Dít is in 2019 die meeste gesoek op Google

Cameron Boyce in April vanjaar by ‘n geleentheid in Inglewood, Kalifornië. (Foto: Richard Shotwell/Invision/AP)

Google het die lys van die mees gesoekte onderwerpe wêreldwyd in 2019 op dié internetsoekenjin bekendgemaak.

Heel bo aan die lys van mees gesoekte terme is “Indië vs. Suid-Afrika”. Die Proteas het in Oktober ʼn rampspoedige toetsreeks in Indië beleef en is ʼn toetsreeksnederlaag van 3 – 0 toegedien.

Cameron Boyce was die tweede mees gesoekte term. Die 20-jarige Disney Channel-akteur, wat veral bekend was vir sy rol in die Descendants-televisierolprente, is in Julie vanjaar oorlede nadat hy ʼn soort epileptiese aanval in sy slaap gehad het.

Die derde mees gesoekte term was Copa America. Dié sokkertoernooi is van 14 Junie tot 7 Julie in Brasilië gehou en ook deur die gasheerland gewen.

Die reeks Bangladesj teen Indië was die vierde mees gesoekte term. Indië het die tuisreeks teen Bangladesj met 2 – 0 beklink.

Emilia Clarke as Daenerys Targaryen in ʼn toneel uit die laaste episode van “Game of Thrones”. (Foto: HBO via AP)

Die iPhone 11 was die vyfde mees gesoekte term. Dié Apple-selfoon is in September bekend gestel.

Die sesde mees gesoekte term was Game of Thrones. Die laaste seisoen van die epiese fantasie‑dramareeks is van April vanjaar af uitgesaai.

Avengers: Endgame was ʼn lokettreffer en is die sewende mees gesoekte term. Endgame word as die afronding van 11 jaar en 22 rolprente in die reeks beskou. Dit het begin met Iron Man in 2008 en bring die reeks tot ʼn einde ná verlede jaar se Avengers: Infinity War toe Thanos die helfte van die heelal verwoes het.

Die agtste mees gesoekte term was Joker. Joaquin Phoenix het 24 kg vir die hoofrol in die rolprent verloor. Die rolprent is reeds vir ʼn Golden Globe benoem en Phoenix is as beste akteur in ʼn vollengterolprent benoem.

Notre Dame is die negende mees gesoekte term vir 2019 op Google. Notre-Dame de Paris, die wêreldberoemde Middeleeuse Rooms-Katolieke katedraal in die hartjie van Parys in Frankryk, is in April vanjaar erg in ʼn brand beskadig.

Die 2019‑Krieketwêreldbeker, wat van 30 Mei tot 14 Julie plaasgevind het, was die tiende mees gesoekte term. Engeland is uiteindelik as die Wêreldbeker-kampioen gekroon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jojojo ·

En op Google South Africa sal dit die load shedding skedule wees.

Piet Lourens ·

En die Suid Afriners soek nog na die krieket wêreld beker.

Daan Erasmus ·

Die handigste funksie is: Distance en 2 plekke. Hoe het ek sonder dit klaargekom.

Cherokee ·

Ek wed julle nou sal die mees gesoekte item wees hoe Joaquin Phoenix 24 kg verloor het.

AmY ·

Tien meeste ge-google in SA

Load shedding
Election results
Thanos
IEC
Fiona Viotti
Black Friday Specials
Gavin Watson
Mark Batchelor
Teacher’s Day
Hoërskoel Driehoek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.