26 SA’ners op pad na Parys

Sheryl James. (Foto: Twitter.)

ʼn Span van 26 atlete en beamptes sal Suid-Afrika by die Wêreldkampioenskap vir paraplegiese atlete in Parys verteenwoordig.

Paralimpiese sterre soos Pieter du Preez, Louzanne Coetzee en Sheryl James is in die groep opgeneem, terwyl Simoné Kruger ook haar bes sal doen om die goue medalje in die Franse hoofstad in te oes.

Die 18-jarige Pretorianer het onlangs by ʼn internasionaal geakkrediteerde Paralimpiese byeenkoms op Pilditch ʼn spogafstand van 36,38 m in die diskusitem behaal.

Dit was die beste poging van haar loopbaan en sy is oorgehaal om daarop voort te bou.

“Ek het in 2019 die silwer medalje in Dubai losgegooi en dit sal lekker wees om op die hoogste trappie van die podium te staan. Ons is twee kategorieë (F37 en F38) wat saam deelneem en China se Mi Na is die verdedigende wêreldkampioen,” het die jong atleet van Hoërskool Garsfontein vroeër aan Maroela Media gesê.

Simoné Kruger in aksie. (Foto: Andries Kruger)

Volgens Barry Hendricks, president van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), beskik die span atlete oor die vermoë om met van die beste atlete op die internasionale verhoog saam te gesels.

“Ons is vol vertroue dat hulle ons by die Wêreldkampioenskap trots sal maak. Hierdie byeenkoms is van groot belang omdat dit die atlete se kwalifiseringsproses vir aanstaande jaar se Paralimpiese Spele ʼn welkome hupstoot kan gee,” het hy gesê.

Die Wêreldkampioenskap word van 8-17 Julie beslis.

  • SA groep na Frankryk:

Veldatlete: Situ Ntombizanele (spiesgooi, F54-kategorie), Yane van der Merwe (diskus, F64-kategorie), Juané le Roux (diskus en gewigstoot, F47-kategorie), Simoné Kruger (diskus, F38-kategorie), Kerwin Noemdo (gewigstoot, F46-kategorie) en Tyrone Pillay (gewigstoot, F63-kategorie).

Baanatlete: Tezna Abrahams (200 m, T44-kategorie), Sheryl James (100 m, 200 m en 400m, T37-kategorie), Louzanne Coetzee (1 500 m, T11-kategorie), Liezel Gouws (100 m en 400 m, T37-kategorie), Ndodomzi Ntutu (100 m, T12-kategorie), Mpumelelo Mhlongo (100 m en verspring, T44-kategorie), Puseletso Mabote (100 m en verspring, T62-kategorie), Tebogo Mofokeng (100 m en 400 m, T62-kategorie), Refilwe Mosifane (400 m, T36-kategorie), Jaco Smit (100 m en 400 m, T12-kategorie), Brandon Beack (1 500 m, 400 m en 100 m, T52-kategorie) en Pieter du Preez (100 m en 400m, T51-kategorie).

Afrigtersgroep: Erasmus Badenhorst (gids), Claus Kempen (gids), Lappies Swanepoel, Jason Sewanyana, Daniël Damon, Michael Lourens, Raymond Julies en Ilse du Preez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.