Luister:  Die horlosiemaker

fletcher-cecile-foto-verskaf.jpegFletcher is geskryf deur Cecile Schultz en word voorgelees deur Elana Barker in samewerking met Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek.

Eendag lank, lank gelede was daar ʼn pragtige horlosie. Dit het behoort aan ʼn seun met die naam Luka. Hy het vreeslik baie van sy horlosie gehou, want sy ouma het dit vir hom vir sy verjaardag gegee. Elke dag het hy dit skool toe gedra om te sien hoe laat dit is.

Op ʼn dag wou die horlosie net nie meer wys hoe laat dit is nie. Luka was baie hartseer. Sy mamma het hom die middag by die skool opgelaai en wou weet hoekom hy so hartseer lyk. Hy vertel haar toe van sy horlosie wat gaan staan het en sy kry toe ʼn blink plan.

“Kom ons vat jou horlosie na die juwelierswinkel toe waar ouma dit gekoop het. Die horlosiemaker sal weet wat om te doen,” sê sy mamma opgewonde.

Luka is vuur en vlam oor die idee. “Ja!” roep hy ook opgewonde uit.

Hulle ry toe dadelik na die juwelierswinkel toe.

“Goeiemiddag, meneer,” groet Luka en sy mamma toe hulle by die winkel instap.

“O, hallo julle. Waarmee kan ek help?” vra die juwelier.

horlosiemaker-fletcher.jpg

Foto: kidadl.com

“My seun se horlosie wil nie werk nie en daarom het ons dit vir die horlosiemaker gebring,” antwoord Luka se mamma.

“Wag net hier. Ek roep gou die horlosiemaker,” antwoord die juwelier.

Daar kom toe ʼn lang oom met grys hare en ʼn bril op sy kop ingestap. “Goeiedag. Ek hoor ek kan hierdie seun vandag help,” sê hy vriendelik.

“O ja, oom, my horlosie wil nie meer werk nie. Dit het sommer net gaan staan. Kan oom dit asseblief regmaak?” vra Luka vinnig.

“Gee hier, my ou seun. Laat ek ʼn bietjie kyk,” sê die horlosiemaker en sit sy bril op sy oë om die horlosie te bekyk. Hy maak die horlosie oop en haal hy die battery uit. Toe sit hy die battery in ʼn apparaat wat Luka nie ken nie.

“Wel, my kind,” sê die horlosiemaker en glimlag, “jou horlosie se battery is pap. Ek gaan ʼn splinternuwe battery insit en dan sal jou horlosie weer soos nuut wees.”

“Sjoe, baie dankie, oom. Ek is nou baie bly!” sê Luka. Sy mamma betaal vir die battery en hulle stap vrolik by die winkel uit.

Maats, weet julle waaraan laat Luka se horlosie my nou dink? Dit laat my dink aan party mense wat ook soms pap voel. Hulle hou ook sommer op om te werk en is so pap soos die horlosie se battery. As jy so voel, moet jy na jou Maker toe gaan. Sy naam is Jesus. Vertel Hom van alles wat jou pla, almal wat jou seermaak en alles wat jy verkeerd gedoen het. Hy vergewe al jou sonde en maak jou nuut. Hy gee dan vir jou ʼn nuwe “battery” net soos die horlosiemaker in die horlosie gesit het. Die battery wat Hy in my sit, is sy Heilige Gees en sy krag. Sy Gees maak jou nuut. Hy help jou en gee jou sommer alles wat jy nodig het. Dis belangrik om Jesus in jou hart in te nooi. Al wat jy moet doen, is om vir Hom te sê dat jy ʼn sondaar is en nie sonder Hom kan lewe nie. Vra Hom om jou sondes te vergewe en nooi Hom om in jou hart te kom bly. Onthou om Hom ook te vra om die Koning van jou lewe te wees. Vra Hom dan om jou vol te maak met sy Heilige Gees.

Kom ons bid saam

Jesus, ek bely dat ek ʼn sondaar is en verlore is sonder U. Vergewe asseblief my sonde en kom woon in my hart. Wees ook die Koning van my hele lewe. Maak my vol met U Heilige Gees. Amen.

Bybelvers om te onthou

Jesaja 40:31     “… maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie”.

Aksie

Gaan vertel vir iemand van Jesus en die Heilige Gees. Ons noem dit wat jy vir mense van Jesus vertel jou getuienis. Skryf jou getuienis hier onder neer.

Nog Fletcher-stories:

Die Tassie-projek

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Helpende Hand wil met hul Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.  Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

Outeur:

Cecile Schultz is ʼn professor in menslike hulpbronbestuur aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria. Sy hou daarvan om lewensvaardighede vir haar studente asook vir die gemeenskap aan te bied. Daarom is sy betrokke by die People Upliftment Programme (POPUP) en Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino tak. Haar passie is om Vader God, Jesus en die Heilige Gees aan kinders bekend te stel asook om hulle waardetoevoegende lewenslessies te leer. Die boekie wat oor Fletcher handel, is gebore in 2008 toe haar seun, Christiaan, 9 jaar oud was en haar dogter, Cilé-Mari (bynaam Lallie), 6 jaar oud was. Cecile is al 28 jaar met Raymond Schultz getroud en hy gee haar ruimte om haar in God se koninkryk uit te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.