Niefiksieboeke vir elke leser dié Kersfees

Argieffoto (Foto: Matthew Feeney/Unsplash)

Van ʼn historiese blik op die Dorslandtrekkers en ʼn kleurvolle versameling foto’s uit die Anglo-Boereoorlog, tot ware lewensverhale en ʼn versameling van JC Steyn se laaste werk.

Hier is sewe voorstelle vir niefiksieboeke waarmee jy vanjaar die boekwurm in jou lewe kan bederf.

Só lyk ʼn vrou … deur Ilse Verster (Lapa Uitgewers)

Ná 40 jaar saam met ʼn narsis het Ilse Verster daarin geslaag om haarself uit dié hel op aarde te red. Verster het haar lewensverhaal in Só lyk ʼn vrou … vasgepen en hiermee hoop sy om ander mense, spesifiek vroue, wat hulleself in soortgelyke omstandighede bevind, te help.

In ʼn onderhoud met Maroela Media vertel Verster meer oor haar heelwording, hoe om die gevaarligte van gesinsgeweld raak te sien en waarom dit belangrik is om so ʼn verhouding te beëindig.

Die Anglo-Boereoorlog in kleur deur Thinus le Roux (Jonathan Ball)

Tonele en rolspelers uit die Anglo-Boereoorlog kry nuwe lewe in hierdie unieke versameling foto’s wat lewensgetrou ingekleur is. Dit bring ʼn vars perspektief op een van die belangrikste historiese gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Lesers sal talle ikoniese foto’s in Die Anglo-Boereoorlog in kleur raaksien, maar ook verskeie wat nog nooit tevore gepubliseer is nie. Honderde boeke het die afgelope 120 jaar oor die oorlog verskyn, maar dit is die eerste een in volkleur.

Op die duiwel se spoor deur Ben Booysen (NB-Uitgewers)

“Die boek is in die eerste plek vir my vrou geskryf, en tweedens vir my kleinkinders. Ek wil hê die jongklomp moet eendag lees hoe hulle oupa nie alles in die lewe gehad het wat hy wou nie, en dat hy ondanks sy wrede grootwordjare uitgestyg en een van die beste polisiemanne in die land geword het.”

Dit is die woorde van kapt. Ben Booysen, ondersoekbeampte wat die berugte Krugersdorp-moordsaak opgelos het en wie se boek Op die duiwel se spoor vanjaar die lig gesien het.

Ná herhaaldelike polisiebrouwerk begin Booysen die Krugersdorp-moorde in 2016 manalleen ondersoek. Teen die tyd dat Booysen die saak oorneem, is 11 mense reeds grusaam vermoor deur ʼn groep wat hulleself Electus per Deus (Gekies deur God) noem.

Booysen se grootwordjare sou min mense laat dink dat hy een van Suid-Afrika se grootste moordsake sou oplos. Aangevuur deur ʼn verbete sin vir geregtigheid haal hy koerantvoorblaaie toe hy die baasbrein agter die moorde, Cecilia Steyn, en haar vyf makkers aankeer.

  • Luister hier na Maroela Media se onderhoud met Ben Booysen.
  • Op die duiwel se spoor kos R280 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aan te skaf.

Agter my glimlag deur Lindie Stander (NB-Uitgewers)

Lindie Stander: Agter my glimlag is die eerlike ervaring van dit wat kykers nie op die skerm sien nie: die verpletterende verlies van Lindie Stander se pa, haar worsteling met dwelmmisbruik en rehabilitasie, ʼn lewe met depressie en ʼn gewonde vrou se genadelose soeke na ʼn liefde wat kan heelmaak. In haar bekende, deernisvolle stem vertel Lindie haar hartverskeurende maar hoopvolle verhaal soos net sy kan: sonder skroom en met ʼn goeie skeut humor.

  • Die boek kos R290 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Agter my glimlag aan te skaf.

Kom ons praat oor die huwelik deur Heinz en Aletté-Johanni Winckler (NB-Uitgewers)

Die glanspaartjie Heinz en Aletté-Johanni Winckler het in ʼn onderhoud met Maroela Media oor hul boek, Kom ons praat oor die huwelik, gesels. In dié boek word geloofsbeginsels met hulle 15 jaar huwelikservaring verweef met die doel om ander paartjies vanuit ʼn Christelike perspektief te ondersteun.

Hy en Aletté het al verskeie huwelikseminare aangebied. Tydens die Covid-19-pandemie het hulle ook twee aanlyn seminare aangebied wat deur sowat 1 000 paartjies bygewoon is. Ná die sukses hiervan het Lux Verbi die Winckler-egpaar genader met ʼn versoek om ʼn boek oor hulle huweliksprogramme te skryf.

So is onse mense deur JC Steyn (AfriForum Uitgewers)

So is onse mense is die gerekende taalhistorikus JC Steyn (1938–2021) se laaste werk. Dit bevat ʼn versameling “herbesoeke” oor geskiedkundige onderwerpe, outobiografiese grepe en rubrieke waarin sy meesterlike talent as prosaskrywer en navorser ten toon gestel word.

Steyn stel lesers in dié boek onder meer weer bekend aan die bykans vergete geskiedenis van die laaste dramatiese dae van Mei 1902, soos gesien deur die oë van twee vooraanstaande dramaturge. Hy herontdek die lewe en werk van die veldprediker JD Kestell en stel ondersoek in na die mense wat verantwoordelik was vir die oprigting van die Nasionale Vrouemonument.

In die tweede afdeling benader hy die geskiedenis meer outobiografies en gee lesers ʼn kykie in sy lewe as jong Vrystaatse seun van die Brandwaterkom. Dan volg tien korter rubrieke, elk met Steyn se kenmerkende fyn benadering tot interessanthede uit die verlede.

So is onse mense word afgesluit met huldeblyke van oudkollegas, vriende en familie wat hulde aan een van Afrikaans se grootste woordmeesters bring.

  • Luister hier na Maroela Media se onderhoud met Ilze Niewoudt, publikasiebestuurder van AfriForum Uitgewers, en Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, oor So is onse mense.
  • Koop die boek by AfriForum Uitgewers

Van Humpata tot Upingtonia deur Nicol Stassen (Protea Boekhuis)

Nicol Stassen is die voorste kenner op die gebied van die  Dorslandtrekkers en hulle merkwaardige swerftogte in die binneland van Suider-Afrika.

In Van Humpata tot Upingtonia vertel Stassen hoe dit gebeur het dat ʼn aantal trekkers in 1885 die republiek Upingtonia in die noorde van Damaraland gestig het. Die Kaapse bruin man William Worthington Jordan, een van die merkwaardigste mense wat in hierdie jare in Suider-Afrika geleef het, het ʼn belangrike rol in die totstandkoming van dié republiek gespeel. Sy tragiese dood en die ondergang van die vergete republiek Upingtonia word van nader bekyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.