Min nuwe kiesers ‘sleg vir ANC én demokrasie’

(Argieffoto ter illustrasie: Henk Kruger/ANA)

Die lae aantal nuwe kiesers wat tot dusver geregistreer het om aan die munisipale verkiesing op 1 November deel te neem, kan so reg in die hande van partye soos die DA, EFF en Vryheidsfront Plus speel.

Só meen kenners nadat slegs 375 000 nuwe kiesers die afgelope naweek by stempunte oor die hele land geregistreer het.

Gegewe die tendens dat ontevrede ANC-kiesers dikwels liefs wegbly van die stembus as om vir ʼn ander party te stem, en die regering se powere hantering van die Covid-19-pandemie, meen politieke ontleders die lae getal nuwe registrasies skets ʼn bleek prentjie vir die ANC se prestasie by die stembus.

Luidens statistieke wat deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bekendgemaak is, het nagenoeg 1,3 miljoen mense teen Sondag geregistreer om aan die komende verkiesing deel te neem.

Volgens Dawie Scholtz, verkiesings- en politieke ontleder, verteenwoordig slegs 375 000 van dié registrasies egter nuwe kiesers wat vir die eerste keer geregistreer het. Die res is mense wat van adres verander het en nou by ʼn nuwe kiessentrum moes registreer.

“Dit is die minste nuwe registrasies wat ek nóg gesien het,” sê Scholtz.

“Dit beteken dat die kiesersrol sedert 2019 met 750 000 kiesers gekrimp het.”

Scholtz meen dis normaal dat die kiesersrol met elke nuwe verkiesing kleiner word namate mense die land verlaat of sterf. Hy sê egter nuwe kiesers wat registreer, herstel gewoonlik dié balans, wat nie vanjaar die geval blyk te wees nie.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit van Potchefstroom, sê dié getalle is “kommerwekkend laag”.

Hy sê dit is ook nie ʼn gegewe dat al diegene wat wel geregistreer het, eindelik sal gaan stem nie.

Volgens Scholtz kan die lae getal registrasies aan verskeie redes toegeskryf word, onder meer swak organisering van die OVK, die ANC se versuim om ʼn deeglike registrasieveldtog te voer en die feit dat ʼn groot aantal kiesers gefrustreerd is met politieke partye in die land.

Kenners meen as daar na vorige tendense gekyk word, sal ʼn lae registrasie- en stempersentasie die regerende party die hardste tref.

Scholtz sê ook dat raskategorieë steeds ʼn oorheersende rol in Suid-Afrikaanse verkiesings speel.

“Minderheidsgroepe, soos bruin, wit en Indiër-kiesers, gaan stem gewoonlik in munisipale verkiesings. Indien die opkoms van swart kiesers laag is, is dit negatief vir die ANC. ʼn Groot opkoms sal weer in die party se guns tel,” sê Scholtz.

Afname in steun vir die ANC

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn peiling deur die marknavorsingsfirma Ipsos ook op ʼn aansienlike afname in steun vir die ANC dui.

Roland Henwood, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, meen binnegevegte in die ANC en onlangse opstande in die land het ʼn negatiewe invloed op die steun wat die regerende party vanjaar sal ontvang.

Duvenhage beaam dié stelling en sê die konflik en verdeeldheid wat weens die skorsing van Ace Magashule en die inhegtenisneming van oudpres. Jacob Zuma meegebring is, het die party duur te staan gekom.

“Ek voorspel ernstige gevolge vir die ANC.”

Henwood meen dit is egter nie ʼn uitgemaakte saak dat die DA en Vryheidsfront Plus voordeel daaruit sal trek nie.

“Hulle sal hard moet werk om kiesers te motiveer om te gaan stem.”

ʼn Knou vir demokrasie

Henwood sê die lae registrasiesyfers is egter nie net sleg vir die ANC nie, maar vir die demokrasie in geheel.

“Mense wat nie geregistreer het nie, stel in dié stadium skynbaar nie in die verkiesing belang nie. Dit dui daarop dat nuwe toetreders geensins verbind is tot die kiesstelsel en demokratiese proses nie.

“Dis slegte nuus.”

Henwood sê negatiewe opvattings oor politici en regeringsprosesse dra by tot ʼn lae aptyt om aan die verkiesing deel te neem.

“Ons sit veral met geweldige probleme op plaaslike regeringsvlak. Mense dink dit maak nie meer saak of hulle stem nie, want dit gaan in elk geval nie die situasie verbeter nie.

“Dit ondermyn die hele demokratiese proses en die wyse waarop regerings verantwoordelik gehou word vir wat hulle doen.”

Hy sê voorts daar heers ook steeds ʼn opvatting dat die ANC nasionaal altyd oorheersend sal wees, terwyl die DA in die Wes-Kaap koning sal kraai.

“Dit sal slegs kan verander as mense gaan stem.”

Henwood sê die feit dat die verkiesing op ʼn Maandag val, kan mense ook ontmoedig om deel te neem, aangesien hulle dalk eerder ʼn langnaweek sal neem en met vakansie gaan.

Hy gee toe dat politieke partye egter vanjaar baie uitdagings ten opsigte van werwing ervaar het, wat met beperkings van die Covid-19-pandemie gepaardgaan.

