Luister: Koerie en Zoerkie, die vissies

fletcher-cecile-foto-verskaf.jpegFletcher is geskryf deur Cecile Schultz en word voorgelees deur Elana Barker in samewerking met Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek.

Eendag lank, lank gelede was daar ʼn vissie wat diep onder in die see gewoon het. Sy naam was Koerie. Koerie was ʼn baie vriendelike vissie. Hy was grys en het swart vinne gehad. Sy beste maatjie se naam was Zoerkie. Zoerkie was ʼn pragtige, gestreepte blou vis met geel vinne. Al die ander visse het hulle altyd verwonder aan dié mooi vis. As Zoerkie aangeswem kom, het al die ander visse eers gestop en gekyk hoe statig hy verbyswem. Koerie het dit gesien en wou naderhand nie meer saam met Zoerkie swem nie, omdat hy te skaam was oor sy eie vaal skubbe en vinne. Kom ek vertel julle wat eendag met Koerie en Zoerkie gebeur het.

Koerie het een oggend wakker geword en besluit om vir Zoerkie weg te kruip. Hy was nie lus om saam met Zoerkie te swem nie.

“Goeiemôre, Koerie,” groet Zoerkie vriendelik voor Koerie se huis.

Maar dit is tjoepstil. Koerie antwoord nie. “Dis snaaks,” sê Zoerkie. “Koerie is altyd gereed om lekker te speel en te baljaar. Maar vanoggend is hy nie hier nie. Ek hoop nie daar het iets met Koerie gebeur nie. Dalk moet ek begin rondsoek en vir die ander visse vra of hulle hom gesien het.”

Na twee uur se gesoek kry Zoerkie steeds nie vir Koerie nie. Moedeloos gaan rus hy by ʼn oranje koraalrif. Skielik sien hy ʼn beweging agter die koraalrif. Dis Koerie se swart vinne. Zoerkie roep: “Koerie, wat doen jy daar agter?”

“Oeps!” skrik Koerie. “Ek, ek, ek …,” stotter Koerie.

“Koerie, hoekom kruip jy hier weg?” vra Zoerkie verbaas.

“Ag, ek wou nie vandag saam met jou swem en speel nie, want al die visse kyk altyd vir jou mooi kleure en vinne en dan kry ek skaam vir my ou vaal kleure,” antwoord Koerie skamerig.

“My ou mater, hoe kan jy ooit so iets dink? Jy is die vriendelikste en oulikste vissie met die mooiste hart wat enige vis ooit kan hê!” roep Zoerkie uit.

“Dink jy regtig so?” vra Koerie en trek sy lippie op. fletcher-vissies.jpg

“Natuurlik! Jy is nooit lelik met die ander visse en seediere nie. Dit is so dat ek mooi skubbe en vinne het, maar al die ander visse sê altyd vir my hoe ʼn oulike vissie jy is. Almal is lief vir jou en jy is my beste maat. Ek leer by jou om ʼn voorbeeldige vis te wees,” verduidelik Zoerkie.

“Ek is so bly ek was eerlik met jou, my beste maat in die hele see!” roep Koerie vrolik uit. “Kom ons gaan speel en geniet die wonderlike dag wat die Here gemaak het.”

Maats, God kyk nie hoe mense van buite lyk nie. Hy kyk eerder of jy vir Hom en vir ander mense net so lief is soos vir jouself. Hy kyk na jou hartjie. In 1 Samuel 16 staan daar die profeet Samuel moes ʼn koning gaan salf het, maar hy het nie geweet watter een van Isai se seuns dit gaan wees nie. Hy het gedink Eliab gaan die koning wees omdat hy so ʼn mooi lang man was. Die Here het toe vir Samuel gesê ʼn mens kyk na mense se harte, nie hoe hulle van buite lyk nie. Dit beteken die Here kyk na ons karakter. Karakter beteken hoe jy is en optree. Iemand wat vriendelik is en ander vergewe het ʼn mooi karakter. Toe die Here vir ʼn koning gesoek het, het Hy gesê Hy soek ʼn man na sy hart. Dit beteken die Here soek iemand wie se hart soos sy hart is. Dit staan in 1 Samuel 13 vers 14. Nou ja maats, ons het nou geleer dat dit belangrik is om ʼn mooi hart en karakter te hê, want die Here hou daarvan.

Kom ons bid saam

Here, leer my om ʼn mooi karakter te hê. Amen.

Bybelversie om te onthou

1 Samuel 16:7 “…maar die Here sien die hart aan”.

Aksie

Teken jou gunsteling dier en skryf vir God hoekom jy juis van hierdie dier hou.

Nog Fletcher-stories:

Die Tassie-projek

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Helpende Hand wil met hul Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.  Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

Outeur:

Cecile Schultz is ʼn professor in menslike hulpbronbestuur aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria. Sy hou daarvan om lewensvaardighede vir haar studente asook vir die gemeenskap aan te bied. Daarom is sy betrokke by die People Upliftment Programme (POPUP) en Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino tak. Haar passie is om Vader God, Jesus en die Heilige Gees aan kinders bekend te stel asook om hulle waardetoevoegende lewenslessies te leer. Die boekie wat oor Fletcher handel, is gebore in 2008 toe haar seun, Christiaan, 9 jaar oud was en haar dogter, Cilé-Mari (bynaam Lallie), 6 jaar oud was. Cecile is al 28 jaar met Raymond Schultz getroud en hy gee haar ruimte om haar in God se koninkryk uit te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.