2022: Dié plaaslike bekendes vanjaar gegroet

Boet Troskie. (Foto: Hoërskool De Aar)

Daar is in 2022 van verskeie Suid-Afrikaanse bekendes afskeid geneem.

Die befaamde rolprentvervaardiger Boet Troskie, wat treffers soos The Gods Must Be Crazy (1980) vervaardig het, is op Oukersaand in die ouderdom van 86 jaar dood.

Die bekende radio- en televisiepersoonlikheid Jeremy Mansfield is in Oktober in die ouderdom van 59 aan kanker oorlede.

Die akteurs Eric Nobbs en Franci Swanepoel is ook in Oktober vanjaar oorlede. Nobbs is in die ouderdom van 68 jaar oorlede. Hy het in 1978 sy professionele debuut as akteur gemaak en het in talle TV-reekse en rolprente gespeel, onder andere Die Byl, Orkney Snork nie en Ma-plotters. Swanepoel is in die ouderdom van 50 in haar slaap oorlede.

Die aktrise Franci Swanepoel. (Foto: Facebook/ Adriaan Marais)

Swanepoel is veral bekend vir haar rol as Toeks Joubert in die Afrikaanse sepie Binnelanders. Sy het ook as aanbieder vir Fiësta en SABC2 gewerk.

Een van Suid-Afrika se voorste koerantmanne, historikusse en politieke denkers, dr. Leopold Scholtz, is ná ʼn jare lange stryd met leukemie dood. Scholtz is in Oktober in die ouderdom van 74 jaar in ʼn versorgingsoord in Delft, Nederland, oorlede. Nog ʼn bekende mediaman, Salie de Swardt (78), is in September skielik in Londen oorlede. Die legendariese radioman John Berks is in Junie in die ouderdom van 80 ná ʼn lang siekbed oorlede.

Die sanger en musiekregisseur Dennis East is in September in die ouderdom van 73 dood nadat hy ʼn beroerte gehad het.

Charlbi Dean Kriek vroeër vanjaar by die Cannes-rolprentfees (Photo by Valery HACHE / AFP)

Die Suid-Afrikaanse aktrise en model Charlbi Dean Kriek is op die ouderdom van 32 jaar in New York oorlede.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, is in Julie vanjaar in die ouderdom van 68 jaar oorlede.

Die voormalige kunsredakteur van die Sunday Times, Barry Ronge, is op 3 Julie in die ouderdom van 74 oorlede.

Die bekroonde akteur Jamie Bartlett, veral bekend vir sy rol as die televisieskurk Mike O’Reilly in SABC 3 se Isidingo en David Genaro in die e.tv-sepie Rhythm City, is in Mei oorlede. Hy was 55 jaar oud.

 

Mike Schüssler (Foto: economists.co.za)

Mike Schüssler, die bekende ekonoom, is in Mei aan kanker oorlede. Schüssler is sedert 2005 twee keer as Suid-Afrikaanse ekonoom van die jaar aangewys. Kanker het ook in Mei die lewe van die bekende spotprenttekenaar Fred Mouton (75) geëis.

Die sanger Adam Barnard, voormalige lid van die gewilde mansgroep Romanz, is ook in Mei vanjaar oorlede. Barnard het langer as ses jaar op ʼn nieroorplanting gewag.

Runaldo Hendricks, wat die karakter Zappa in Getroud met Rugby vertolk het, het in Mei in ʼn motorongeluk omgekom.

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Die menseregteaktivis en feminis Rhoda Kadalie is in April in die ouderdom van 68 dood. Kadalie het ten tyde van haar dood naby haar dogter in Los Angeles in die VSA gewoon en het teen kleinsellongkanker – ʼn seldsame en aggressiewe soort kanker – geveg.

Die bekende skrywer Derick van der Walt (63) is in Maart oorlede.

Robert Denton, voormalige sekretaris van die Noord-Transvaalse Rugbyunie (NTRU), is in Februarie in Pretoria oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.