Luister:  Bettie Bloublasie is hartseer

fletcher-cecile-foto-verskaf.jpegFletcher is geskryf deur Cecile Schultz en word voorgelees deur Elana Barker in samewerking met Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek.

Eendag lank, lank gelede was daar ʼn bloublasie. Haar naam was Bettie. Sy het op die oop see gedryf en het dit vreeslik geniet. Sy het baie lekker gebly in die warm seewater aan die Noordkus van Suid-Afrika. Sy het nie so baie van die Weskus se koue water gehou nie. Kom ek vertel julle wat eendag met Bettie gebeur het.

Dis somer en die blou see is pragtig. Die sonnetjie bak te heerlik op Bettie terwyl sy op die see dobber, maar iets  pla haar. Hier kom iemand aan. Dis Bertie die bloublasie. “Hallo Bertie,” roep Bettie opgewonde uit, “hoe gaan dit met jou?”

“Dis ʼn heerlike, windstil dag. Ek dobber rond en geniet die oop oseaan,” antwoord Bertie. Bertie lyk rustig en tevrede. “Ag, ou Bertie, daar is iets wat my pla,” sug Bettie. Bertie kon seker dadelik sien dat Bettie nie so vrolik is soos altyd nie. “Wat is fout? Kan ek jou dalk met iets help? Jy lyk so hartseer”, sê Bertie simpatiek. Bertie is die hulpvaardigste bloublasie wat Bettie nog ooit ontmoet het.

“Daar is net twee probleme. Eerstens hou karet-seeskilpaaie baie van ons en tweedens hou mense glad nie van ons nie. Die karet-seeskilpaaie hou baie van ons omdat ons vir hulle so lekker smaak. Ons moet alewig op die uitkyk wees vir die groen seeskilpaaie omdat hulle ons wil vreet. Daardie groen seeskilpaaie lyk lomp as hulle op die sand loop, maar o wee, hulle kan baie flink swem,” antwoord Bettie.

“Ek stem saam met jou, daardie groen skilpaaie gee my sommer rillings,” sê Bertie en skud sy blasie heen en weer. “Gelukkig kan ons darem onsself afblaas en onder die water induik om hulle te probeer ontduik,” sê Bettie vinnig. “Maar as dit by mense kom, is dit ʼn ander storie. Ons tentakels is vol miljoene brandselle wat hulle seermaak en daarom hou hulle nie van ons nie. As ons tentakels aan mense raak, voel dit amper soos ʼn bysteek. Die grootmense en kinders skreeu altyd as hulle ons sien en dan vlug hulle soos afkophoenders uit die water,” verduidelik Bettie.

fletcher-vissies.jpgBertie kan sien dit pla vir Bettie baie en hy probeer haar troos: “Elke lewende wese, klein en groot, is met ʼn doel gemaak. Die groot geheim is om uit te vind wat daardie doel is. Dan word die lewe sommer lekkerder. As ek of een van die ander bloublasies mense steek, is dit mos nie moedswillig nie. Dis maar net ons manier om onsself te beskerm teen gevaar.” Bettie voel sommer baie beter nadat Bertie so mooi met haar gepraat het. Sy sê: “Bertie, ek het gehoor die mense kan  darem die steke behandel sodat hulle beter kan voel.”

”Ja,” sê Bertie, “hulle kan dit met seewater afspoel, maar nie met varswater nie. Varswater laat dit net nog meer brand. Mense kan ook hulle vel met iets soos ʼn bankkaart skraap om die brandselle te verwyder. Asyn en warm water werk ook goed. Ek dink dis in elk geval beter as die ou klein kindertjies se swempakkies moue en broekspype het om hulle te beskerm. Die warm sonstrale kan hulle dan ook nie brand nie. Dis natuurlik ook belangrik om na die lewensredders te luister. Hulle waarsku altyd die mense as die wind ons bloublasies strand se kant toe waai.”

“Bertie, jy is die beste vriend!” roep Bettie uit. “Ek voel nou sommer stukke beter en gaan my lewe as ʼn bloublasie terdeë geniet!”

Maats, so het ons elkeen ʼn plekkie onder die son. Jesus het jou vir ook ʼn spesiale plekkie op die aarde gegee. Soos Bertie sê: Die groot geheim is om uit te vind wat jou doel op aarde is. God het alles en almal vir ʼn spesiale rede gemaak. Een van die werkies wat hy vir jou het, is om ander van Hom te vertel sodat hulle hom kan ken en liefhê.

Kom ons bid saam

Jesus, wys my wat my doel op aarde is. Help my om ander mense van U te vertel.

Bybelvers om te onthou

Spreuke 16:4   Alles het die HERE gemaak vir sy doel …”

Aksie

Teken enige seetoneel Nog Fletcher-stories:

Die Tassie-projek

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Helpende Hand wil met hul Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.  Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

Outeur:

Cecile Schultz is ʼn professor in menslike hulpbronbestuur aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria. Sy hou daarvan om lewensvaardighede vir haar studente asook vir die gemeenskap aan te bied. Daarom is sy betrokke by die People Upliftment Programme (POPUP) en Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino tak. Haar passie is om Vader God, Jesus en die Heilige Gees aan kinders bekend te stel asook om hulle waardetoevoegende lewenslessies te leer. Die boekie wat oor Fletcher handel, is gebore in 2008 toe haar seun, Christiaan, 9 jaar oud was en haar dogter, Cilé-Mari (bynaam Lallie), 6 jaar oud was. Cecile is al 28 jaar met Raymond Schultz getroud en hy gee haar ruimte om haar in God se koninkryk uit te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.