Of die pandemie óók tot ʼn lae opkoms by die stembus gaan bydra, sal net die tyd kan leer, meen prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder verbonde aan Unisa.

“Daar sal deeglike opnames gedoen moet word om te bepaal watter faktore, soos die pandemie, eindelik ʼn negatiewe uitwerking rondom die verkiesing gehad het.

“Ons moet wel nie uit die oog verloor dat daar alternatiewe opsies, soos die spesiale stemmery twee dae voor die verkiesing, is nie,” sê Kotzé.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Willem Wikkelspies ·

‘..Mense dink dit maak nie meer saak of hulle stem nie, want dit gaan in elk geval nie die situasie verbeter nie..’ – ek kan dit nie beter stel nie.

jou gewete ·

dink ter wille van die land asseblief weer. daar sal n verandering kom as almal gaan stem wat nie anc stem nie

JM ·

Dit is alles seker maar weer apartheid se skuld; hierdie perd is al holrug gery. Die ANC sal nooit hul onvermoë en mislukkings erken nie.

Werner ·

Dis hoe komunisme werk blameer altyd ander vir hulle voute

Werner ·

Regtig wie dink hier is nog demokrasie.Bly defnitief nie in SA nie.Wag maar vir die anargie wat in elk geval besig is om uit te breek.Gaan ook nie my tyd mors om te stem nie die uitslag is alreeds bepaal

jou gewete ·

ja as jy en alle ander stemme teen die anc nie gaan stem is die uitslag bepaal. gebruik tog jou verstand. anc ongelukkiges gaan stem nie, as die res dan wel almal gaan stem val hulle persentasie en hulle verloor munisipaliteite, dink nie dis moeilik om te verstaan nie

Werner ·

Tyd dat julle julle verstand begin gebruik.Julle sal nooit hierdie gebroke sisteem regstem nie.Dit is soos n ou wat n spyker met sy kop in n muur probeer slaan.Se mos wag vir die anargie wat gaan uitbreek.Jou stem beteken al 27jaar niks.Of die ongelukkige ANC s gaan stem of nie die ANC gaan ver wen .Hulle kook die uitslae.Dink ook nie dit is moeilik om te verstaan nie.

Grassie ·

Die ANC se steun lê in die plakkerskampe, by almal wat werkloos is, luiaards en diegene wat nooit sal probeer werk kry solank hulle die een of ander regeringstoelaag pasella ontvang nie. Solank die regering bly vat by die minderheid wat werk en gee aan die gepeupel wat bakhand staan gaan daar oorweldigend vir hulle gestem word. Die eise word egter al groter. Die regering sal nog meer moet vat by die wat het en gee aan die wat nie het nie. Op ‘n stadium sal ‘n breekpunt ontstaan wat die land se ekonomie gaan vernietig.

Nicholaas ·

Oor die laaste paar jare het ons gereeld bymekaar gekom en gebid vir die land, ons het gebid dat al die slegte goed tot n einde moet kom, ek glo en vertrou ons klagtes het by GOD uit gekom en ek glo hy in beheer, kyk hoe verkrummel die anc ons moet aanhou bid, glo en vertrou.

casper ·

Hulle het so lank “gestruggle” omte stem en nou kom hulle tot hulle spyt agter dat dit nie hulle probleem oplos nie !!! Dom bly dom!!!!

Belinda ·

Ekt my seun probeer aanlyn registreer maar die webtuiste werk nie soos dit moet. Wat help dit anyways om te gaan stem want al die beloftes wat hierdie partye maak word tog nie bewaarheid nie.

Pablo ·

“1,3 miljoen mense teen Sondag geregistreer om aan die komende verkiesing deel te neem”. Uit n bevolking van 60 miljoen?

Heinrich ·

Probleem is dat die kop vrot is. Help nie dat ‘n provinsie probeer om ‘n verskil te maak maar die vrot nasionale regering hou hulle terug nie.

Perdeby ·

Wel Soweto het Rampies ‘n koue skouer gegee en se hulle stem nie weer vir die ANC nie, en vandag se jongmense weet teen die tyd om vir die ANC te stem gaan nie werk nie. Het baie al gevra en hulle se beslis nie.

Kokerboom ·

Artikel laat dit klink asof almal jammer is dat ANC te na gekom kan word. Intussen kerm almal oor ANC swak regering. Die resultaat is AGV ANC patetiese /geen regering.Inwoners van land het afgestomp geword deur gevaarlike politiek

Pieter ·

Welkom in afrika dit gaan orals so die anc het mooi by mugabe geleer.

Hoekom ·

Mense moet gaan stem, hoe meer stemme ‘n ander party het, wat nie ANC is nie, hoe beter vir ons land Suid Afrika…

Chris ·

Elke stemgeregte het nou die geleentheid om sy/haar kruisie te maak langs die party wie hul met hul lewens vertrou. Kom SA, stem en maak ons pragtige land weer die land wat die wêreld geken het 30 jaar gelede.

Truthful ·

Mense moet besef .as hulle nie stem nie gaan die stem outomaties na anc

Jannie van Niekerk ·

Elke enkele stemgeregtigde wat nie gaan stem nie, gee in elk geval sy stem vir die ANC, so of ANC kiesers wat wegbly uit protes nou stem of nie, dit bly tot die ANC se voordeel. Teken eerder protes aan deur vir enige ander party te stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.