Groot soektog na leeuwyfie in Noordwes

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Jonathan Gensicke/Unsplash)

ʼn Grootskaalse soektog is na ʼn leeuwyfie geloods nadat sy Woensdagoggend tussen Stella en Tlakgameng in Noordwes die hasepad gekies het.

Sy en nog ʼn leeu was na ʼn wildsplaas onderweg toe sy verdwyn het.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder, sê die leeuwyfie het om 08:00 uit haar vervoerhouer op die Beesdam-pad ontsnap.

“Die eienaar het besef dat een van die leeus ontsnap het toe hy by Tlakgameng stilgehou het,” sê Botma.

Volgens Jerry Matebesi, woordvoerder van die departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, soek al die relevante belangegroepe sedert die ontsnapping onverpoos na die leeuwyfie.

“ʼn Helikopter is reeds ingespan en die soektog word Donderdag voortgesit.”

Die spanne sal die gebiede tussen Stella en Tlakgameng fynkam vir enige teken van die leeu.

Matebesi het inwoners van die gebied gemaan om nie die leeu te nader sou hulle haar gewaar nie, maar eerder die naaste polisiestasie of die departement by 018 388 1000 of 072 333 0325 te skakel.

Dit is nie die eerste keer dat leeus en ander wilde diere soos renosters en tiere uit aanhouding ontsnap nie.

Vroeër vanjaar het Sheba, ʼn tier van ʼn kleinhoewe in Walkerville, Gauteng, ontsnap. Nadat Sheba ʼn man asook verskeie wilde en troeteldiere aangeval het, was haar eienaar genoop om haar van kant te maak.

ʼn Leeuwyfie het ook in September verlede jaar uit haar skuiling in Ventersburg in die Vrystaat ontsnap, maar is eindelik sowat twee weke later opgespoor nadat sy 15 varke op ʼn plaas verskeur het.

In Augustus verlede jaar het twee witrenosters en twee leeus uit die Hluhluwe-Imfolozi Park in KwaZulu-Natal ontsnap en die gemeenskap in die gebied geteister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eugene ·

Ek stem, Sy sal honger word. Hoop Sy is nie kleurblind nie.

Patch ·

Hoop sy word nie ook doodgemaak nie en dat sy net verdoof word en geneem word waarheen sy oppad was.

Perdeby ·

Hoe ontsnap sy uit die vervoerhouer?????? Die persoon wat haar vervoer gaan seker nou niks mee gebeur nie, maar die leeu gaan uitgesit word!

Prikkie ·

En nou sal hulle seker ook doodgeskiet moet word.

Wel, aan die ander kant sou hulle bes moontlik op die leeuplaas ook “gejag” word.

Liewe leeuwyfie, maak die beste van jou vryheid!

JL ·

Ai! Die arme persoon wat verantwoordelik was vir die vervoer. Êrens gaan iemand nou gekrap of gebyt word en 10 talle vee verloor. Die “menseregte” prokureurs het alreeds ñ streep kandidate.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.