5 moet-hê-boeke om 2023 joune te maak

Argieffoto (Foto: Birgit Böllinger/Pixabay)

Januarie is vir die meeste mense sinoniem met doelwitstellings. Hetsy jy nuwe, gesonder gewoontes wil aankweek, finansieel sterker wil word, drome wil najaag of iets wil afhandel waarby jy nog nie vantevore uitgekom het nie.

Selfs met die beste poging om hierin te slaag kan dit uitdagend wees om vol te hou wanneer jy nie weet hoe om die taak aan te pak nie.

Hier is vyf boeke wat jou sal help om doelwitte in 2023 te bereik.

  1. Dink jouself gelukkig deur Pieter van Jaarsveld (Lux Verbi)

Met Dink jouself gelukkig wil die wêreldbekende spreker Pieter van Jaarsveld jou wys hoe jy jou lewe kan omkeer. Dié inspirerende boek lê ondermynende mites oor geluk bloot, verduidelik dat vreugde vir alle mense beskore is, wys hoe jy jou brein kan herbedraad, en inspireer jou tot ʼn positiewe ingesteldheid.

Luister hier na ʼn onderhoud met dr. Pieter van Jaarsveld waar hy oor die fasette van geluk, doelbewustheid van positiewe denke en die hantering van uitdagings gesels.

  1. Dink soos ʼn miljardêr deur Daniel Strauss (NB-Uitgewers)

In Dink soos ʼn miljardêr verduidelik Daniel Strauss wat dit beteken om die lewensveranderende miljardêringesteldheid aan te neem. Hy deel sy geheime tot sukses, insluitend hoe om toegang tot kapitaal te verkry, waar om die regte mense te vind om jou te help om jou doelwitte te bereik, en hoe om jou gedagtes van selfopgelegde beperkings te bevry sodat jy ook soos ʼn miljardêr kan dink – en uiteindelik – een kan word.

Luister hier na ʼn onderhoud met Daniel Strauss oor waagkapitaal en hoe om ʼn miljardêringesteldheid aan te kweek.

  1. Herontdek jou selfvertroue deur Rolene Strauss (NB-Uitgewers)

Is jy ʼn perfeksionis en voel jy nooit goed genoeg nie? Verhinder jou swak selfbeeld jou om jou doelwitte te bereik? Jy is nie alleen nie.

In Herontdek jou selfvertroue: Sewe stappe na ʼn nuwe jy deel Rolene Strauss haar reis en vertel hoe ook sy met selfvertroue gesukkel het, selfs terwyl sy die Mej. Wêreld-kroon gedra het. Strauss wys ook uiteindelik hoe sy dit reggekry het om ware selfvertroue te ontdek.

Dié boek is ʼn onmisbare gids vir elke vrou wat soms aan haarself twyfel. Strauss se sewe beproefde stappe is vir vroue wat op soek is na die moed om hul drome vreesloos na te jaag.

Luister hier na ʼn onderhoud met Rolene Strauss waar sy gesels oor die invloed wat onrealistiese doelwitte op ʼn mens se selfvertroue kan hê.

  1. My hacks vir die lewe deur Leandie du Randt (Penguin Random House)

In haar jongste boek, My hacks vir die lewe, skryf die aktrise, aanbieder, sakevrou en motiveringspreker Leandie du Randt oor haar kortpaadjies, raad en wenke wat haar help om al die belangrike balle in die lug te hou.

In dié boek deel sy haar rituele vir haar liggaam, denke, siel en sakeonderneming na aanleiding van die vrae wat sy gedurig op sosiale media en in persoonlike gesprekke kry.

Leer in dié onderhoud met Leandie du Randt meer oor haar siening van produktiwiteit, passies en prioriteite.

  1. Ryk brein, arm brein deur Kobus Neethling, Wouter Snyman, Rachè Rutherford

Die kreatiwiteitskenner dr. Kobus Neethling se jongste boek, Rich Brain, Poor Brain, wat hy saam met Wouter Snyman en dr. Raché Rutherford geskryf het, is nou ook in Afrikaans met die titel Ryk brein, arm brein, beskikbaar.

In Ryk brein, arm brein wil die skrywers jou help om jou denkwyse te verander sodat jy groter finansiële welvaart vir jouself kan skep.

Maroela Media het in ʼn reeks onderhoude met Neethling, Snyman en Rutherford oor verskeie onderwerpe wat met die boek verband hou, gesels. Klik hier om die onderhoude op Maroela te luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

Kobus Neethling altyd ‘n wenner. Voeg by, enige boek van Deon Meyer.

Delia ·

1 Moet Hê boek om 2023 jou doelwitte te bereik….die Bybel

Johan ·

….verál nadat jy Our Poisoned Land van Jacques Pauw gekees het.

Nommer 7 ·

Enige boek van Dan Sleigh vir my:”Retoervloot”, “1795” en dan “Eilande”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.