Regering gryp in by Transnet-staking

Vraghouerskepe in die Durbanse hawe. (Foto: Transnet)

Drie ministers het Woensdag by die voortslepende staking by Transnet, wat dreig om die land se ekonomie lam te lê, ingegryp.

Die ministers het by albei partye gepleit om tot ʼn ooreenkoms te kom wat die balans vind “tussen die regte van werkers, wat deur stygende pryse geraak word, en die langtermynstabiliteit en groei van Transnet en die ekonomie as geheel”.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Thulas Nxesi, minister van arbeid, en Thoko Didiza, minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, het Woensdagoggend met die betrokke vakbonde oor die huidige stand van sake vergader.

Luidens die gesamentlike verklaring wat deur die ministers uitgereik is, het hulle ook in hierdie tyd met die direkteurs van Transnet en die bedryf vergader om ʼn werkbare oplossing te vind.

“Die regering is uiters bekommerd oor die negatiewe impak wat die staking op die ekonomie het, spesifiek op diegene wat van Transnet se dienste afhanklik is,” lui die verklaring.

“Dit is die regering se siening dat dit in die belang van die land sal wees om so spoedig moontlik ʼn oplossing te vind vir die dooiepunt wat nou bereik is. Ons land kan nie verdere werksverliese in ander sektore van die ekonomie en die onderbreking van invoere en uitvoere na en van Suid-Afrika bekostig nie.”

Transnet, wat Suid-Afrika se spoorvragnetwerk en al die land se hawens bedryf, het ook Woensdag sy samesprekings met die vakbonde voortgesit en is “hoopvol” dat sy standpunt formeel ter tafel gelê sal word.

Transnet-werkers staak al langer as ʼn week oor ʼn loondispuut met die maatskappy. Die werkers het vroeër ʼn verbeterde loonaanbod van die hand gewys omdat dit glo “nie aan die mandaat voldoen wat die vakbond van sy lede gekry het nie”.

Transnet-werkers vra verhogings van tussen 12% en 13,5%, terwyl die staatsbeheerde instelling se aanbod op tussen 3% en 4% staan, afhangende van die posvlak van die werker.

Kumba-ystererts het reeds gewaarsku dat die staking sy produksie swaar gaan tref. In die eerste sewe dae van die staking is die uitwerking op produksie sowat 50 000 ton per dag. Ná sewe dae verhoog dit tot 90 000 ton per dag.

Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vragversenders (SAAFF), dr. Juanita Maree, het ook gesê dat die staking ʼn verwoestende uitwerking op die ekonomie sal hê.

Die drie ministers het Woensdag onderneem om Transnet en sy stakende werkers by te staan tydens die samesprekings sodat konstruktiewe gesprekke voortgesit kan word.

“Van die regering se kant af sal ons voortgaan om met al die betrokke partye in gesprek te tree om die vordering van die samesprekings te monitor sodat hierdie geskil so gou moontlik opgelos kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

duiweboer ·

Ek wil nou nie snaaks klink nie maar wees eerlik. Hulle offer die werkers 4-5% verhoging. Inflasie is 8% en die bestuur kry 20-30% verhoging. Sou ek ook gestaak het. Groot Ja

Lourens ·

Arbeid se prys (m.a.w. loon) is nie gebaseer op die werker se behoefte nie, maar op die waarde wat hy bied. Indien hy nie waarde bied nie, kan jy hom nie ‘n verhoging bied nie, maar moet hom maar offer op die altaar van ekonomiese oorlewing.

Herman L ·

Die staatskapingsagentskap, …… jammer ek bedoel die kabinet het die vakbonde bemagtig om die land gyselaar te hou. Nou is hulle skielik bang dat hulle die komende verkiesing gaan verloor en probeer nou die vakbonde paai. Ek hoop hulle slaag om die vakbonde te oortuig om terug te keer werk toe. Ek hoop ook dat mense van Suid-Afrika betyds in genoeg getalle sal raaksien wat nodig is om die verval om te keer. Stem die regering uit!

Jr ·

Clowns in govt. Gee die werkers n increase wat sal help met die ekonomie wat ONS ANC opgevoeter het. Africanacity thinking

Danie ·

Die regering gryp in wat n groot flater grap hulle het staatskaping toegelaat.Hulle het op hulle agterente gesit met Junie en Julie toe die land gebrand het.Dit was maar deel van transnet se agenda om die land wat ons opgebou het te vernietig.Om die boere met uitvoere van hul produkte skade te berokken.Jammer ek glo niks meer wat die regering kwytraak nie.

My siening ·

Hulle verdien geen verhoging want niks werk by spoornet vir jare al en dit geld veral vir die sogenaamde bestuur!

Cherokee ·

Miskien sal dit jou bom laat bars as jy hoor dit is nie slegs die sogenaamde bestuur wat die verhoging aanvra.

SjN ·

Regering gryp in, wat n grap, al gryp wat hul ken is om geld te gryp.

Leon ·

HOE HELP DIT AS REGERING INGRYP ?????? DIT IS DAN HULLEWAT STAAK ????????? Snaakse land die ??????

Cherokee ·

So produktief van die 3 ministers om die stakers te benader deur die vakbonde. Ek hoop hulle maak dit duidelik aan die stakende werkers dat húlle, die stakers, ook hul, die ministers, s’n onbeperkte water en elektrisiteit moet betaal uit daardie beloofde 3% of 4% verhoging.

Elize ·

As jy nog werk het in hierdie land behoort jy dit op te pas en nie te staak nie. Dit beteken jy ontvang nie net R350 pm nie.

Heinrich ·

So die regering smeek hoed-in-die-hand by die vakbonde en hulle lede…lyk my die stert swaai die hond! Heeltemal magteloos.

Swerwer ·

Sien is glo en glo is wragtag! Geen gepraat nie, betaal die klomp af en stel mense aan wat wil en kan werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.