Raadslede ‘omgekoop’ om vir Makwarela te stem

Foto ter illustrasie. (Foto: ANA)

Action SA beweer een van sy raadslede in Tshwane is ʼn paar weke gelede omkoopgeld van nagenoeg R2 miljoen aangebied om ʼn stem ten gunste van dr. Murunwa Makwarela as nuwe Tshwane-burgemeester uit te bring.

Volgens ActionSA is dié lid deur twee lede van die Defence of People (DoP)- politieke party genader, met ʼn aanbod om sy stem vir Makwarela as burgemeester te “koop”.

Die betrokke lid is glo ʼn bedrag aangebied gelykstaande aan sy salaris vir die volgende drie jaar (nagenoeg R90 000 per maand) om vir Makwarela te stem.

Die party het die polisie nou gevra om ʼn klag van bedrog teen die twee DoP-lede te ondersoek.

“Gegewe die feit dat Makwarela uiteindelik uit sy pos geskop is weens ʼn vervalste bewys dat hy van insolvensie gerehabiliteer is, is dit eintlik vir ons geen verrassing om nou te hoor dat lede van die raad omgekoop is om hom in die eerste plek in te stem nie,” het Funz Ngobeni, ActionSA se voorsitter in Gauteng, Donderdag gesê.

Makwarela, voormalige Cope-raadslid, se verkiesing as burgemeester einde Februarie is in omstredenheid gehul, aangesien dit wil voorkom of verskeie lede van die veelpartykoalisie in Tshwane vir Makwarela as burgemeester gestem het, al is hulle deur hul partye aangesê om vir Cilliers Brink van die DA as burgemeester te stem. Makwarela was die ANC-EFF-koalisie se kandidaat.

ActionSA meen dit kan wees dat van sy ander lede óók omkoopgeld aangebied is om vir Makwarela te stem, dié dat sewe lede van die veelpartykoalisie uiteindelik teen hul eie party gestem het.

Makwarela moes egter noodgedwonge op 10 Maart bedank nadat dit aan die lig gekom het dat hy nie net in 2016 as insolvent verkla is nie, maar boonop toe ʼn vervalste sertifikaat as bewys van sy rehabilitasie by die stadsbestuurder ingedien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

George ·

Geen politieke party is nie korrup nie, die vraag is maar net, wie is minder korrup.

Elize ·

Die ANC se naam moet verander word na MMI – me, myself and I want dit is al hoe die koppe werk.

domheks ·

Sekerlik hoe dit in al die verkiesing in die land gaan. Korrupsie vir hooggety.

WILLEM ·

Red nou ‘n land met sulke gebruike. Dit gaan net oor mag en nie oor regeer nie!! Ons moet begin om op te hou belasting betaal tot dat ‘n verantwoordelike regering gekies is. Ons belasting gaan net vir “regstellende aksie” wat beteken ons vat wat ons wil hê.

Cherokee ·

Hou tog op met die aanhoudende getjommel van ophou belasting betaal, totdat jy vir die belastingbetalers kan sê hoe om dit te doen.

Republikein in die Wes Kaap ·

Maklik Cherokee. Maar dit sal nasionale spanwerk vereis.

Doompie Daan ·

Die waarheid het ‘n wrede manier om die leuenaar te pootjie! Want al hardloop ‘n leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel!

Gerhard ·

‘n Absolute skande. Sies, jissie, skaam julle nie vir julle om almal so te lieg en bedrieg nie. cANCer versprei net al meer en is besig om heeltemal terminaal te raak.

Jr ·

Is daar nie einde aan hierdie mense se oneerlikheid. Genade die bose magte lei

skurweberg ·

Wortel van alle kwaad (geld, besitting ens.) het hierdie rondte gewen.

Cherokee ·

So jy dog hulle het gewen. Wanneer laas het jy koerant gelees? Vir my klink dit asof hulle verloor het.

Elmarie ·

Ek is nie geskok óf verbaas nie. Dis mos die norm in ons land

ES ·

Dit is maar eintlik hoe politiek al vir die afgelope paar duisend jaar werk. Omkopery, bedrog, koalisies en en en….

Dit was net nie so oop en bloot soos wat dit in ons land is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.