Luister: Jazzie, die staffie-hondjie, en Kietsie

fletcher-cecile-foto-verskaf.jpegFletcher is geskryf deur Cecile Schultz en word voorgelees deur Elana Barker in samewerking met Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek.

Eendag lank, lank gelede was daar ’n gestreepte bruin staffie-hondjie met wit pootjies. Haar naam was Jazzie. Sy het aan Lallie behoort. Lallie was 6 jaar oud en baie lief vir Jazzie. Sy het elke dag vir Jazzie kossies en water gegee. Jazzie het daarvan gehou om met Kietsie die wit katjie te speel. Kom ek vertel julle wat eendag met Jazzie en Kietsie katjie gebeur het.

Kietsie het nie soos Jazzie in ʼn huis gebly nie, want sy was ’n rondloperkat. Dit was vir Kietsie maklik om oor die heining te spring om by Jazzie te kuier. Jazzie het altyd vir haar van haar kossies en water gegee. Kietsie het dit vreeslik geniet om met Jazzie se speelgoed te speel, veral die oranje balletjie. Die ander honde het altyd vir Jazzie gespot omdat haar beste maatjie ʼn rondloperkat was. Jazzie was hartseer omdat hulle haar geterg het.

“Jazzie, hoekom is jy vandag so hartseer?” vra Kietsie.

“Ag my liewe ou maatjie, dis sommer niks nie,” antwoord Jazzie. Kietsie kyk stip na Jazzie en sê: “Haai, maar ek kan mos sien jy is hartseer.”

“Nou ja, as jy dan moet weet … Die ander honde in die straat spot my omdat ek met jou speel. Ek gee nie om dat hulle my spot nie, maar ek hou nie daarvan as hulle lelik met jou is nie,” sê Jazzie.

Net toe kom Lallie daar aan en sien vir Kietsie. “En wie is die mooi katjie?” vra sy vriendelik. Sy bekyk vir Kietsie en sien dat sy nie ʼn halsband met ʼn naamplaatjie om haar nekkie het nie. Kietsie is ook baie vuil. Toe besef Lallie Kietsie is ʼn straatkat. Sy tel vir Kietsie hoog in die lug op en sê: “Vandag het jy ʼn huis gekry en jou naam is Kietsie.” Jazzie bokspring van opgewondenheid. Kietsie druk haar lyfie styf teen Lallie vas en weet dit is die beste dag in haar lewe.

Maats, so het Kietsie ’n huis en ’n mens-maatjie gekry. Dit laat my dink aan ’n gedeelte in die Bybel. In Efesiërs 1 staan daar Vader God het die mens deur Jesus Christus as sy kinders aangeneem. Lallie het vir Kietsie aangeneem omdat Jazzie so lief was vir haar en toe raak Lallie ook lief vir Kietsie. Ek is so opgewonde dat Jesus dit vir mense moontlik gemaak het om kinders van Vader God te wees.

Kom ons bid saam

Dankie, Jesus, dat ek deur U ook ʼn kind van Vader God is.

Bybelvers om te onthou

Efesiërs 1:5       “In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. ”

Aksie

Gaan vertel vir iemand wat jy in Efesiërs 1 geleer het.

Nog Fletcher-stories:

Die Tassie-projek

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Helpende Hand wil met hul Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.  Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

Outeur:

Cecile Schultz is ʼn professor in menslike hulpbronbestuur aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria. Sy hou daarvan om lewensvaardighede vir haar studente asook vir die gemeenskap aan te bied. Daarom is sy betrokke by die People Upliftment Programme (POPUP) en Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino tak. Haar passie is om Vader God, Jesus en die Heilige Gees aan kinders bekend te stel asook om hulle waardetoevoegende lewenslessies te leer. Die boekie wat oor Fletcher handel, is gebore in 2008 toe haar seun, Christiaan, 9 jaar oud was en haar dogter, Cilé-Mari (bynaam Lallie), 6 jaar oud was. Cecile is al 28 jaar met Raymond Schultz getroud en hy gee haar ruimte om haar in God se koninkryk uit te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.