Foto’s: Britse prins besoek plaaslike botaniese tuin

Brittanje se prins Edward, die hertog van Edinburgh. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Besoekers van die Pretoria Botaniese Tuin in Gauteng het Maandag nie net die kans gehad om van die omgewing se mooiste flora te sien nie, maar sommer ook ʼn Britse prins.

Die Verenigde Koninkryk (VK) se prins Edward, die hertog van Edinburgh, het Maandag ʼn besoek aan die Pretoria Botaniese Tuin in Gauteng afgelê as deel van sy twee dae lange hoflikheidsbesoek aan Suid-Afrika.

Volgens adjunkpresident Paul Mashatile se kantoor volg sy besoek op die “suksesvolle staatsbesoek” wat pres. Cyril Ramaphosa in 2022 op uitnodiging van koning Charles III aan die VK onderneem het.

Prins Edward is die jongste seun van wyle koningin Elizabeth II. Hy het in 2023 op sy 59ste verjaardag sy pa, prins Philip, se voormalige eretitel as hertog van Edinburgh, asook die rol van beskermheer oor verskeie inisiatiewe wat omgewingsbewustheid bevorder, geërf.

Die prins het toevallig in 2023 gasheer vir Ramaphosa in Brittanje gespeel en hom na die Koninklike Botaniese Tuin vergesel as deel van die VK se samewerking met die lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi).

Adj.pres. Mashatile het die hertog Dinsdag by die Oliver Tambo-ampswoning in Pretoria verwelkom, waarna hy deur Barbara Creecy, minister van visserye, bosbou en omgewingsake, na die botaniese tuin vergesel is.

Hier het die hertog met Shonisani Munzhedzi, uitvoerende hoof van Sanbi, en ander wildbewaringsorganisasies, insluitende die WWF South Africa, ontmoet.

Aubrey (88) en Annie du Preez (85), ʼn egpaar van Eersterust in Pretoria, het tydens sy besoek ook die geleentheid gekry om met die prins blad te skud.

Die egpaar vertel dat hul byna elke Dinsdag, wat pensioenarisdag is, die botaniese tuin besoek en gevolglik “spesiaal gevra is om as ambassadeurs op te tree”.

“Dit was ʼn pragtige ervaring en ook een wat ek nie verwag het nie. Hy [die prins], en al sy mense wat saam met hom was, was vreeslik oop en baie vriendelik,” het Annie aan Maroela Media vertel.

“Nou kan ons lekker spog dat ons een van koningin Elizabeth se kinders ontmoet het,” het Aubrey bygevoeg.

Die hertog het verder danksy dr. Ephraim Mabena, ʼn tradisionele geneser, die geleentheid gekry om meer oor die medisinale waarde van Suid-Afrikaanse plante en kruie te leer en het ʼn tradisionele lap en kopstuk van genesers as geskenk ontvang.

Die hertog sal verder gedurende sy tyd in die land die bekroondes van die presidensiële toekennings, die internasionale been van die Hertog van Edinburgh-toekennings, ontmoet.

Dié jeugtoekenningsgeleentheid, waarvan Ramaphosa ʼn beskermheer is, is deur die hertog se pa in 1965 in die VK gestig en is sedertdien na 144 nasies uitgebrei.

Dit poog om geleenthede vir jongmense te skep om vaardighede te ontwikkel, fisiek aktief te raak, gemeenskapdiens te lewer en nuwe avonture aan te pak.

Daarbenewens sal hy ook ʼn dinee met Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, bywoon.

Maroela Media het vroeër berig dat die Britse koninklikes tans yl gesaai is terwyl beide prinses Catherine van Wallis én koning Charles III gesondheiduitdagings ervaar.

Kort nadat die nuus bekendgeword het dat Catherine eers ná Paasnaweek haar koninklike pligte sal hervat weens ʼn “beplande abdominale operasie”, het Buckingham-paleis aangekondig dat koning Charles III binnekort behandeling vir ʼn vergrote prostaat moet ondergaan.

Die 75-jarige koning sal na verwagting vandeesweek in die hospitaal opgeneem word, terwyl prinses Catherine, dikwels bekend as Kate, 16 Januarie in ʼn private Londense kliniek opgeneem is en tans nog herstel.

Daarom word verwag dat die koning se suster, prinses Anne, sowel prins Edward, en sy vrou, Sophie, waarskynlik in die volgende paar maande meer koninklike pligte sal oorneem.

Prinses Anne en prins Edward se werkspligte het veral die afgelope twee jaar toegeneem weens prins Harry, die hertog van Sussex, se uittrede as ʼn werkende koninklike en prins Andrew, die hertog van York, se betrokkenheid by die opspraakwekkende Jeffrey Epstein-skandaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Michael ·

Pleks besoek hy die voortrekker monument en vra omverskoning oor sy voorsade vroue en kinders in konsentrasie kampe laat doodgaan het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.