Meer as 100 000 steun Vrystaat Landbou teen OSV

Foto ter illustrasie (Foto: Maroela Media)

Die wysiging van artikel 25 van die Grondwet sal slegs tot die ellende van Suid-Afrika bydra. Dít is die boodskap aan die parlement van die 107 639 burgers wat aan Vrystaat Landbou (VL) se openbare veldtog om eiendomsreg te beskerm en die grondwetlike wysiging van artikel 25 teë te staan, deelgeneem het.

Die sluitingsdatum vir openbare kommentaar oor die voorgestelde wysiging was Vrydag 13 Augustus en talle organisasies het hulle stemme laat hoor. Maroela Media het reeds berig dat ander organisasies soos Saai, TLU SA, AfriForum, Sakeliga, Agri SA, die IRR en die DA sterk teen die voorgestelde wysiging te velde getrek het.

Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, toon hierdie steun dat VL se siening oor eiendomsreg ʼn baie wyer ondersteuningsbasis het as slegs die organisasie se landboulede. “Dit toon dat daar ʼn aansienlike deel van die publiek is wat verstaan dat die ondermyning van eiendomsreg tot die ondermyning van menseregte sal lei.”

VL het sy opponerende kommentaar Vrydag aan die parlementêre komitee voorgelê. Die redes waarom VL enige grondwetlike wysiging verwerp, sluit in:

  • Plaaslike en internasionale beleggingsonsekerheid wat indiensnemingsgroei verder sal stuit.
  • Die wysiging sal ʼn leemte vir nulvergoeding van alle eiendom oopmaak. Geen belegging kan in enige eiendom gemaak word as die eienaarskap van die eiendom nie vir die duur van die belegging gewaarborg kan word nie. Artikel 25 van die Grondwet soos dit is, behoorlik toegepas met markpryse as basis, kan ʼn regverdige en billike grondhervorming bewerkstellig soos vereis.
  • VL het deur sy lede die mandaat verkry om privaat eiendomsreg te beskerm. Enige vorm van voogdyskap of nasionalisering deur die staat word hewig teëgestaan. Die staat het duidelik sy onbevoegdheid bewys om grond regverdig en billik namens die burgers van Suid-Afrika te bestuur.

“Om bedrywighede op hoogs produktiewe landelike landbougrond in gevaar te stel deur voort te gaan met die voorgestelde grondwetlike wysigings, sal Suid-Afrika net verder in ʼn ernstige ekonomiese en humanitêre krisis dompel. Dit sal nie die ekonomiese vryheid vir die massas bied, soos deur politici belowe nie,” het Wilken gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Die besluite destyds deur die DeK-slimmes was soos om water op ‘n vuil vloer uit te gooi en nou weer probeer opskep: ‘n onbegonne smerige takie met die helfte reeds verdamp. Ons voed die nasie, humanitêre krisis, eiendomsreg, mooi praat, dreig of opskep lepel vir lepel, help nie met sluwes wat sedert die paradyspoort gesluit is, onder die naaste bos gaan sit en wag vir beskawings wat verbytrek, dan te woke nes vleisvretende blomme, die verlamdes omarm en stadig verteer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.