitlatings op hom gemik was, sleep Malema nou gelykheidshof toe vir haatspraak en aanhitsing tot geweld. Die twee sake is saamgevoeg.

Van Wyk se prokureur, Millie Westley, sê hulle het in Desember verlede jaar die saak op ʼn dringende grondslag voor die gelykheidshof in Kaapstad gebring.

Dít nadat Malema twee maande tevore in verwysing na ʼn voorval in 2020 by Hoërskool Brackenfell aan EFF-lede gesê het om “nie bang te wees om dood te maak” as dit kom by interaksie met “rassistiese wit mense” nie.

Van Wyk was deel van die groep wat Hoërskool Brackenfell destyds teen die betogers probeer verdedig het ná valse bewerings van rassisme oor ʼn matriekafskeidsfunksie by die skool.

Hy is later daarvan beskuldig dat hy EFF-lede voor die skool aangerand het, maar is in Januarie vanjaar onskuldig op dié aanklag teen hom bevind.

Danté van Wyk was destyds by die Hoërskool Brackenfell-sage betrokke. (Foto: ANA)

Van Wyk voer in hofstukke aan dat dele van Malema se toespraak oor die Brackenfell-voorval op hom gemik was. Hoewel hy nie by die naam genoem word nie, kom Malema se uitlatings nietemin neer op haatspraak en aanhitsing van geweld, sê Westley.

“Wat het julle gedoen om [die saak] op te volg nadat julle deur ʼn wit man, soos dit op kamera vasgelê is, geslaan is?” het Malema in sy toespraak gesê.

“Hoekom het julle dit nie as ʼn revolusionêre organisasie met daardie ou opgevolg nie; hom alleen na ʼn geïsoleerde ruimte geneem en behoorlik na die ou omgesien nie?”

Sedert die voorval in Brackenfell het Van Wyk duisende doodsdreigemente van EFF-ondersteuners ontvang. Selfs hooggeplaastes in die EFF het hom na bewering met die dood gedreig.

“Danté is baie dapper. Hy vat al die grootkoppe aan ondanks die feit dat hy vir sy lewe vrees en onveilig in Suid-Afrika voel. Hy is agterdogtig oor elke mens wat hy ontmoet, want hy weet nie wie EFF-ondersteuners is nie,” sê Westley.

“Net voordat hy die gebeure finaal agter hom kon plaas, het Malema dit weer met sy toespraak geopper en verdere doodsdreigemente ontlok.

“Dit moet nou tot ʼn einde kom.”

Sy sê die saak is belangrik vir Suid-Afrikaanse politiek en om eenheid in die land te bevorder.

“Sulke uitlatings moenie geduld word nie. Die hof moet ʼn duidelike boodskap uitstuur dat niemand bo die wet verhewe is nie.”

Volgens Westley het Malema se regsverteenwoordigers met die aanvang van die haatspraaksaak daarop aangedring dat bemiddeling en versoening geskied. Hoewel sy dit teengestaan het, het die regter die partye aangesê om met die proses te begin.

“Die bemiddelingsproses het in Maart begin, maar die partye kon nie ʼn ooreenkoms bereik nie,” sê sy.

Die saak sou aanvanklik op 15 Mei begin het, maar die partye was nie gereed om voort te gaan nie en dit is tot 4 September uitgestel. Die saak sal vir tien dae tydens ʼn sitting van die gelykheidshof in die Kaapstadse hooggeregshof aangehoor word.

Van Wyk vra dat Malema eindelik strafregtelik vervolg word en R1 miljoen skadevergoeding aan hom betaal.

“Hy [Malema] moet verantwoording doen vir sy dade en Danté terselfdertyd vergoed vir die trauma wat hy deurgemaak het,” sê Westley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.