Slagoffers van Gold One-drama: ‘Ons trek baie swaar’

Gold One se Modder-Oos-myn. (Foto: Google)

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is ontstellend en kan sensitiewe kykers ontstel. 

Twee van die myners wat maande gelede in Gold One se myn naby Springs aangehou en erg aangerand is, sukkel nog om die gebeure te verwerk van die gyselaarsdrama in Desember. Hulle is nou afhanklik van duur medikasie om ernstige post traumatiese stresversteuring mee te behandel en sit boonop nog met fisieke beserings weens die aanranding.

Die twee sal boonop nou met net 75% van hul salaris oor die weg moet kom, aangesien hulle tydelik ongeskik vir werk verklaar is. Die myn sal moontlik ook nie meer hul mediese onkoste dek, soos wat tot dusver die geval was nie.

“Ons het nie hiervoor gevra nie. Ons het net opgedaag vir werk en ʼn opdrag uitgevoer. Nou word ons aan ons eie genade oorgelaat,” vertel een van die betrokke myners aan Maroela Media. Die twee wil nie hulle name noem nie, uit vrees vir vervolging.

Maroela Media het vroeër berig honderde mynwerkers is vier dae lank in die Gold One Modder-Oos-myn buite Johannesburg as gyselaars aangehou, gemartel en uitgehonger. Sommige mynwerkers is ook ure lank met pikstele en planke met spykers daaraan aangerand. Lede van die mynwerkersvakbond Amcu was glo die voorbokke en het gedreig om wit mynwerkers te vermoor, sou die bestuur nie aan hul eise voldoen nie.

Een van die myners met wie Maroela Media gesels het, is ná etlike dae kaal en bebloed uit die skag vrygelaat, met ʼn losprysbrief met eise van stakers aan die myn se bestuur. Hy sê hy is ná die beproewing in intensiewe sorg opgeneem, waar hy vir nierversaking behandel moes word. Later het hy ʼn week lank in ʼn psigiatriese hospitaal deurgebring, waar post traumatiese stresversteuring gediagnoseer is en waarvoor hy behandel is.

Sy vrou het aan Maroela Media gesê hy trek sielkundig nog baie swaar. “Hy weier om uit die huis te gaan en speel glad nie meer met ons seun (9) nie. Ons kind is outisties. Hy mag glad nie huil of geraas maak nie, want dan kry sy pa ʼn angsaanval. My man sit gewoonlik net voor hom en uitstaar. Dit is baie swaar.”

Die tweede myner is ook verskeie kere tydens die geselaarsdrama geslaan en deur bendeleiers gedreig dat hulle hom by ʼn geut sou afgooi in ʼn houer met mynrommel in. Behalwe vir die sielkundige nagevolge ervaar hy ook pyn in amper al sy ledemate, en veral in sy heup en rug, waar hy met ʼn ysterpyp geslaan is.

Tot dusver het die myn die slagoffers ondersteun en die meeste van hul mediese uitgawes betaal.

Die twee myners is egter Donderdag tydens ʼn vergadering met die myn se menslike hulpbronne afdeling en die myndokter ingelig dat die myn nie verder vir hul mediese uitgawes gaan betaal nie en dat hulle voorts net 75% van hul salarisse sal ontvang.

“My pille alleen kos R6 000 per maand. Ek weet nie hoe ek gaan uitkom as die myn nie my mediese onkoste dek nie,” sê die tweede myner. Hy is, nes die eerste myner, tydelik ongeskik verklaar en ten minste tot en met Mei afgeboek.

Die eerste myner se vrou sê hulle kan hul huis verloor indien hulle self die verdere mediese onkoste moet betaal, en dit met ʼn kleiner salaris.

Dit is nie ongewoon vir werkers wat tydelik ongeskik verklaar is om slegs 75% van hul salarisse te ontvang nie.

Ziyaad Hassam, hoof van Gold One se regsafdeling, het aan Maroela Media gesê die myn is baie simpatiek teenoor hierdie twee werknemers se mediese en emosionele toestande. “Die saak is egter na die maatskappy se komitee vir onbevoegdheid verwys. Die komitee het ʼn besluit gemaak wat in lyn is met beide die maatskappy se beleid, sowel as die toepaslike wetgewing. Ons moedig hierdie werknemers aan om die tekort in hul salaris van die werkloosheidsversekeringsfonds te eis. Ons wens beide ʼn spoedige herstel toe.”

Riaan Visser, hoof van die Solidariteit-regsnetwerk, het gesê Solidariteit staan sy geaffekteerde lede by met die proses van tydelike ongeskiktheid en sal verseker dat alle prosesse regverdig geskiet binne die wetlike raamwerk. “Hierdie is ʼn beginselgeveg teen kriminele optrede waar onskuldige lede emosioneel, fisiek en finansieel geaffekteer word.”

Solidariteit het in Desember ʼn klag by die Menseregtekommissie ingedien oor wat hy beskou as “rasse-aanvalle” wat tydens die gyselaarsdrama plaasgevind het. Dié ondersoek is nog nie afgehandel nie.

“Solidariteit ag hierdie as ʼn onaanvaarbare optrede en skuldige partye moet die gevolge hiervan dra,” het Visser gesê.

Hy sê die vakbond het ook met die hoofinspekteur van mynwese vergader. “Dié het onderneem om ʼn formele ondersoek te rig en verantwoordelike partye te identifiseer. Ons het verder ʼn skikking met die werkgewer bereik om ʼn veiligheidsooreenkoms te vestig, om hopelik soortgelyke optrede in die toekoms te verhoed, ten einde ons lede te beheer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rudolph ·

Dit is baie sleg wat met die mense gebeur het. Ook hoop dat die mense wat se hul gaan help by hul woord bly. Want kom ek se net dit kan so maklik gebeur dat hulp opdroog. Dat daar gese word depressie en angs nie aanmeldbare COIDA gevalle is nie. Ek dink aan jul manne staan sterk. Dit is nie maklik nie. Ek bid dat jul deur gedra word.

Blikkies ·

Hou beide die Mynbestuur en die Unie persoonlik verantwoordelik. Hulle moet uit hulle eie sakke hierdie mense finansieël bystaan, bleik vir die res van hulle lewens. Wat beteken die mynwerkers dan vir hulle maatskappy? net sterkte, word gou beter en daar gaat jy…

Althes ·

My hart gaan uit na die betrokke mynwerkers. Dis jammer dat hierdie land so goddeloos geraak het dat jy vrees vir jou veiligheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.