‘Dricus, hulle weet nie wat ons weet’ – Bokke

Dricus du Plessis baklei op 20 Januarie om die UFC-middelgewigtitel. (Foto: UFC/Twitter)

Jim Hamilton het in ʼn onderhoud met Dricus du Plessis die Suid-Afrikaanse gemengdegevegskunsster as die “Springbok” van die UFC bestempel.

En ʼn mens kan verstaan waarom die voormalige Skotse rugbyspeler dit sê.

Want net soos die Springbokke gooi Du Plessis nie sommer handdoek in nie, hy skroom nie om hard te werk nie en hy beskik oor die ongekende vermoë om vriend en vyand te verras.

Boonop is sy Ultimate Fighting Championship-titeldroom binne sy bereik wanneer hy op 20 Januarie teen Sean Strickland om die middelgewiglouere in Toronto baklei.

Nou het van Suid-Afrika se Rugbywêreldbeker-wenners hom sterkte met sy komende geveg toegewens.

“Lekker Dricus, sterkte ou maat. Hulle weet nie wat ons weet nie,” het Willie le Roux op sosiale media gedeel.

Die Springbok-heelagter het Suid-Afrikaners aangemoedig om Du Plessis te ondersteun.

“Ons staan agter jou en ons ondersteun jou; net soos wat jy ons ondersteun het. Sterkte daardie kant tjom. Ons kan nie wag vir jou te kyk nie.”

Ox Nche en Jesse Kriel het ook boodskappe gestuur.

“Alle voorspoed met jou titelgeveg. Die hele land staan bankvas agter jou. Sterkte my vriend, maak mooi!” het Kriel gesê.

Op sy beurt het Du Plessis ook ʼn spesiale boodskap vir sy ondersteuners gereed gehad: Hy gaan doen wat hy beloof het; hy gaan sy beste gee om die UFC-middelgewigtitel huis toe bring.

Die bekende UFC-kommentator Joe Rogan het dinge eintlik perfek opgesom nadat die Suid-Afrikaner vir Robert Whittaker in UFC290 gestoomroller het.

“Dricus du Plessis is ʼn pantserwa en niemand kan meer bekostig om skepties oor hom te wees of hom te onderskat nie. Hy het nou sy plek op die bergpiek verdien – ons het ʼn wêreldtitelgeveg wat vir ons wag.”

Du Plessis se pad na moontlike UFC-glorie:

10 Oktober 2020: Klop Markus Perez

10 Julie 2021: Klop Trevin Giles

2 Julie 2022: Klop Brad Tavares

10 Desember 2022: Klop Darren Till

4 Maart 2023: Klop Derek Brunson

8 Julie 2023: Klop Robert Whittaker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jubba ·

Ja gaan die multichoice mafia ons toelaat om Dricus te ondersteun sonder om ons te melk?

George ·

@Jubba, julle besef uitsendingsregte kos geld, en hulle kan nie laat almal net alles kry en kry nie. As jy nie DSTV wil ondersteun nie, doen dan PPV direk vanaf UFC teen $15 vir die geveg.

Gaitsigubib ·

Dis n eerbare en waardige oponent waarteen Dricus gaan veg, nie die nar waarteen hy eers sou baklei nie. Vir my is DSTV oor die algemeen gemors, maar ek sal die moeite doen om die geveg iewers te gaan kyk.

George ·

@Laurike, op UFC se blad, $15 ppv, of wil julle ondersteen sonder om te betaal, waar ek seker is iemand sal dit erens onwetting stream.

Casper ·

Dricus,die geveg moet nog plaasvind.Don’t count your chickens before they hatch.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.