OB wil Ramaphosa dwing om te getuig

Die geskorste Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die geskorste openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, is onwrikbaar in haar pogings om pres. Cyril Ramaphosa voor die parlement se artikel 194-komitee te daag om te getuig. Soveel dat sy bereid is om regstappe teen Ramaphosa te doen om dit te laat gebeur.

Die komitee, wat belas is met die proses om Mkhwebane moontlik uit haar pos te verwyder, het Dinsdag haar versoek om Ramaphosa te dagvaar om te getuig van die hand gewys.

Mkhwebane het egter Woensdag by monde van haar regsverteenwoordiger, adv. Dali Mpofu, haar besorgdheid oor die komitee se besluit geopper, asook haar voorneme om verdere stappe teen die president te doen.

Mpofu het tydens die komiteesitting aangevoer dat hoewel daar geen wetlike belemmering is dat Ramaphosa geroep kan word om te getuig nie, sou hy nogtans nie in sy hoedanigheid as president getuig nie, maar as ʼn getuie wat bewerings omtrent Mkhwebane gemaak het.

Dit is onaanvaarbaar dat mense soos Johann van Loggerenberg en Ivan Pillay, albei voorheen werksaam by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, as getuies geroep is oor die bewerings wat hulle gemaak het, maar nie die president nie, het Mpofu gesê.

Hy het bygevoeg dat die OB en haar regspan nie die komitee se besluit aanvaar nie en dat hulle enige regstappe sal doen om te verseker dat Ramaphosa voor die komitee getuig.

Qubudile Dyantyi, komiteevoorsitter, het in reaksie hierop gesê dat die komitee sal wag op terugvoer van die OB se regspan in dié verband.

Die meerderheid van die komiteelede het met hul besluit oor of Ramaphosa sal getuig, gevoel dat die redes wat Mkhwebane se regspan gelys het nie ter sake vir die komitee se mandaat is nie en dit dus van die hand gewys.

Die OB se regspan het op 19 Julie aan Ramaphosa geskryf en hom versoek om voor die ondersoekkomitee te getuig oor onder meer Mkhwebane se skorsing en die hersiening van haar verslag in die sogenaamde CR17-aangeleentheid. Mkhwebane het destyds ʼn ondersoek na die finansies van Ramaphosa se CR17-veldtog – die veldtog om hom tot president van die ANC te laat verkies – gedoen.

Die staatsprokureur, wat namens die president opgetree het, het in reaksie op die OB-regspan se brief aangedui dat Ramaphosa om verskeie redes nie tot die versoek sal instem nie.

Die komiteesitting sal vandag voortgaan met sy werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

007 ·

As sy geskors is hoe kan sy aandring op Rampie se getuienis? Sy moet haar smoel hou en by die huis bly.

annie ·

Zuma wil hê Cyril moet getuig? CR se versekeringsgeld is te min om hom te dek in hierdie botsing. Selfs miljoene verklaarde dollars in sy bankrekening inbetaal help nou niks. Die spreukwoord ‘te laat vir trane’, geld nou. Spreukwoorde is nie om dowe neute spreukwoorde nie. Die groot vraag is net: Wie gaan die woord sprak voor die nasie ná die Desember-oorlog.

Esme ·

Hierdie aangeleentheid gaan ‘n stille en skielike dood sterf. Ek twyfel geensins daaraan nie.

Christo ·

Goeie genade!!! Die saak sloer nou teveel. Stuur vir Gerrie Nel in sodat die gemors nou net op ‘n einde kan kom……

Johan ·

Kan hierdie vrou nie net soos mis voor die son verdwyn nie? Sy is omtrént ‘n pyn in die almal-weet-waar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.