Maroela is 10: Hier’s vir jou tien geskenke, Maroela-leser!

Aptyt – jou gratis resepteboek deur Maroela Media is een van die 10 geskenke wat ons vanjaar vir elkeen van ons lesers weggee!

Op 29 Julie 2011 het ons Maroela se digitale deure wawyd oopgegooi vir die Afrikaanse gemeenskap. Die afgelope 10 jaar is ons grootste verwagtinge oortref deur elke leser wat al in ons sitkamer kom kuier het en die Maroela-gemeenskap het gegroei tot meer as 2 miljoen mense wat elke maand Maroela lees. En jy is een van hulle!

Die Afrikaanse gemeenskap is Maroela Media se hartklop en bestaansrede. Daarom het ons besluit om vanjaar, as ʼn viering van ons tiende verjaardag, tien projekte en inisiatiewe aan te pak wat iets teruggee vir die gemeenskap wat die afgelope tien jaar lojale Maroela-lesers was en is. Dié tien projekte, ons verjaardaggeskenk aan jou en ander Afrikaanssprekendes, is die volgende:

  1. Skryfnet, Maroela Media en Akademia se kreatiewe skryfskool, het vroeër vanjaar afgeskop en het reeds ʼn paar kursusse aangebied. Daar is nog groot planne: ʼn Afrikaanse liedjieskryfkursus, ʼn skryfkursus vir leerders en nog baie meer. Lees meer by skryfnet.co.za.
  2. Briekaandraai 2 is Maroela Media se jaarlikse Afrikaanse radiovervolgverhaal wat tans op sowat 30 gemeenskapsradiostasies landswyd uitgesaai word. Jy kan hier saamluister na die intriges op die plattelandse dorpie Porseleinberg.
  3. Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand het vanjaar die Bemagtig ʼn Kind-projek afgeskop. Dié projek genereer fondse waarmee daar vir behoeftige kinders geleenthede geskep word wat vir hulle ʼn brug na ʼn beter toekoms help bou, deur byvoorbeeld hul skoolfonds help betaal. As jy dié projek wil ondersteun, lees meer hier.
  4. Maroela het spesiaal vir ons lesers vanjaar ʼn resepteboek, Aptyt, saamgestel, waarin ons ons lekkerste Maroela-resepte opgeneem het. Jy kan jou elektroniese weergawe van Aptyt hier aflaai.
  5. Ons is deeglik bewus daarvan dat baie van ons lesers op die platteland en op plase woon, en dat baie van dié wat op dorpe en in stede woon, eintlik maar in hul hart graag ʼn stukkie grond iewers wil besit. Daarom het ons vanjaar Boer, Maroela se landbou-afdeling, afgeskop, waar jy alles – veral die positiewe stories – oor die boer- en landboubedryf in Suid-Afrika te wete kan kom. Lees Boer hier.
  6. Vir ons motorentoesiaste het ons vanjaar, in samewerking met Dapper Media en Forum Films, afgeskop met Perdekrag, ʼn splinternuwe motorprogram in Afrikaans. Dis heerlike kykvermaak en word aangebied deur Brendon Staniforth, Maroela Media se motorjoernalis, en Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele. Kyk die nuutste en vorige episodes van Perdekrag hier.
  7. Die Grootste Afrikaanse Grap-veldtog skop een van die dae net hier op Maroela Media af! Ons is saam met jou op soek na die snaaksste, eg Afrikaanse grap, en daar is lekker pryse op die spel. Hou Maroela Media dop vir meer inligting.
  8. WEET is ʼn splinternuwe e-naslaangids vir leerlinge. Ons werk tans hard aan dié digitale ensiklopedie wat maklik verstaanbare inligting en interessante, lekker feite sal bevat oor onderwerpe wat in die skoolkurrikulum gedek word. Dit word later vanjaar bekend gestel – hou Maroela Media dop!
  9. Omdat ons weet dat jy in jou gewigtigste oomblikke in Afrikaans dink en voel, publiseer ons jaarliks die matriekuitslae in Afrikaans op Maroela Media – en vanjaar het ons weer so gemaak. Matrikulante kon vooraf registreer, sodat hulle hul matriekuitslae net hier op Maroela, waar hulle tuis voel, in Afrikaans kon ontvang op die dag toe dit bekend gemaak is.
  10. Maroela het aan die begin van 2021 die Maroela Media-studiefonds vir Joernalistiek bekend gestel. Dié studiefonds sal jaarliks een voornemende student wat BA Kommunikasie en Joernalistiek aan Akademia wil studeer, help om hul studiedroom moontlik te maak. Marianne Pouwels, die eerste ontvanger van dié studiefonds is tans ʼn eerstejaarstudent in dié graadkursus aan Akademia.

10 dae, R100 000 se geskenke

Ons het die afgelope tien dae (vandag ingesluit) tien lekker bederfgeskenke aan Maroela-lesers weggegee, met ʼn totale waarde van R100 000. Vandag gee ons die tiende geskenk weg: ʼn vakansie vir twee ter waarde van R12 000 geborg deur Dream Hotels & Resorts – skryf nou in! Ons bedank al die borge van ons geskenke vir hulle entoesiasme en vrygewigheid: Bernina, RSAWeb, Klerekas.com, Volpes, De Afrikander Handelshuis, NB Uitgewers, Van Loveren, Spar, en Dream Hotels & Resorts.

Dankie dat jy saam met ons deel was van die afgelope tien jaar. Mag dié tien geskenke aan jou en al ons ander lesers jou herinner daaraan dat jy deel van die Maroela-suksesstorie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nicholaas ·

Wel gedaan maroela media, so kans as n volk weer bou aan ons kinders en ander kinders se toekom.

Se maar net ·

Baie geluk! Beste wense op die volgende 10 jaar en nog meer

Sanja ·

Baie geluk. Julle is soos my koffie….sonder julle en my koffie kan my dag nie rigting kry nie.
Voorspoed en Seen vir die volgende 10.

Karen ·

Dankie maar ek gaan nie my inligting gee vir julle om te verprei nie, nee! Hoekom moet daar altyd ñ “catch” wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.